Afrikaner

HY LEEF!

BybelLuk. 24:1-12:“En toe hulle baie bevrees word en met hulle aangesigte na die aarde buig, sê die manne vir hulle: Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie,
maar Hy het opgestaan. Onthou hoe Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galiléa was:
Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense en
gekruisig word en op die derde dag opstaan.” (:5-7).
Dit is vir ons maklik om vanuit ons posisie te vra hoe hierdie mense dan by die graf na Christus gaan soek het? Hulle moes mos geweet het dat hulle Hom nie daar in die graf sou vind nie? Hy het immers vooraf dit vir hulle prontuit gestel dat Hy gekruisig sou word, maar ook dat Hy uit die dood sou opstaan. Ons is hier amper in dieselfde posisie as teenoor die volk Israel na hul uittog uit Egipte. Hier wil ons dikwels vra hoe dit moontlik is dat die volk gedurig met ongeloof in God se hulp getwyfel het, ondanks al die wonders wat hulle al aanskou het. Hoe is dit moontlik dat hulle so vinnig van Sy wonders, krag en getroue hulp kon vergeet? En dan was daar ook Petrus – hy wat daagliks saam met Christus geleef het en gesien het hoedat Hy soveel wonderwerke verrig, mense genees en selfs uit die dood opwek.
 
Maar wanneer hy op die water na Christus loop, word hy ook deur die dreigende golwe en gevaar van die watermassa oorweldig en begeef sy moed hom wanneer hy sy oë van Hom afhaal. Geliefdes, hierdie gebeure herinner ons aan dieselfde oortreding waaraan ons onsself ook so dikwels skuldig maak. Ons vier en ons bely die opstanding van onse Here Jesus Christus en dat Hy oor die mag van sonde en oor die dood triomfeer het.
 
Maar hoeveel mense is daar nie wat eenvoudig handoek ingooi in die stryd teen sonde nie? Hoeveel mense aanvaar nie eenvoudig dat die sonde in hul lewe iets is waarmee hulle maar moet vrede maak en saamleef eerder as om daarteen te stry en ten bloede toe daarteen weerstand te bied nie? Hoeveel mense aanvaar nie maar dat hul in hierdie sonde sal bly in teenstelling met die opdrag uit God se Woord nie.
 
“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;” (Heb. 12:14). En leef ons werklik as kinders en erfgename van Hom wat aan die regterhand van God sit, geliefdes? Is ons bereid om ter wille van Hom op te offer in die wete dat Hy leef en hierdie opofferings sien? Ja, as ons glo dat ons ’n waaragtige en lewende God dien, behoort ons bereid te wees om ons lewe vir Hom te offer. “EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” (Rom. 12:1&2).
 
Die realiteit rondom ons is egter veel eerder dat mense daarop ingesteld is om hulself en hul eie belang te laat geld as om gesteld te wees aan die wyse waarop ons aan God diensbaar kan wees. Daar is deesdae ’n veel groter fokus om die kort tydjie hier op aarde ten volle te geniet eerder as om dit verantwoordelik deur te bring en die tyd uit te koop om te verseker dat die lewe hierna in God se hemelse koninkryk deurgebring word. Getuig hierdie optrede van ’n ware geloof dat Hy werklik leef? Ons lees in 1 Sam. 17 van Dawid se moedige optrede teen Góliat. Sy dapper optrede het getuig van ’n man wat werklik glo dat God lééf. Daarenteen sou ’n mens seker kan sê dat Saul en sy manskappe se optrede daarvan gespreek het dat hulle onder die indruk was dat die oorwinning oor hierdie vyand van hul eie krag en vermoë sou afhang.
 
En omdat hulle dit nie in hulself kon sien nie het hulle nie kans gesien om hierdie gedugte vyand die stryd aan te sê nie. Dawid het daarenteen in die lewende God en Sy krag geglo en daarom kon hy insien dat God hierdie Fillistyn sou verslaan. “U dienaar het die leeu sowal as die beer doodgeslaan, en met hierdie onbesnede Filistyn sal dit gaan net soos met een van hulle, omdat hy die slagordes van die lewende God uitgedaag het.” (1 Sam. 17:36). Dawid se opregte geloof in die
lewende God was uit sy optrede duidelik en het nie alleen in woorde bestaan nie.
 
Dit is dalk nodig dat ons vandag ook oor ons optrede moet besin, geliefdes. Waarom is ons dikwels meer daarop gesteld om vir ons skatte hier op aarde bymekaar te maak en is ons ongeërg oor ons ewige skat in die hemel? Het Hy nie, soos vir Sy dissipels wat Hom by die graf gaan soek het, ons vooraf hieroor onderrig nie? “MOENIE vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel,
waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” (Matt. 6:19-21). Waarom raak ons só behep met allerhande vorme van verskansing en versekering asof God iewers in die toekoms nie meer vir ons daar sal wees om vir ons te voorsien nie?
 
Het Hy nie, soos vir Sy dissipels wat Hom by die graf gaan soek het, ons vooraf hieroor onderrig nie? “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” (Matt. 6:25&26). Waarom stry ons nie hard om die koninkryk van God te beërwe nie? Dink ons dat dit sommer ’n gegewe is omdat Christus iewers in die verlede aan die vloekhout
vasgeslaan is? Is dit ’n gegewe omdat ek gedoop is of iewers met my mond bely het dat ek in God glo? Is dit so maklik en onbelangrik? Het Hy nie, soos vir Sy dissipels wat Hom by die graf gaan soek het, ons vooraf hieroor onderrig nie? “Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.” (Luk. 13:24).
 
Mag ek en u Sy Woord met die nodige erns ter harte neem, geliefdes. En mag ons gereed wees wanneer elkeen van ons eendag voor Hom as die lewende God moet verskyn. Dit sal beslis gebeur, want Hy het ons ook, soos vir Sy dissipels, alreeds daarin onderrig. “Want hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om oor dode sowel as lewende te heers. Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely. So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.” (Rom. 14:9, 11&12).
Amen.