Media

POLITIEKE KORREKTHEID OF DIENSTIGHEID?

PERSVERKLARING

In ’n Beeld koerant van 2 Augustus 2011 plaas Neels Jackson ’n berig met die opskrif wat lui dat Christene moet doen wat hulle sê.  Dié wysheid kom van regter Eberhard Bertelsmann van wie ek nog altyd die indruk gehad het dat hy ’n goeie advokaat was.

Die artikel handel oor ’n boodskap wat regter Bertelsmann by die opening van die Sicili konferensie oor stedelike bedieninge gebring het.  Hy het volgens Jackson daarna verwys dat Suid-Afrika aan die eenkant goed lyk omdat daar ’n werkende ekonomie, ’n grondwetlike bedeling, ’n stabiele demokrasie en onafhanklike regbank is.

Ui t die berig wil dit voorkom of Bertelsmann self gelowig is as hy sê dat uitsprake nie genoeg is nie.  “Dit is ’n taak wat uitgevoer moet word, wat uitgeleef moet word in diens van God,” as hy verwys na die Christen se profetiese roeping.

 Om egter voor enige gehoor in Suid-Afrika te gaan staan en te beweer dat daar ’n werkende ekonomie, ’n grondwetlike bedeling, ’n stabiele demokrasie en onafhanklike regbank is, strook nie werklik met die volle waarheid nie. Dat daar ’n ekonomie is, ’n grondwetlike bedeling en ’n regbank, is seker waar.  Dat daar ’n demokrasie is en dan nog stabiel, ’n werkende ekonomie en onafhanklike regbank, is ’n bietjie dik vir ’n daalder, selfs al kom dit van ’n regter.  As ’n Christengelowige op só ’n selektiewe wyse met die waarheid omgaan en dan nog ander wil vermaan om uit te leef wat hulle predik, stem ek egter met hom saam dat daar rede tot kommer is!

 

Danie Varkevisser

4 Augustus 2011.