Afrikaner

GELOOF EN ONS TOEKOMS

BybelGén. 26:1-35 “En die HERE het aan hom verskyn en gesê: Moenie aftrek na Egipte nie; woon in die land wat Ek jou sal aanwys. Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het. En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word; omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het. So het Isak dan in Gerar gebly. Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die HERE het hom geseën.” (:2-6, 12).

 Ons het in die afgelope paar weke gesien hoe liries mense raak nadat die president van Amerika ’n paar uitlatings teenoor Suid-Afrika – en meer spesifiek die Afrikaner – gemaak het. Hierdie skielike omgee en besorgdheid uit die oord van mense wat aktief daaraan meegewerk het om ons volk in hierdie onderhorige posisie in ons land te verkry, is vir my werklik vreemd. Ek verstaan tog dat ons mense só mishandel en verniel voel en derhalwe voel ons amper gevlei dat daar iewers ’n persoon in ’n posisie van mag is wat “pro-Afrikaner” is.

Hierdie gebeure het my egter ook weer laat besef hoe vervreemd ons as volk van God geraak het. Het Hy só klein in ons volk se oë geraak dat Hy sommer maklik agter ’n mens uit ons sig verdwyn? Raak ons weliswaar meer opgewonde oor die president van Amerika se opinie en hulp jeens ons volk as hoe ons volk in God se oë lyk en ook oor die hulp van Bo? Ons kan met hierdie tipe optrede nie verwag dat God Hom oor ons sal ontferm en ons lot moet verander nie, geliefdes. “So sê die Here : Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die Here afwyk.” (Jer. 17:5).

Ek vra myself die vraag af of ons dan geen geloof in God oorgehou het nie? Dink ons nie vir een oomblik dat Hy nog in staat is om ons lot te verander nie? Meer nog, erken ons nie meer dat Hy die Beskikker is van die lot van mense en volke nie, geliefdes? Hierdie waarheid word weer vir ons onderstreep uit vandag se oordenking uit Génesis 26. Ons lees hier waar God vir Isak beveel om nie na Egipte te trek nie, maar om in die land te bly. En God beloof aan Isak dat Hy met hom sal wees en hom sal seën.

En hierop bou Isak sy lewe – op die beloftes van God. Hy probeer nie om die guns van die koning van daardie land te wen nie. Hy probeer nie om op allerhande wyse sy eie toekoms ten beste te beïnvloed nie. Isak gee aan God die eer deur Sy Woord as waarheid te aanvaar – soos wat sy vader Abraham ook gedoen het. En God bevestig dan ook Sy beloftes aan Isak deur aan hom te doen soos wat Hy beloof het. Isak het daardie jaar gesaai en honderdvoudig gewen.

Waarom - dalk omdat hy so ’n goeie boer was? Dalk omdat hy die regte stuk grond vir hom gaan uitkies het of dalk omdat die koning van die land hom so goed bygestaan het? Nee, geliefdes – omdat God Sy belofte aan hom vervul het dat Hy hom sal seën – die beloftes waarin Isak met sy hele wese geglo het en daarom het Hy in ooreenstemming met God se opdrag opgetree.

Dink u dat Isak vir homself ’n beter lewe of toekoms in Egipte sou kon uitkap as wat God vir hom daar in Gerar bewerk het? Enige mens wat dink dat hy vir homself ’n beter toekoms as God kan skep, is uiters verwaand. En dieselfde geld vir ’n volk.Geliefdes, nie Abraham of Isak was sondelose mense nie. Maar hierdie manne het in ’n goeie verhouding met God gestaan. Hierdie manne het God gehoorsaam omdat hulle God werklik vertrou het. Hierdie manne het God op Sy Woord geneem en hul toekoms in Sy Hande geplaas en Hom daarmee vertrou. Hulle het nie probeer om beheer van hul eie lewens te neem of gedink dat hulle vir hulself ’n beter lot kan bepaal as wat God dit kon doen nie – daarom dat hulle Hom met eerbied gehoorsaam was. Hul gehoorsaamheid aan Hom was ’n bevestiging van hul geloofsvertroue teenoor Hom. En om God te vertrou, is om aan Hom eerbied te bewys. Die teendeel is ook waar, naamlik om Hom nie te vertrou nie is om Hom te beledig. “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.

Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie — so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.”(Jak. 1:6-8). Geliefdes, God het by Bloedrivier bevestig dat Hy vir ons ’n God sal wees. Ons moet Hom nie vertoorn deur ons hulp in benoudheid by ander mense te gaan soek asof Hy nie in staat is om ons uit ons benoudheid te red nie. Erger nog – ons moenie dink dat ons Hom sal systap in hierdie strafgerig wat Hy oor ons as ’n volk gebring het juis omdat ons van Hom afgedwaal het agter die wêreld aan nie. So dwaas kan ’n mens nie wees en verwag dat die uiteinde daarvan nie die dood sal wees nie. God is duidelik in dit wat Hy van ons as volk verwag. Dit is dalk tyd dat ons daarmee erns maak en ons in opregtheid tot Hom wend sodat Hy weer met ons as ’n volk erns sal maak.

Ek kan u verseker dat ons toekoms in Sy Hand veel veiliger is as in ons eie hande, in die hand van die Amerikaanse president of enige ander lewende wese. “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” (Spr. 3:5&6).

Amen.