Hoséa 6:1:”KOM en laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind.”
Ek is seker dat die jaar 2014 deur die oorgrote meerderheid volksgenote voorwaar as ‘n stormagtige jaar beskryf kan word. ‘n Jaar waarin storms op alle lewensterreine gewoed het en ons in vele opsigte benoud gemaak het. Juis hierdeur kon ons in retrospek weer die waarheid en toepaslikheid van God se beloftes ook in ons huidige lewensomstandighede ervaar – Jesaja 43:2:”As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.” Alhoewel die storms rondom ons hewig was, is ons egter nie daardeur oorweldig nie.
Ons moet egter nie in naïwiteit onsself verblind deur te glo dat met die oorslaan van ‘n nuwe kalenderblaadjie hierdie storms wat tans teen ons as volk woed net somaar vanself gaan bedaar nie, inteendeel. Ons bevind onsself in die midde van ‘n geestelike oorlog en kan ‘n verskerpte aanslag verwag in die nuwe jaar wat voorlê. Ons hoef egter nie paniekbevange en verskrik op die vlug te slaan of wag om vernietig te word nie, want ons weet mos dat die God wat ons aanbid – die Almagtige, Drie-Enige, Ewig-Lewende God van hemel en aarde – deurgaans in beheer is van alle omstandighede. Jesaja 43:1:”MAAR nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!” Hy het ons as Afrikanervolk ook by die naam geroep; derhalwe MOET ons Hom, en Hom alleen, vertrou met ons volk se toekoms.
Dit is bemoedigend om te merk hoe menige opreg-gesinde volksgenote weer geroepe voel om toe te tree tot die stryd vir die behoud en handhawing van ons volk. Menige volksgenote, wat met goeie leierseienskappe toegerus is, het geblyk die afgelope aantal jare van die toneel te verdwyn het. Dit is diegene wat nie verdwyn het omdat hul ons volk en die stryd vir die behoud en handhawing van ons volk versaak het nie, maar omdat elkeen in sy/haar eie smeltkroes ingelei is om gelouter en gefolter te word. Alvorens ons bruikbare instrumente in Sy Hand kan wees, moet ons gereinig, gesuiwer en gelouter word om skoongemaak te word van ons eiewaan en trots wat menigmaal in die pad van Sy eer staan. Hy versamel vir Hom arbeiders wat sal stil woord soos die Godvresende digter, G.E. Watermeyer, met die pleidooi: ”Klink my tot kruik waarin U Gees weer water vir my volk sal wees.” Ons moet bereid wees om as klei in die Hand van die Pottebakker gevorm te word tot ‘n kruik wat gevul sal wees met:
- Waarheid
- Geregtigheid
- Reg en Regverdigheid
- Liefde
- Trou
- Ware vrees vir God wat kennis van Hom sal meebring wat wysheid skenk
- Opregtheid
Uit hierdie kruike sal vloei strome van water wat ‘n volk se siel sal verkwik, maar ook riglyne sal kan bied om ons volk terug te lei na ons Koning en ons God.
Ons moet as rigtingwysers vir verdwaalde en verwarde volksgenote die rigting aanwys. Alhoewel ons volk menslikerwys sonder ‘n sigbare leier op staatkundige gebied in ons vaderland verkeer, moet ons allermins ons hoofde laat sak in moedeloosheid. Ons moet veel eerder ons knieë laat sak, ons hoofde oprig na Hom, ons ewige Leidsman, en bid om vir ons ‘n volksleier te stuur wat aan Sy vereistes voldoen. 2 Samuel 23:3&4:”Die God van Israel het gesê, die Rots van Israel het tot my gespreek: ‘n Heerser oor mense, ‘n regverdige, ‘n heerser in die vrees van God, is soos die môrelig by sonsopgang, ‘n môre sonder wolke as deur die glans ná die reën grasspruitjies uit die aarde uitkom.” Ons moet Hom vra om ons volk se oë te open om verby die “menslike standaard” van leiers te kan kyk om sodoende op God se standaard vir ons volksleier te fokus, want met die maatstaf van menslike-standaard, het ons volk al vir ons leiers gekies wat ons volk “voel-voel die donker in” mislei het. Met God se maatstaf was ons daarenteen geseën met Godvresende leiers, soos ‘n Paul Kruger, wat met nederige manlikheid teen ‘n Goliat ‘n uitklophou kon lewer met die woorde: Salisbury sê: ‘Hierdie volk mag nie meer bestaan nie!’ God sê: ’Hierdie volk sal bestaan!’ Wie is dan die sterkste? Tog sekerlik die Here.’”
Dit is vir ons as Afrikanervolk nie nodig om verder in die donker rond te tas nie. Ons weet by Wie ons heil is – by Wie dit nog altyd was, maar ons moet begin om ons weg na Hom terug te vind. Ons het elkeen die verantwoordelikheid om ons lewensligte só helder te laat skyn, sodat ons elkeen, tesame met steeds-verdwaalde volksgenote, genoegsame lig sal hê om die weg te sien wat terug lei na ons Leidsman.
As ‘n geroepe volk, die enigste Geloftevolk wat hulself en hul nageslag onlosmaaklik in trou aan Hom verbind het, moet ons in liefde en trou hierdie ongelooflike voorreg teenoor Hom uitleef. Ons moet leef om die weg te baan vir Hom van wie ons lees in Jeremia 23:6:”…DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.”, want ons is geplant, geroep en uitverkies deur Hom – om voor Sy Aangesig te wandel tot Sy eer!
