Afrikaner

ONS LOON IS IN SY HAND

Bybel1 Sam. 26:1-25:“Die HERE tog vergeld aan elkeen sy regverdigheid en sy getrouheid – die HERE het u vandag in my hand gegee, maar ek wou nie my hand teen die gesalfde van die HERE uitsteek nie.” (:23).
In hierdie gedeelte (en ook ’n paar vorige hoofstukke) word die verskillende lewensbeskouïngs van twee mense duidelik. Koning Saul is hier aan trek en opsoek na Dawid om hom te vermoor. En wat is die dryfveer agter sy optrede? Hy was nie besig om ’n opdrag van God uit te voer nie. Saul wou Dawid vermoor omdat hy ’n bedreiging vir sy koningskap ingehou het. Saul se woorde teenoor sy seun Jónatan het dit duidelik gemaak dat Saul nie die bedreiging vir sy mag doodluiters sou
aanvaar nie. “Toe ontvlam die toorn van Saul teen Jónatan, en hy sê vir hom: Jou ontaarde, wederstrewige seun, weet ek nie dat jy die seun van Ísai verkies tot jou skande en tot skande van jou moeder se naaktheid nie? Want al die dae dat die seun van Ísai op die aarde lewe, sal jy en jou koningskap nie bevestig word nie; stuur dan nou en bring hom na my, want hy moet sterwe.” (1 Sam. 20:30&31).
Dit is in die lewe van Saul nie te moeilik om vas te stel waar hy die pad byster geraak het nie. Saul was van meet-af-aan op sy eie eer gesteld en het ook maklik op sy eie krag staatgemaak. Kortom kan ons dit seker stel dat Saul te belangrik en sterk in eie oë was en hy daarom nie met ’n volkome hart op God gesteun het nie. Sy eie eer en aansien wat vir hom te belangrik was, dalk belangriker as die eer van God, was dan later ook die rede dat hy hom ernstig misgaan het. En in hierdie proses het Saul God só bedroef en vertoorn dat Hy hom as koning verwerp het.
 
“Maar Saul en die manskappe het Agag gespaar, en die beste van die kleinvee en beeste, en die
naas-bestes en die lammers en alles wat van waarde was – dit wou hulle nie met die banvloek tref nie; maar al die goed wat veragtelik en vervalle was, dit het hulle met die banvloek getref. En die woord van die HERE het tot Samuel gekom en gesê: Ek het berou gekry dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My afvallig geword en my woorde nie uitgevoer nie. ...” (1 Sam. 15:9-11). “Want wederstrewigheid is ’n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.” (1 Sam. 15:23).
 
Dit was dan ook hierna duidelik dat Saul met alle mag-en-krag aan die koningskap probeer vasklou het ten spyte van die feit dat God hom die koningskap ontneem het. Hierdie was ’n verdere bewys dat sy eie wil en eer vir hom swaarder geweeg het as om die wil van God na te streef. Ons kry dan teenoor Saul vir Dawid wat ’n nederige man was en gedurig van sy diepe afhanklikheid van God bewus was. Dit is vir ons só duidelik uit die gebeure en getuienis uit 1 Sam. 18:45&46. “Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met ’n swaard en met ’n spies en met ’n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof
van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ’n God het.
 
” En hierdie ootmoedige gesindheid van Dawid teenoor God word verder onderstreep in sy handeling teenoor Saul wanneer hy meer as een maal sy lewe spaar in ’n tydstip wanneer Saul daarop uit is om hom te vermoor. Dawid sou nie verkeerd gehandel het om homself teen Saul te verdedig nie. Maar tog weerhou hy hom daarvan om Saul enige leed aan te doen uit die diepe respek wat hy vir God koester. “En Abísai sê vir Dawid: Vandag het God u vyand in u hand
oorgelewer; laat ek hom tog nou met sy spies in een slag teen die grond vassteek sonder om dit ’n tweede keer te doen. Maar Dawid sê vir Abísai: Bring hom nie om nie, want wie slaan sy hand aan die gesalfde van die HERE en bly ongestraf?
 
Verder sê Dawid: So waar as die HERE leef, sekerlik sal die HERE hom slaan, òf sy dag sal kom dat hy sterwe, òf hy sal aftrek in die geveg en omkom! Mag die HERE my bewaar dat ek my hand aan die gesalfde van die HERE sou slaan! Maar neem nou tog die spies wat aan sy koppenent is, en die waterkruik, en laat ons weggaan.” (1 Sam. 26:8-11). Is die optrede van Dawid in hierdie saak nie bewonderingswaardig nie, geliefdes? Hy wreek hom nie alleen nie op sy vyand nie, maar laat die lot van sy eie lewe ten volle in die Hand van God en vertrou Hom om regverdig te handel.
 
Hierdie optrede beklemtoon die liefde en respek wat Dawid vir God gehad het en so ook sy lewensbeskouïng dat sy lewe nie sy eie is om net besluite te neem wat uitsluitlik tot sy eie voordeel of eer sou strek nie. Die eer van God in Dawid se besluite en optrede het vir hom duidelik swaarder as sy eie eer en voordeel geweeg.
Geliefdes, hierdie selfverloëning van Dawid was natuurlik ook vir ons as duidelike voorbeeld in die lewe van ons Verlosser, Christus Jesus, terwyl Hy hier op aarde was, gegee. En Hy het dit by meer as een geleentheid aan ons duidelik gestel dat Hy hierdie selfverloënende en ootmoedige gesindheid ook in ons lewens wil sien. “Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle ’n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook
so te doen.” (Joh. 13:13-15). Die woorde in Matt. 16:24 stel hierdie boodskap ewe duidelik. “TOE sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg.” Hierdie selfverloënende optrede wat slegs vir ’n mens moontlik is wanneer God se eer en wil vir ons belangriker is as ons eie. Dink maar aan die bekende woorde en getuienis in Getsémané waarvan ons in Matt. 26:39 lees. “En Hy het ’n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan;
nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.”
 
Geliefdes, God se krag kom duidelik uit hierdie selfverloënende optrede na vore en daarom word Hy ook daardeur verheerlik. God het nie die versoek van Christus toegestaan dat die beker van lyding by Hom verbygaan nie. En dit is deur Sy selfverloënende optrede dat Hy die smarte, pyn en leed met waardigheid gedra het en nie die wil van God teëgegaan en Sy eer skade berokken het nie. Dit was dan ook nie die krag van die Jode of Romeine wat Hom aan die vloekhout vasgehou het selfs toe Hy gesmaad en getart is met die woorde waarvan ons in Matt. 27:40-42 lees nie, maar eerder die krag van Sy selfverloënende optrede. “...U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van God is, kom af van die kruis! En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes en ouderlinge gespot en gesê: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo.”
 
Geliefdes, dit is vir ons duidelik uit die voorbeelde van Christus sowel as Dawid dat hulle optrede gespruit het uit die vaste oortuiging dat God die Vader regverdig is en dat Hy op regverdige wyse elkeen na sy handelinge sal vergeld. “Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.” (Matt. 16:27). Hierdie som behoort vir my en u ook maklik wees om te maak, naamlik dat die prys van selfverloëning dalk ’n groot prys vir enige mens is om te betaal, maar ’n baie klein prys is vergeleke met die ewige heerlikheid wat ons as loon van ons hemelse Vader deur Sy genade in
Christus ontvang.
Amen.