Afrikaner

WEES BARMHARTIG

BybelLuk. 6:17-49:“Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.” (:36).

Twee dinge is vir my baie duidelik uit hierdie gedeelte in Lukas 6. Die eerste is dat God van ons verwag om barmhartigheid in ons lewens te openbaar – m.a.w. barmhartigheid moet deelvorm van die kind van God se karakter. En die tweede is dat barmhartigheid ’n eienskap van God self is. Hierdie eienskap wat Hy ook in die lewe van Sy kinders wil sien, geliefdes – daarom die duidelike opdrag in Lukas 6 om Sy voorbeeld hierin na te volg. Die Woord van God maak op verskeie plekke van God se barmhartigheid melding. In Psalm 103 lees ons van koning Dawid se getuienis hiervan. “Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.” (Ps. 103:8). En dan lees ons ook in Ps. 78:38 van koning Asaf se getuienis hiervan. “Maar Hy is barmhartig, Hy versoen die ongeregtigheid en verdelg nie, dikwels wend hy sy toorn af en wek nie al sy grimmigheid op nie.” Dit was nie net konings wat hiervan getuig het nie.

Luister ook na die woorde van Daniël wat as balling na ’n vreemde land weggevoer is. “By die Here onse God is barmhartigheid en vergewing,...” (Dan. 9:9). Ons vind nog ’n getuienis hiervan in die lofsang van Maria in Luk. 1:50. “En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees.” Benewens al die getuienisse van God se barmhartigheid deur die mond van God se diensknegte, het Christus self ook hierdie saak gereeld aangeraak. In ons gelese gedeelte het Hy die opdrag prontuit gegee dat ons as God se kinders hierdie eienskap in ons lewens moet openbaar. Ons lees ook van sy onderrigting in hierdie saak in Matt. 5:7. “Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.” Daarbenewens dink ek ook aan twee gelykenisse wat Christus in hierdie verband vertel het. Die een is die baie bekende gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Hierdie gelykenis het gevolg op ’n wetgeleerde se vraag oor hoe om die ewige lewe te beërwe. Dit onderstreep vir ons die belangrikheid daarvan dat barmhartigheid deel van die karakter van God se kinders moet wees soos wat dit deel van God se eie karakter is. En weereens eindig Christus die gelykenis en gesprek met die wetgeleerde met die opdrag dat hy self ook moet gaan en barmhartigheid bewys.

“EN daar het ’n sekere wetgeleerde opgestaan wat Homversoek het deur te sê: Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Hy antwoord hom: Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy? En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself. Toe sê Hy vir hom: Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe. Maar hy wou homself regverdig, en sê vir Jesus: En wie is my naaste? En Jesus antwoord en sê: ‘n Sekere man het afgegaan van Jerusalem na Jérigo en onder rowers verval, en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom half dood lê. En bygeval het ‘n priester met daardie pad afgekom, en toe hy hom sien, gaan hy anderkant verby. En net so het ook ‘n Leviet by dié plek gekom en hom gesien en anderkant verbygegaan. Maar ‘n sekere Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy innig jammer gevoel, en na hom gegaan, sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom toe op sy eie pakdier gehelp en hom na ‘n herberg geneem en vir hom gesorg.

En toe hy die volgende môre weggaan, haal hy twee pennings uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê vir hom: Sorg vir hom, en enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom. Wie dan van hierdie drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het? En hy antwoord: Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het. Toe sê Jesus vir hom: Gaan en doen jy net so.” (Luk. 10:25-37). Die ander gelykenis in hierdie verband vind ons in Matt. 18:15-35. En in hierdie gelykenis is die sterk afkeur van God duidelik teenoor diegene wat nie self barmhartigheid aan ander bewys nie. “Daarop roep sy heer hom en sê vir hom: Jou slegte dienskneg, al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld, omdat jy my gesmeek het; moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie? En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was. So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.” (Matt. 18:32-35).

Geliefdes, die barmhartigheid van God is ook duidelik in die lewe en werke van Christus hier op aarde aan ons ten toon gestel. Dink maar by hoeveel geleenthede waar hy mense genees het en Hom oor hulle ontferm het in hul probleme en benoudheid was dit nie maar die vertrekpunt van die hulpbehoewendes nie – om hulle op Sy barmhartigheid te beroep. Die tien melaatse manne waarvan ons in Luk. 17 lees. “En hulle het hul stem verhef en gesê: Jesus, Meester, wees ons barmhartig!” (Luk. 17:13). Die blinde man van Jérigo. “Toe roep hy uit en sê: Jesus, Seun van Dawid, wees my barmhartig!” (Luk. 18:38). En die twee blindes waarvan ons in Matt. 9 lees. “EN toe Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes hom gevolg, terwyl hulle uitroep en sê: Wees ons barmhartig, Seun van Dawid!” (Matt. 9:27). En Hy het nie in onbarmhartigheid enige van hierdie mense weggewys nie.

Hy die vlekkelose en sondelose Seun van God het nie hierdie mense met minagting weggewys omdat hulle in hul sondige toestand na Hom durf kom nie. Nee, geliefdes – in barmhartigheid het Hy Hom oor hulle ontferm en aan ons die opdrag gegee om hierdie voorbeeld van Hom na te volg. Geliefdes, geestelike hoogmoed, trotsheid en verwaandheid verhinder ons om barmhartigheid te openbaar. Hierdie dinge hoort nie tuis by ’n kind van God nie net so min as wat barmhartigheid by ons afwesig moet wees. Ons behoort onsself in eerlikheid die vraag te stel – “Waarop sal ons onsself voor God kan beroep wanneer ons self ook eendag voor Sy Regterstoel moet verskyn?” Is daar werklik enige van ons wat oor iets beter beskik waarop ons onsself kan beroem as God se barmhartigheid? Ek glo dat die eerlike antwoorde op hierdie vrae ons tot die besef sal bring hóé belangrik dit is dat ons barmhartigheid sal bewys aangesien ons hierdeur opnuut sal besef hóé volkome afhanlik elkeen van ons van God se barmhartigheid is.

“Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag.” (Judas :20&21).

Amen.