Media

VERBALE DIARREE!

PERSVERKLARING

altAs Verwoerd hom soos Zuma gedra het

Indien hierdie verbale diarree van Dana Snyman as joernalistiek moet deurgaan, is dit duidelik dat die Beeld koerant, saam met die nuwe Suid Afrika wat weer en nog steeds heel laaste kom in Wetenskap en Wiskunde prestasie in die Wêreld Ekonomiese Forum se beoordeling van 64 lande, in pas is met mekaar!

Wat Snyman betref is dit loshande die swakste van swak artikels wat seker ooit sy pen verlaat het. Om iemand van die statuur van dr. Verwoerd met Zuma te vergelyk en dan nog op die banale wyse waarop hy dit doen, is daar nie woorde voor nie. Dit dui egter onteenseglik op die dieper donker kant van Snyman se denkwyse wat nou die stroom van dekadensie wat tekenend van die “Democracy” geword het, in die verval navolg!

Waarom gebruik jy nie eerder die “edele” Nobel pryswenner de Klerk vir hierdie soort twak as jy niks opbouends het om te skryf nie? Jy behoort voorwaar bang te wees vir jouself as jy sulke snert kan uitdink en dan nog bereid is om dit te laat publiseer, want dit sal jou onder Afrikaners, verséker ten gronde rig en jou reputasie as die vertolker van Afrikanersentiment by uitnemendheid, in die doofput stop!

Danie Varkevisser

Leier van die Afrikaner Volksparty.

As Verwoerd hom soos Zuma gedra het

2012/11/01 09:40:11 PM

Hoe sou dit gewees het, het ek al gewonder, as John Vorster of PW Botha of selfs Hendrik Verwoerd gedoen het wat pres. Jacob Zuma al gedoen het?

 

Stel jou voor: Een van Verwoerd se dogter se vriendinne het een aand in 1957, voor Doktor eerste minister was, by hulle oorgeslaap en iewers in die aand toe begin Doktor en die vriendin speels met mekaar raak. Mev. Verwoerd is elders in die land by ’n kongres en laatnag gaan die vriendin na Doktor se slaapkamer toe. Sy glip by Doktor in die bed. Hulle het seks, daarna spring Doktor op en gaan was die sonde onder die stort van hom af.

 

Die volgende dag maak die vriendin ’n klag van verkragting teen Doktor by die polisie. Intussen marsjeer mev. Verwoerd en lede van die Vrouefederasie deur Pretoria se strate en verklaar Doktor onskuldig aan verkragting.

 

Buite die hofgebou waar Doktor verhoor word, trek duisende lede van die NP-jeug elke dag saam en sing Doktor se gunsteling-strydliedjie: “Bring my voorlaaier. O, o, b-ring my voorla-a-aier...”

 

Verwoerd word vrygespreek, maar hy erken wel hy en sy dogter se vriendin het seks gehad en daarna gestort.

 

“As jy ’n ui geskil het, was jy óók jou hande,” sê Doktor in ’n onderhoud oor Radio Suid-Afrika. “Hoekom mag ’n mens nie ná seks stort nie?”

 

Die NP-jeug wil hê Doktor moet J.G. Strijdom opvolg as eerste minister, maar Doktor het ook ander probleme: Hy het Vloog Theron, wat ook sy finan¬siële raadgewer is, as Krygkor se hoofwapenaankoper aangestel en in die onderhandelinge met ’n buitelandse wapenvervaardiger het The¬ron omkoopgeld gevra.

 

Vloog Theron word tronk toe gestuur, maar die verwante klag teen Doktor word laat vaar nadat die Buro vir Staatsveiligheid geheime bandopnames aan Doktor se regspan verskaf het.

 

Op 2 September 1958 verskyn Doktor triomfantelik saam met sy kollegas op die parlementsgebou se trappe – hy is pas verkies tot Suid-Afrika se vyfde premier. “Die NP sal tot met die wederkoms regeer,” verklaar Doktor.

 

Hy stel ’n raad of ’n kommissie van ondersoek aan vir elke probleem in die land en by sy beskeie strandhuis op Bettysbaai begin groot bouwerk.

 

Agt straatblokke word met ’n veiligheidsheining afgesper en daar word ’n ondergrondse bunker en huise gebou vir Doktor en sy bejaarde vader en sy broers en susters en sy kinders – sy 20 kinders.

 

“Elke Zoeloe en Xhosa in die land behoort sy eie Bettysbaai te hê,” sê Doktor in ’n koerantonderhoud. “Ek gaan Bettysbaai toe om daar te gaan koeksisters eet en jukskei speel.”

 

Vergoeilik ek apartheid as ek sulke dinge dink? Dalk, ja.

 

Soms word ek bang vir myself wanneer ek sulke dinge dink.

 

Eintlik wil ek net ’n president hê waarop ek trots kan wees.