Media

DIE MENINGSVORMERS

DIE MEDIA SE ROL IN DIE ONDERWERPING VAN DIE AFRIKANER

Die media het die deurslaggewende rol gespeel in die stelselmatige ondergrawing en uiteindelike onderwerping van die Afrikaner. Eers was dit net die dagblad en die radio. Maar met die koms van televisie was die Afrikaner uitgelewer aan ‘n oormaat van afbrekende propaganda wat dag na dag die goeie naam van die Afrikaner afgebreek het. Hierdie media was gerugsteun deur baie geld; iets wat die Afrikanernasionalis nie tot sy beskikking geahd het nie.

In die biografieë van Piet Cillié en Schalk Pienaar, voormalige redakteurs van onderskeidelik Die Burger en Beeld, word duidelik gesien wat die metodes was wat anngewend was en die rol wat hierdie media gespeel het. Die boek Penvegter is geskryf deur professor JC Steyn van Bloemfontein en die werk  Voorloper is geskryf deur Alex Mouton. Alhoewel albei insiggewend is, is daar baie sake wat nie deur die skrywers aangeraak is nie en wat in die toekoms beantwoord sal moet word. Eersgemelde werk is van veel beter gehalte as laasgemelde, waar laasgemelde dan ook duidelik uit ‘n liberale oogpunt geskryf is. Uit albei is die magtige invloed van die pers baie duidelik. Baie faktore het ‘n rol gespeel om die Afrikaner se heerskappy in sy eie land te vernietig, maar niks en niemand kan met die media se rol vergelyk word nie.

 

Vreemde karakter

 

Dit is moeilik om ‘n finale gevolgtrekking oor die karakter van Piet Cillié te maak. Opvallend is dat hy gedurende sy jong dae niks met Swartes te doen gekry het nie. Dit is al meermale opgemerk dat Kapenaars anders oor die politiek sou dink indien hulle, soos die Transvalers en die Vrystaters, meer met Swartes te doene gehad het. Wat verder betekenisvol is, is die vermelding dat die Kleurlinge in Suid-Afrika tydens die Engelse Oorlog hoofsaaklik Brits-gesind was wat enige afleiding tot die teendeel, naamlik dat die bruin mense “naby” aan die Afrikaners beweeg (soos wat wel beweer word), absurd maak.

 

Die lewe van Piet Cillié steek sleg af teen die persoon wat hy so graag wou aanval, naamlik dr Verwoerd. Alhoewel hy ‘n skrander student was en  besondere intellektuele vermoëns gehad het, kan daar andersins nie veel van hom gesê word nie. Sy taalgebruik in sy omgang met kollegas en andere het veel te wense oorgelaat. Hy was ‘n harde drinker (wat by NP-kongresse tot vroegoggend gedrink het en weens sy liefde vir brandewyn die middelpunt was van baie partytjies), en ook ‘n self-erkende agnostikus. Dit is eintlik verstommend dat ‘n persoon soos hy redakteur van Die Burger kon word. Hy was nie die oudste skoene van dr DF Malan werd nie!

 

Reeds in die jare dertig en veertig van die vorige eeu het Cillié tekens getoon dat hy liberaalgesind is. Tog maak Steyn die afleiding dat Cilié se opvatting in daardie tyd oorhel na die nasionaal-sosialisme. Cillié was van mening dat die politieke party ‘n omvattende beweging moes wees wat die ganse mening van die nasie moes insluit. Met laasgemelde standpunt kan wel saamgestem kan word. Cillié was ook lid van die Ossewabrandwag, maar het sy lidmaatskap beëindig nadat die OB vir hom te ekstremisties geword het. In 1952 nog het Cillié apartheid omskryf as endersyds ‘n skeiding van die rasse volgens kleur en andersyds die aparte ontwikkeling binne elke rasgroep, maar in 1985 beskou hy apartheid as geen stelsel, ideologie of samehangende bloudruk nie, maar eerder ‘n pragmatiese en slingerende proses om ‘n nasionalistiese beweging se leiding te konsolideer en om Afrikaner selfbeskikking te vestig. Tog maak Cillié die belangrike opmerking in 1949 dat jy nie met ander groepe saamwerk en vriendelik kan wees sonder die selfrespek en die krag wat jy uit jou aparte instellings kry nie. Selfs in die vyftigerjare het Cillié nog die beleid van apartheid ten volle gesteun en beskou hy ‘n eerlike integrasiebeleid as niks anders nie as die langsame selfmoord van die Blanke nasie.

 

Die Burger was nooit ‘n ondersteuner van adv Strijdom nie en het ook geen geheim daarvan gemaak nie. Op 10 April 1956 het Die Burger wel geskryf dat integrasie die abdikasie en selfmoord is van die Blankes, iets wat Strijdom volkome eens mee was, en na Strijdom se dood het Die Burger tog voortgegaan om vir Strijdom te beskryf as ‘n Afrikaanse edelman en ‘n voorbeeld van innerlike beskawing vir alle Suid-Afrikaners en ook gestel dat Strijdom ‘n ereplek verwerf het onder die helde van Suid-Afrika.

 

Aanval op dr Verwoerd

 

Veel word vermeld oor die sogenaamde stryd tussen Cillié en dr Verwoerd. Maar dit is amper asof ‘n mens wil opmerk: “Daar word gepraat en gepraat, maar niks gesê nie”. Wat ookal Cillié en sy trawante van Verwoerd gedink het, dit bly ‘n feit dat hulle hulle vasgeloop het teen (en ook oorweldig was deur) sy vlymskerpe breinkrag. Op 11 Julie 1960 skryf Die Burger nog dat daar in gans Afrika geen greintjie van bewys te vind is dat die swart nasionalisme bereid sal wees om in dieselfde tuig met blanke volksgroepe te trek nie.

 

Kort daarna het geluide begin opklink om die Kleurlinge as deel van die Afrikanervolk te beskou. Daarin het Die Burger ’n leidende rol gespeel. Verwoerd se antwoord daarop was dat die geringste vorm van politieke integrasie sal lei tot voortdurende stryd met die verteenwoordigers van die Kleurlinge en dus al meer met die hele Kleurling gemeenskap. Steyn skryf baie duidelik vir die algemene leserspubliek as hy Verwoerd se uitspraak as die “ongelukkigste” van sy loopbaan beskou, want hy motiveer geensins waarom hierdie stelling van Verwoerd dan nou so “ongelukkig” sou wees nie. Dit was baie duidelik nie alleen waar wat Verwoerd gesê het nie, maar heeltemal in lyn met die beleid van die Nasionale Party tot op daardie stadium. Insiggewend is dan ook dat dr RE van der Ross in die Cape Times in daardie tyd geskryf het dat bruin mense nie regstreekse verteenwoordiging op die aparte lyste wil hê nie, maar op ‘n gemeenskaplike lys en ook die afskaffing van alle diskriminasie. Steyn beweer ook dat Verwoerd op ‘n stadium na bewering sou gesê het (dit wil sê, geheel en al gebaseer op hoorsê) dat hy nie van “gatlekkers” hou nie, ‘n uitlating wat Verwoerd nooit sou gemaak het nie aangesien hy in sy ganse lewe nooit so gepraat het nie.

 

Die Burger kon ten ene male nie insien hoe verteenwoordiging van die Kleurlinge sou lei tot integrasie nie, maar sal seker vandag moet toegee dat ‘n Maori of twee in ‘n All Black span op ‘n toer na Suid-Afrika wel die eerste stap was na integrasie, iets wat baie ver verwyderd is van Kleurling-verteenwoordiging in die parlement. Die “botsing” wat Cillié met Verwoerd gehad het, het Cillié ‘n “held” onder sy liberale vriende gemaak, toe “helde skaars was onder Afrikaners”. Dit is egter baie moeilik om agter te kom wat hierdie “heldedaad” van Cillié behels het, aangesien hy nie alleen sleg tweede gekom het in hierdie onderonsie met Verwoerd nie (waar dit vir Cillié slegs daaroor gegaan het om apartheid te begin afbreek), maar was dit ook baie duidelik ‘n storm in ‘n teekoppie wat opgeblaas is om aan Cillié ‘n bietjie aansien te gee. Dit wil voorkom asof hierdie nederlaag Cillié aangespoor het om van toe af die liberalistiese weë (met groter oorgawe) te bewandel. Interessant is dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling selfs onder twee Engelse spogskole, naamlik Michaelhouse in Natal en St Andrews in Bloemfontein (in die sestigerjare) aan die lig gebring het dat meer as die helfte van die senior leerlinge van daardie skole die beleid gesteun het.

 

Steyn is van mening dat Cillié werklik aanvanklik in apartheid geglo het, maar die ekonomiese realiteite in die land misgekyk het. Dit laat ‘n mens wonder oor Steyn se eie oordeel en waardering van die beleid van afsonderlike ontwikkeling. Dit is tog absurd om ekonomiese “realiteite” die voorskrif vir die politieke bestel van ‘n land te maak. Daarbenewens was die tekens (en bewyse!) in Verwoerd se tyd daar dat die beleid ook op ekonomiese gebied ‘n reuse sukses sou word.

 

Die Burger het op ‘n stadium opgemerk dat ‘n nasie wat sy selfbeskikkingsreg prysgee en hom onderwerp aan andersoortige oorheersing, hoogverraad pleeg. Dit is waarskynlik die mees betekenisvolle stelling wat die koerant ooit gemaak het en klaarblyklik die standpunt wat Cillié steeds in die vroeë sestigerjare gehandhaaf het. Die stelling het ewigheidswaarde, dog het Cillié, Die Burger en die Cape Liberal Nats na Verwoerd se dood ‘n weg begin bewandel wat duidelik voldoen het aan die definisie wat Die Burger self aan hoogverraad gegee het.

 

By Verwoerd se dood het Cillié gepraat van die meevoerende krag van Verwoerd se persoonlikheid en dat sy gesag so oorweldigend was dat inisiatief ondertoe moes ly en dat vryburgerskap verdring was deur blote volgelingskap. Dit is bewys van die feit dat Cillié nie vrede kon maak met die nederlaag wat hy teen Verwoerd gely het nie. Waar Verwoerd minstens in dieselfde kader as dr Malan en adv Strijdom val, ag Die Burger dit nie nodig om hierdie grootse staatsman in dieselfde terme as laasgemelde te beskryf nie.

 

Dr Albert Hertzog

 

Cillié het natuurlik die koms van John Vorster verwelkom aangesien Vorster ‘n “minimum van dogma” gehad het. Dit is maar net ‘n manier om te sê dat hy nie veel beginsels gehad het nie. Dit is egter hier waar die betekenis van die boek na vore kom. Cillié het, soos Schalk Pienaar, geen goeie woord vir dr Albert Hertzog gehad nie. Die rede was voor die hand liggend - dr Hertzog met sy onberispelike gedrag, konserwatiewe idees en Calvinistiese lewensuitkyk en gewoontes, was onaanvaarbaar vir die liberale lewenswêreld waarin hierdie twee skrywers hulle begeef het. Cillié het dan ook in Augustus 1968 ‘n lang ope brief aan Hertzog gerig waarin hy gestel het dat Die Burger geen drang het om teen Hertzog en sy vriende te veg nie. Hy stel egter dat dit Die Burger geen plesier sal gee om dag na dag “u [dr Hertzog se] eervolle naam” te moet afbreek nie. Daarom vra Die Burger dat Hertzog ‘n halt moet roep op die “rampspoedige pad” wat Hertzog uitgestippel het. Dit is interessant dat Cillié self die brief aan Hertzog as ‘n sluwe brief beskou het. Die betekenis daarvan is waarskynlik nog nooit behoorlik in die politiek verreken nie. Wanneer ‘n mens daarop uit is om ‘n persoon se eervolle naam dag vir dag af te breek en daar geen basis waarop dit gedoen kan word nie, is jy aangewese op bedrog. Dan moet jy jou beroep op valse voorstellings, negatiwiteit en sluwe propaganda. Dit is niks anders as ‘n oneervolle en gewetenlose wyse waarop karaktermoord teen ‘n persoon gepleeg word nie.

 

Dit is inderdaad wat Die Burger (en by name Piet Cillié) gedoen het met die persoon van dr Hertzog. Die verbasende is dat dit gedoen is na aanleiding van die bekende “Calvinistiese toespraak” van dr Hertzog in die parlement. Wanneer moeite gedoen om daardie toespraak weer te lees, sal gesien word dat Hertzog die (meerderheid) Engelse beskryf het soos wat die Engelse (by name Calpin) dit self gesien het. Hertzog het gestel dat die meerderheid van die Engelssprekendes in wese liberaalgesind is, iets wat min van hulle sal ontken. Hy was van mening dat die Afrikaner se Calvinistiese inslag die land van ondergang gered het. Dit is onverklaarbaar hoe enige nasionalis ‘n probleem met Hertzog se stellings kon hê.

 

Dit is gevolglik duidelik dat Cillié nie die moed gehad het om sy liberale neigings in die tydperk van Verwoerd openlik te verkondig nie, maar toe die geleentheid hom voorgedoen het gedurende die bewindstydperk van Vorster, het hy hom openlik teen nasionaliste opgestel. Daarvoor het hy natuurlik die steun van Vorster gehad en is die ergste karaktermoord ooit in die geskiedenis van die pers in Suid-Afrika gepleeg toe eers Hertzog en daarna ander destydse HNP-leiers waaronder veral mnr Jaap Marais stelselmatig swartgesmeer is.

 

Moord op Verwoerd

 

In 1992 was daar briefwisseling tussen mnr Jaap Marais en Piet Cillié waarin Marais gesuggereer het dat Cillié deel was van die moordkomplot teen dr Verwoerd en dat Cillié aanvanklik bloot geantwoord het dat die brief van Marais prima facie lasterlik is. Nadat Marais weer ‘n brief aan Cillié geskryf het, is geen antwoord daarop ontvang nie. Dit blyk dat die nie-gestuurde konsepbrief van Cillié wil voorgee dat Cillié nooit kennis gedra het van die berig wat destyds in die Sunday Tribune verskyn het nie, iets wat moeilik is om te glo. Enige groot koerant in Suid-Afrika sou deeglik op die hoogte gewees het met wat ander koerante sê en veral indien sy redakteur by name uitgesonder was op die voorblad daarvan! As gevolg van die feit dat daar dan ook niks daarvan gemaak is in die ondersoek na dood van dr Verwoerd daarna en daar vir ‘n tydperk van 25 jaar geen ag daarop geslaan is nie, het Cillié laasgemelde aangegryp om in hierdie brief ‘n kwade motief toe te dig aan die skrywe van Marais. Die laaste hoofstuk in hierdie sage is egter nog nie geskryf nie.

 

Die storie dat die taalklousule vir dr Albert Hertzog ‘n probleem was in die Herstigte Nasionale Party en dat dit ook die aanleidende oorsaak was van die bedanking van ‘n aantal leiersfigure in 1970, word weereens deur Steyn vermeld in hierdie boek. Dit is teleurstellend dat Steyn hierdie saak nie met leiersfigure soos mnre Jaap en Willie Marais uitgeklaar het voordat hy hierdie snert kwytgeraak het nie, aangesien die waarheid omtrent die bedanking van hierdie leiersfigure baie maklik vasgestel kon word met ‘n bietjie meer moeite deur Steyn.

 

Vorster-apostel

 

Die laaste ses tot sewe jaar van Cillié se redakteurskap is gekenmerk deur gedienstige lojaliteit teenoor die Vorster-regering. Dit kan net wees omdat Vorster die liberale rigting wat Cillié in gedagte gehad het, onderskryf het. Cillié beskou Braam Fischer as ‘n verloopte Afrikaner, iemand wat nie verder kon wegdwaal van sy volk nie. Hy noem hom ook die opperste en uiterste van ‘n tipe. Cillié was van mening dat die Bolandse Afrikaners waarvan hy hart en niere een is, ‘n soeke na regverdigheid as maatstaf gehad het en dat dit later geblyk het dat hierdie regverdigheidsideaal nie bereikbaar was via apartheid en afsonderlike ontwikkeling nie. Die vraag moet vandag aan hierdie Cape Liberal Nats gevra word of hierdie “ideaal” bereik is deur middel van die bestel wat nou op die Afrikaner afgedwing is.

 

Freek Swart het in 1990 aan Cillié gevra wat sy grootste sukses was. Sy antwoord was die toespraak van FW de Klerk van 2 Februarie 1990. Hy stel dat De Klerk dit net kon doen omdat hy (Cillié) en mense soos hy oor die hele land in daardie rigting gedink het vir jare en dat die pers se invloed op die duur getel het. (Hoef mens enigiets by te voeg?) Die pers bou volgens Cillié ‘n gesindheid en bou stadig aan veranderde houdings. Hy stel dat De Klerk gekies het tussen gewisse ondergang en waarskynlike ondergang en gekies het vir laasgemelde. Hy was dan ook van mening dat De Klerk nog met sy “trumps” sou uitkom, iets wat nie gerealiseer het nie en is dit baie duidelik dat dit die uitspraak was van ‘n persoon wat hoegenaamd nie meer enige antwoord gehad het vir die droewige toestand waarin die Afrikaner homself bevind het in die negentigerjare nie.

 

Steyn se werk oor Piet Cillié is in ‘n gemaklike skryfstyl geskryf en prikkel die aandag van die leser. Dit het egter baie tekortkominge. Dit kon baie meer gemaak het van die rol van die pers sedert die sestigerjare. Baie afleidings word vir die leser gelaat. Dit lewer min kritiek, hetsy negatief of positief oor Cillié se lewe. Baie dinge bly onbeantwoord oor die tydperk van Cillié se redakteurskap en sy doelbewuste afkraking van Afrikanernasionalisme. Dit is egter belangrike leesstof vir daardie politici wat, anders as John Vorster se mense, nie net “Westerns en Cowboy”-stories lees nie.

 

Afrikanerland?

 

Die boek oor Schalk Pienaar deur Mouton is nie van dieselfde gehalte as die boek van Steyn nie. ‘n Uitlating wat wel onmiddellik opval uit die boek oor Pienaar is die feit dat die 1948-oorwinning van die Nasionale Party deur Pienaar gesien is as dat die land, dit wil sê Suid-Afrika, weer aan die Afrikaner behoort. Waar dr Hertzog dan in 1968 in ‘n toespraak dit duidelik gestel dat die Afrikaner met sy Calvinistiese inslag die land moet regeer, is dit verstommend dat hy 20 jaar tevore klaarblyklik aangeprys sou word deur Cillié en Pienaar. In 1968 was hierdie uitlating egter taboe. Pienaar se intellektuele oneerlikheid kom na vore waar hy Hertzog hieroor verag.

Verder word gestel dat die rubriek deur Dawie in Die Burger naamlik Uit my Politieke pen ‘n deurslaggewende rol gespeel om die Afrikaner se rassehoudings te verander. Cillié en Pienaar was dan ook gekant teen “klein apartheid”,  soos hulle dit gestel het. Dit is verstommend dat mense met die intellektuele vermoëns wat hierdie twee persone gehad het, nie kon insien dat “klein apartheid”, dit wil sê die geleidelike uitskakeling van alle vorme van integrasie, nie ook uiteindelik tot gevolg sou gehad het dat die grotere doel, dit wil sê “groot apartheid”, sou sneuwel nie. Jaap Marais het so dikwels gestel dat mense se gevoel vir apartheid afgestomp sou word (deur die afskaffing van “klein apartheid”) totdat hulle later in elk geval nie kon sien waarom hulle op een vlak met Swartes kan integreer (deur byvoorbeeld op ‘n dansparty met hulle te dans), terwyl dit op ‘n ander vlak (politieke medeseggenskap) geheel en al ontoelaatbaar was nie.

 

Kaap loop voor!

 

Dit is duidelik dat Schalk Pienaar ‘n oordrewe opinie van homself gehad het en baie meer moed gehad wanneer hy ‘n paar drankies agter die blad gehad het. So het hy by een geleentheid na ‘n paar drankies belowe dat hy Verwoerd sou breek, iets wat hy natuurlik nooit kon regkry nie. Tipies Kaaps moes hy dan ook altyd met ‘n nuwigheid vorendag kom aangesien die Kaap “voor moes loop”. Dit terwyl die mense wat werklik voor geloop het in hierdie land, naamlik die Voortrekkers, juis konserwatief in hulle lewensuitkyk en nasionalisties van beginsel was. Pienaar het ook agting vir Kenneth Kaunda gehad wat veelseggend is, dit terwyl hy vir dr Hertzog as mens geminag het aangesien Pienaar lief was vir eet, drink, rook en ‘n goeie grap en (dit) nie aansluiting kon vind by Hertzog se “puriteinse karakter” nie. Pienaar het dan ook na dr Hertzog as ‘n “vreemde ou mannetjie” verwys en hom daarvoor beywer om ‘n karikatuur van Hertzog te maak.

 

Pienaar het hom ook beywer daarvoor om mense in te lig oor die dinge waarvan hulle “behoort te weet”, ‘n veelseggende uitlating aangesien dit impliseer dat die waarheid nie ‘n rol hoef te gespeel het nie. Pienaar het baie in gemeen gehad met John Vorster aangesien Vorster ook ‘n drankie, sigaret en ‘n goeie grap geniet het. Dit is duidelik dat die “pragmatiese” uitgangspunt van Vorster ook vir Pienaar aangestaan het en dat hy en Cillié dus albei nie veel erg aan beginselvaste leiers gehad het nie. Dit word gestel dat Pienaar se “oneerbiedige geestigheid” ‘n “kragtige wapen” geword het om die Hertzogiete as “dwaas, verouderd en paranoïes” voor te stel en hul geloofwaardigheid te ondermyn. Hierdie uitlating is eweneens belangrik aangesien daar gevolglik ‘n valse persepsie by mense geskep is - dit het berus op ‘n voorstelling - en nie op die waarheid nie. Dit wys op die magtige invloed wat die pers reeds in die sestigerjare in hierdie land uitgeoefen het. Pienaar se swaar rokery en drinkery het uiteindelik sy gesondheid ondermyn.

 

Ook Mouton gee in sy weergawe van Hertzog se Calvinistiese toespraak ‘n valse voorstelling van die inhoud daarvan, wat nogeens die verkeerde persepsie by lesers skep oor die toespraak van Hertzog.

 

Jaap Marais het dikwels die opmerking gemaak dat Vorster ‘n vroeë verkiesing in April 1970 aangekondig het om die HNP uit te wis. Hierdie weergawe word bevestig deur die boek van Mouton en het Die Beeld dan ook alles in die stryd gewerp en die HNP “genadeloos geteister”. Die uitslag van daardie verkiesing word dan ook gesien as sou dit die Hertzogiete “verpletter” het, iets waarin Pienaar hom verheug het.

 

Dit blyk ook dat John Vorster ‘n buitensporige vrees vir die HNP gehad het. Ook word gestel dat die HNP nie die mense van Vorster se liberalisme kon oortuig nie. Dit blyk dat dit meer as vier miljoen rand gekos het om die blad Beeld aan die gang te kry en dat die daaglikse aanvanklike uitgawes die kostes verder opgejaag het. Dit is bewys daarvan dat ‘n koerant in opposisie met Die Transvaler deur die liberaliste daargestel is om die liberale aanslag in Transvaal voort te sit. Mouton gee baie aandag aan die destydse HNP en blyk dit dat die HNP (soos hy was onder mnre Jaap en Willie Marais), anders as wat baie mense dalk besef (of wil voorgee), ‘n baie groot faktor was in die opposisiepolitiek.

 

Die boek oor Pienaar het nie veel om die lyf nie. Dit poog om ‘n swakkeling se ondermynende bedrywighede in die Afrikanerpolitiek te vergoeilik. Dit werp egter opnuut lig op die afbrekende rol wat sekere koerante gespeel het in die jare sestig en daarna om nasionalistiese Afrikaners te beïnvloed sodat daar uiteindelik oorgegaan is om die ideaal van selfbeskikking prys te gee.

 

Die rol van die pers

 

By die lees van bogemelde twee boeke word besef watter beslissende rol die pers (media) in Suid-Afrika gespeel het om die Afrikaner te mislei en te bedrieg en ‘n opinie te vorm by die Afrikaner wat vreemd aan hom was en steeds is.

 

Nou is dit so dat ‘n mens vandag ondervind dat baie mense hulle afgesluit het van die gebeure in die nuwe Suid-Afrika. Hulle kla net heeltyd. Intussen word ons geheue - ons geskiedenis - voor ons oë uitgevee.  Die helde is nou sportmanne en sangers. Dit is ‘n soort van ‘n veiligheidsklep teen die waarheid en die werklikheid wat te veel geword het om te verduur. Maar dit is en bly ‘n gerieflike illusie, ‘n illusie wat nie op die lange duur kan voortduur nie. Die skok van die werklikheid sal te groot wees vir baie om te aanvaar en te verduur.

 

Eise van die stryd

 

Die eise van die stryd word daagliks groter te midde van spanning, ekonomiese verknegting, verguising en ‘n onveilige landstoestand. Om skuiling te soek in die media se praatjies en die vermaak van televisie en sport, is om die krokodil te voer in die hoop dat hy jou laaste sal eet. Die tyd het aangebreek om die nuwe Suid-Afrika met die waarheid te konfronteer. Die waarheid dat ‘n bose aanslag teen Suid-Afrika gevoer word deur die internasionale magte van geld deur middel van die media. Hoeveel van hierdie waarheid ‘n mens kan verduur hang af van meer as net intelligensie. Dit hang af van watter greep jy op die lewe het. Dit hang af van die kwantiteit en die kwaliteit van jou geloof. ‘n Geloof in ‘n geroepenheid in Afika vereis immers meer as ‘n gekla. Dit vereis aksie.

 

Ons is uit ons erfenis gekul. Die Afrikaner het wel teoreties meerdere keuses gehad, maar die gebreinspoelde meerderheid het instinktief gekies om oor te gee en gekies om nie in daadwerklike verset te gaan teen die oorgawe nie. Om iemand te oortuig vereis dat jy ‘n persepsie by iemand skep omtrent ‘n situasie - dat die persoon deurgaans (wan)ingelig word. In die Suid-Afrikaanse pers is die publiek gebombardeer met ‘n valse beeld oor apartheid. As jou bron van inligting in die verkeerde hande is, is jy gedoem om die slaaf van daardie bron te word.

 

Wat meer as ooit besef sal moet word, is dat daar ‘n kragtige teenvoeter teen hierdie slinkse propaganda sal moet kom. Mense moet eenvoudig ingelig word oor die waarheid van apartheid en die werklikheid van die huidige benarde politieke situasie. Wanneer mense ingelig is oor die feit dat hulle uit hulle erfporsie gekul is, sal hulle tot stilstand geruk word en gedwing word om te herbesin oor die toekoms wat hulle in die gesig staar. Mense kan net in beweging gebring word indien hulle oortuig word dat die rigting wat hulle tans inslaan, ook al is dit deur hulle eie passiwiteit, verdoemend is.

 

Die boodskap van vandag is dat ons meer as ooit ons mense sal moet inlig oor die verslawing van die nuwe Suid-Afrika en die politieke vryheid wat nasionalisme in teenstelling daarmee bied. Sodat die meerderheid weer sal word wat hulle was voor die groot misleiding in die laat sestigerjare begin het.