RASLOUW ONDERWYS (EDMS) BPK
24 Januarie 2012
MEDIAVERKLARING
Hoërskool Raslouw se eerste matrieks het gemiddeld 72% behaal in die Cambridge International Examinations (CIE). Hulle het hierdie internasionaal gerekende eksamen in hulle tweede taal (Engels) moes aflê en geslaag – al drie met universiteitstoelating.
Hulle moes minstens vyf vakke elk skryf. Twee leerlinge het elk ses vakke geskryf en die ander leerling vyf, terwyl sy in dieselfde jaar Graad 7 Unisa musiekeksamens as haar sesde vak gedoen het.
In die sewentien vakke wat hulle in Oktober en November 2011 geskryf het is daar:
- · 5 A’s
- · 6 B’s
- · 2 C’s
- · 4 D’s
Afrikaans is op A-level behaal, terwyl die ander vakke op AS-level behaal is. Al die vakke is deel van die akademiese hoofstroom:
- · Afrikaans
- · Engels
- · Wiskunde
- · Fisika
- · Biologie
- · Rekeningkunde
- · Ekonomie
Engels is op eerste taal-vlak afgelê en die Cambridge AS-wiskunde sluit die huidige Suid-Afrikaanse derde vraestel se werk en nog meer in.
Die vakkundige vlak en relevansie van hedendaagse wetenskap en tegniek is die natuurwetenskaplike en die handelsvakke van CIE ook ‘n stewige fondament vir verdere studie en waardevol selfs sonder stringe A’s.
Die prestasie wat deur die eerste matrieks van Hoërskool Raslouw behaal is, is merkwaardig omdat hulle deur vakkundige onderwysers onderrig is wat nie voorheen spesifiek die Cambridge -leerplan aangebied het nie. Hulle het as vakkundiges genetwerk – soos dit in goeie onderwys werk – en daar is met die eksamensentrum saamgewerk vir die laboratoriumwerk.
Dit is nou bewys dat Afrikaanse vakkundiges suksesvolle onderwys kan gee aan Afrikaanse leerlinge en dat hierdie leerlinge in staat is om te presteer in die Eerste Wêreldse standaarde. Dit is nie nodig om te berus by die minderwaardige onderwys wat die staatsbestel tans in Suid-Afrika afdwing nie.
Daar is ‘n akademiese roete vir Afrikaanse leerlinge wat kompeterend wil wees en akademiese standaarde wil behou – en ten spyte van die Engelstalige eksamens, kan die onderrig vanuit eie geledere met ons eie inslag en kultuur bedryf word.
Leonard van der Dussen
Besturende Direkteur: Raslouw Onderwys (Edms) Bpk
VERDERE INLIGTING
Raslouw Onderwys (Edms) Bpk is ‘n bedryfsfiliaal van Indicato Inligtings (Edms) Bpk. Raslouw Onderwys bedryf Laerskool Raslouw en Hoërskool Raslouw in Centurion.
Die hoërskool word vanaf 2012 weer generies opgebou beginnende by die huidige Graad 7-klas, wat die begin van die junior-sekondêre fase is. Hulle kry blootstelling aan ‘n wye reeks vakke, en word in die werkswyse voorberei om van laerskool oor te gaan na hoërskool en meer intensiewe akademiese werk, soos wat die CIE se leerplan van leerlinge eis.
Die pre-primêre afdeling (vanaf 3 jaar oud) en laerskool is Afrikaans-moedertaal gebaseer met die Indicato-kurrikulum wat basiese onderwys van hoë gehalte lewer waarmee nie net die Cambridge-leerplan in die hoërskool aangepak kan word nie, maar wat leerlinge wat uiteindelik tog die staatskoolmodel of van sy vertakkinge verkies, ook voorberei: basiese onderwys bou die fondament wat die leerling nie beperk tot net een keuse nie.
Indicato beywer hom vir akademies verantwoordbare onderwys wat akademie en opleiding eerste stel en geleentheid te bied vir leerlinge wat ‘n waardevolle opleiding wil hê, verkies om meer moderne vakopleiding te geniet en hoër prestasie na te streef, terwyl die meting realistiese terugvoer gee.
Die skoolmodel is om voluit skool te wees, met akademie, sport en kultuur, en sake soos musiekopleiding, Bybel as vak en redenaars is ‘n integrale deel van die aanbieding. Die merkwaardige vrolikheid van kinders wat tegelyk besonder gedissiplineerd optree is ‘n onderwysomgewing wat buitengewoon produktief is.
Die skool dra sy leuse “skep u eie toekoms” aan sy leerlinge oor en leer hulle om self verantwoordelikheid te aanvaar. Dit het die drie matriekleerlinge deeglik gedoen en die resultaat daarvan roep ons op tot dankbaarheid.
