MEDIAVERKLARING
Die AVP maan F.W. de Klerk en sy hele kabinet van 1990 wat nog in die lewe is. Gedenk Sodom en Gomorra. Die aanhoudende stelling dat wat Suid Afrika nou het en is, is beter as voor 1994, met die strekking dat dit beter as tydens die apartheid era was, is geesvernietigend en dra die kiem van die ewige dood.
Dit was Lot se vrou wat omgekyk het na die brandende Sodom en Gemorra en ‘n soutpilaar geword het! As die voorblad van die Sowetan van Dinsdag die vyfde Mei 2015 met dik vet letters dit uitbassuin: Students sex Spree shock, verwys hulle na die kulminasie van die versaking van beginsel en beleid met die Godsuitdagende gesindheid wat tot die vernietiging van die twee stede en hulle algehele inhoud gelei het. Die tekens daarvan is reeds duidelik in Suid Afrika sigbaar!
Die misleiding van die Afrikanervolk deur sy leiers van destyds vir toestemming om te onderhandel vir ‘n nuwe grondwet wat weer aan die volk voorgelê sou word vir goedkeuring, wat toe nooit gebeur het nie, was die begin van die voltrekking van ‘n beplande doodsvonnis van die Afrikanervolk wat begin is direk na die sluipmoord op dr. H.F. Verwoerd onder die leiding van sy opvolger John Vorster.
Hierdie afwyking van beginsel wat die geloofsfondasie, aard en behoefte van die Afrikanervolk in sy eie vaderland beskerm het, is dermate verketter dat ‘n gelowige man soos Adriaan Vlok selfs die ongelowiges se voete gaan was het in die verwildering wat hierdie beginselafwyking op feitlik elke lewensterrein kenmerk.
God was bereid om daardie stede op die pleit van Abraham te spaar indien daar slegs vyf gehoorsame gelowiges gevind kon word. Die AVP maan vandag elke potensiële “Soutpilaar” om te staak met die pogings om deur die aanvaarding van die huidige Godlose grondwet en onderhandeling met die onwettige regime oor federalisme, samewerking, verdeling van bates, volkstate of watter ander benadering wat die soewereiniteit van die Afrikanervolk aan ongelowiges onderwerp.
By gebrek aan die erkenning dat julle fouteer het en die voortdurende pogings om die afwyking van beskawingsnorme, standaarde, Bybelse waardes, ens. te vergoeilik deur voor te gee dat verbetering haalbaar is deur gesprek en onderhandeling, bly julle dus spreekwoordelik “inwoners van Sodom en Gemorra” en loop gevaar om “soutpilare” te word.
