Media

ANC REGIME SE VOORNEME OM KORRUPSIE AAN BANDE TE LÊ WAS POSITIEF……

Maar, ‘n Luiperd verander nie van kolle nie en ‘n jakkals verander van haar maar nie van snaar nie. Elke voël sing tog soos hy gebek is ( elkeen handel na sy aard en volgens sy eie insigte). Gee so iemand dus die pinkie, dan vat hy die hele hand want as dit mos pap reën, moet jy skep! Om dus bloot te sê dat jy korrupsie gaan stop, is om te weet dat dit sal gebeur as die perde horings kry. Dit sal nooit gebeur nie.  Hierdie berig in die Beeldkoerant het onder die AVP se aandag gekom en is ‘n sprekende voorbeeld van ons standpunt.

OG looi Prasa oor miljarde.  Dok R17 milj. vir gratis grond op

Deur  Leanne George en Pieter-Louis Myburgh Vrydag 31 Julie 2015 05:00

 

’n Bedrag van R17 miljoen wat blykbaar uit Prasa se koffers “verdwyn” het, is maar ’n druppel aan die emmer van besteding van minstens R4 miljard waaroor daar nou vrae is.

 

 

Uit ’n voorlopige opsomming van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se geldsake in die 2014-’15-boekjaar deur die ouditeur-generaal (OG) blyk dit dié staatsbeheerde maatskappy het reeds meer as R17 miljoen opgedok vir die “huur” van ’n stuk grond vir ’n beoogde vervaardigingsaanleg sonder dat hy ’n huurkontrak kon verskaf wat dit regverdig.

 

Dit blyk uit die opsomming, waarvan Beeld ’n afskrif het, dat die OG bedenkinge het oor besteding van sowat R3,9 miljard. Dit sluit onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste uitgawes in.

 

Tog het Lucky Montana, voormalige uitvoerende groephoof van Prasa, Donderdag in ’n verklaring gesê sy beleid was “geen korrupsie nie met my aan die stuur”.

 

’n Stuk grond naby Nigel is vir die bou van die aanleg opsy gesit. Dit is deel van ’n R51 miljard-kontrak vir nuwe passasierswaens wat Prasa aan die Gibela-konsortium van die Franse vervaardiger Alstom toegeken het. Dit bepaal Gibela moet die vervaardigingsaanleg in Suid-Afrika oprig sodat die meeste van die waens plaaslik vervaardig kan word.

 

Die Ekurhuleni-metroraad het egter bevestig hy het nog nie ’n sent huurgeld van Prasa gekry nie en Prasa hoef dit in elk geval nie binnekort te betaal nie.

 

Themba Gadebe, woordvoerder van Ekurhuleni, het gesê ingevolge ’n ooreenkoms wat Prasa in Oktober 2014 met die metroraad aangegaan het, word die grond vir die fabriek vir die eerste twee jaar gratis verskaf. Dis omdat die ontwikkeling op die lang duur meer as R50 miljard werd gaan wees, “ ’n beduidende impak op die metro se ekonomiese groei gaan hê en ’n groot aantal tydelike en permanente werkgeleenthede gaan skep”.

 

Luidens ’n afskrif van ’n dokument wat die metro se eiendomsafdeling opgestel het, moet Gibela ná die eerste twee jaar R78 900 per maand (sowat ­R950 000 per jaar) daarvoor ­betaal.

 

Dit is dus nie duidelik hoekom Prasa reeds R17 miljoen vir die grond betaal het nie of waarheen die geld is nie.

 

Voorts blyk dit uit die OG se voorlopige opsomming dat Prasa in die 2014-’15-boekjaar minstens R790 miljoen onreëlmatig bestee het. Dit is 1 978% meer as die R38 mil­joen wat in die vorige boekjaar onreëlmatig bestee is.

 

Die OG teken beswaar aan omdat Prasa die sowat R620 miljoen waarmee hy van sy omstrede Afro 4000-diesellokomotiewe in Spanje gekoop het, in sy state rekenkundig verkeerd aangedui het. Die OG-opsomming wys ook Prasa het nie ’n onafhanklike entiteit aangestel om ’n wakende oog te hou oor die tenderproses waarin Gibela die R51 miljard-kontrak gekry het nie, al vereis die tesourie dit.

 

In 2013, kort nadat Gibela dié kontrak beklink het, het Montana in media-onderhoude gesê ’n ouditeursfirma wat deur Prasa aangestel is, het bevind die tenderproses was korrupsievry.

 

Sipho Sithole, Prasa se woordvoerder, het gesê hy kan nog nie kommentaar lewer nie omdat die OG-verslag vandag eers aan Prasa se raad voorgelê word. (Beklemtoning  van die AVP)