Berig Dayly Investor op 2 Desember 2023
Die Noord-Gautengse hooggeregshof het beslis dat beurtkrag menseregte skend en Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, beveel om te verseker dat hospitale, klinieke, skole en polisiestasies nie geraak word nie.
Hierdie sinlose tipe van nuusberigte, soos ook bv. “Groot petrol en diesel prysverlagings” nadat die verbruiker buite sy inkomste belas is met aanhoudende verhogings, is nie net ‘n skande nie, dit is ‘n direkte vingerwysing na die veragtelike wyse waarop die media hulle betrokkenheid probeer verdoesel toe hulle almal saamgewerk het om die politieke bestel van ‘n suksesvolle, werkbare en verantwoordbare beleidsbeginsel, verander te kry na die onwettige en in die lig van die vorige grondwet, ‘n ongrondwetlike grondwet daargestel te kry! Waarom beklemtoon die media dit nie?
Soos met die uitspraak in Mei van Regter Norman Davis waarvan niks tereggekom het nie, net so is dit duidelik dat sigbaar in die uitsprake van die aangespreektes, dat daar van hierdie bevel , ook niks sal kom nie! “ Die toestand binne Eskom se bestuur laat dit net nie toe nie.
Die presidensie en geaffekteerde departemente het gesê hulle neem kennis van die uitspraak van die Pretoriase hooggeregshof. “Die presidensie bestudeer die uitspraak en sal mettertyd verdere stappe oor die aangeleentheid uitspreek,”
Die AVP se standpunt is dat daar met die Afrikanervolk in besonder, maar nou ook met almal in Suid Afrika se koppe gesmokkel word teneinde die aandag van die voorspelde onvermoë en futiliteit van magsdeling af te wentel, sodat daar voortgegaan kan word met die totale vernietiging van Suid Afrika se ekonomie en voorspelde ingryping van die “geldmag”, wat as orator tot Suid Afrika se redding moet kom, ten koste van ons volk en ons erfenis wat deur voortdurende verdeeldheid van Afrikaners, bewerkstellig word!
Hoe lank nog, Afrikaner, wil u agter die volksverdelers aanstrompel wat onhaalbare vooruitsigte aan u voorhou? Wanneer wil u terugkeer na die enigste suksesvolle beleid wat ons volk tot die hoogtes soos in dr. Verwoerd se tyd gevoer het? Glo u soos Bennie van ZYL van TLU-faam wat by geleentheid vir my gesê het, “ Oom Danie, op die ou end sal net jy en jou beginsel oorbly” Hoe lyk ons land nou deur die afwyking van daardie beginsel wat die Bennie van Zyl’s en die media probeer wegsteek agter hulle selektiewe beriggewing en aanpassings om politiek korrek te wees? Quo Vadis Afrikaner?
Die Noord-Gautengse hooggeregshof het beslis dat beurtkrag menseregte skend en Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, beveel om te verseker dat hospitale, klinieke, skole en polisiestasies nie geraak word nie.
Dit het gevolg op 'n soortgelyke uitspraak in Mei, waar dieselfde hof beslis het dat hospitale, klinieke, staatskole en polisiestasies nie aan beurtkrag onderworpe moet wees nie.
Regter Norman Davis het in sy uitspraak die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, beveel om binne 60 dae “alle redelike stappe te doen” om te verseker dat dié fasiliteite nie kragonderbrekings verduur nie.
Die uitspraak het gesê dat die staat sy grondwetlike en statutêre pligte versuim het om burgers se regte op gesondheidsorg, sekuriteit en onderwys te verseker.
Die saak is deur 19 aansoekers teen Eskom, president Cyril Ramaphosa en ander aanhangig gemaak om beurtkrag ongrondwetlik te verklaar.
Die aansoekers sluit in die UDM, Action SA, die IVP, BOSA, die National Union of Metalworkers of South Africa en die South African Federation of Trade Unions (Saftu).
Afgesien van wydverspreide beurtkrag-vrystellings, wil hulle hê dat die president, ministers en die Suid-Afrikaanse regering verantwoordelik gehou moet word vir beurtkrag en die impak daarvan op die samelewing.
Gordhan het egter dringend appèl aangeteken om die uitspraak tersyde te stel.
Gordhan het gesê sy departement het ernstige kommer oor die implikasies van die hofuitspraak oor die huidige pogings om die nasionale netwerk te stabiliseer en die land uit beurtkrag te kry.
“Die uitspraak sal onbedoelde gevolge hê en die pogings ondermyn om die beskerming van die regte wat in hierdie saak geventileer is, te balanseer met die behoefte om ons netwerkinfrastruktuur te stabiliseer en te beskerm,” het hy gesê.
Regter Norman Davis het egter in die onlangse uitspraak gesê die vorige bevel in Mei was “regverdig en billik”.
BOSA het die uitspraak verwelkom en dit 'n monumentale oorwinning genoem vir Suid-Afrikaners wat daagliks swaarkry weens aanhoudende kragonderbrekings.
“Ons sal die verwikkelinge van hierdie plig wat op die regering geplaas word, dophou en sal geen steen onaangeroer laat om te verseker dat die uitspraak eerbiedig word nie,” het die party gesê.
Dit het bygevoeg dat uitrollende verduistering die ekonomie miljarde kos en dat die regbank in die mense se beste belang opgetree het en hierdie regering tot verantwoording geroep het.
Die presidensie en geaffekteerde departemente het gesê hulle neem kennis van die uitspraak van die Pretoriase hooggeregshof.
“Die presidensie bestudeer die uitspraak en sal mettertyd verdere stappe oor die aangeleentheid uitspreek,” lui die verklaring.
