Matt. 20:29-34:“En daar het twee blindes langs die pad gesit; en toe hulle hoor dat Jesus verbygaan,roep hulle uit en sê: Wees ons barmhartig, Here, Seun van Dawid! En die skare het hulle bestraf, dat hulle moes stilbly; maar hulle het al harder geroep en gesê: Wees ons barmhartig, Here, Seun van Dawid! Toe gaan Jesus staan en roep hulle en sê: Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen? Hulle antwoord Hom: Here, dat ons oë geopen mag word. En Jesus het innig jammer vir hulle gevoel en hulle oë aangeraak, en dadelik het hulle oë gesien, en hulle het Hom gevolg.” (:30-34). Uitsigloos met min hoop om ’n beter toekoms sit hierdie mense langs die pad. Daar is niemand wat aan hulle toestand iets kan verander nie – ten minste menslik gesproke. En dan bereik die nuus hulle ore dat Jesus by hulle verbygaan. Hulle het klaarblyk al baie van Hom gehoor. Dan weerklink hulle wekroep na Hom – Wees ons barmhartig, Here! Wat anders? Hierdie mense het niks waarop hulle hul kan beroep nie. Hulle het niks om Hom te bied nie. Hulle kan maar net hoop – hoop dat Hy hulle barmhartig sal wees. En wanneer hulle deur diegene rondom bestraf word om stil te bly, laat Christus hulle nader kom sodat Sy barmhartigheid ook in hierdie blindes se toestand na vore kan gebring word.
Daar rus op Hom geen verpligting om hulle te help nie. Hy is van niks teenoor hierdie mense afhanklik nie. Daar is nie ’n hoop dat hulle Hom op een of ander wyse vir hierdie wonderlike daad van barmhartigheid kan vergeld nie. Hy ontferm Hom oor hierdie mense omdat dit deel van Sy Wese is om barmhartig te wees, geliefdes. Hoe treffend word dit nie gestel dat Hy innig jammer vir hulle gevoel het nie. Hy het opregte medelye met hul toestand van nood gehad, geliefdes.
Hierdie kosbare eienskap van God herinner ons dan ook daaraan dat Hy nie ’n God is wat hoog verhewe en afgesonderd in die hemel sit en van ons verwag om ’n paar reëls na te kom en net te probeer om nie te sondig nie. Hy is ’n lewende God wat Hom oor ons ontferm. Hy vertaan die verwoestende impak van sonde. Hy verstaan seer en ellende. Hy verstaan swaarkry. Hy verstaan stryd. “Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.” (Heb.2:17&18).
Hy het medelye met ons as mense, geliefdes. “Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (Heb. 4:15&16). Hierdie eienskap van God se barmhartigheid word ook nie vir die eerste keer hier openbaar nie. Dit word ook nie eers tydens Christus se lewe hier op aarde aan die mens bekend nie. Die mens is al van die vroegste tyd af hiermee bekend, geliefdes. Dink maar aan God se barmhartigheid teenoor Adam en Eva. En dít nadat hulle aan Hom ongehoorsaam was in die Tuin van Eden. “En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.” (Gén. 3:21).
Daarna is daar talle mense wat van hierdie barmhartigheid van God getuig. Ons lees in Ex. 34:6&7 van Moses se getuienis. “En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE,
HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie;...”. En ook in Deut. 4:31 lees ons van Moses se getuienis in hierdie verband. “Want die HERE jou God is ’n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie.”
En Nehemía bely ook hierdie barmhartigheid van God in Neh. 9:17. “...Maar U is ’n God van vergewing, genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en U het hulle nie verlaat nie.” Geliefdes, God se weldaad aan hierdie blindes was nie maar ’n eenmalige of
uitsonderlike gebeurtenis nie. Hy ontferm Hom deurentyd oor die mens. Barmhartigheid is ’n kenmerkende eienskap van Godan barmhartig,d, geliefdes. Dit is deel van Wie Hy is. En hoe
bevoorreg is ons nie om só ’n liefdevolle en barmhartige God te mag ken en dien nie. Hy wat nie aan ons liefde, goedertierenheid, trou en barmhartigheid bewys omdat Hy op een of ander wyse van ons afhanklik is nie, maar omdat dit Sy wese is.
Mag ons as Sy kinders deur hierdie voorbeeld van Hom daaraan herinner word dat Hy ook hierdie eienskap van barmhartigheid by ons aanwesig wil vind, geliefdes. “Wees dan barmhartig, soos wat julle vader ook barmharttig gewees het.
AMEN.
