Háb. 3:1-19: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil. Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. ...” (:17-19). Ons weet dat Job saam met die profeet Hábakuk met reg kon sê dat hulle hoop in die lewe op die HERE was. Hulle het nie hul hoop op verganklike dinge, rykdom of voorspoed gestel nie, maar op die HERE.
Ja, nadat Job al sy besittings en bykans ook al sy geliefdes verloor het, het Hy steeds op die HERE gehoop. “Toe staan Job op en skeur sy mantel, en hy het sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval en gesê: Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd! By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie.” (Job. 1:20-22). Job het die HERE nie aanbid vir wat Hy vir hom kon doen nie, maar vir Wie Hy is. Daarvan getuig sy optrede waarvan ons in Job 2:9&10 lees. “Toe sê sy vrou vir hom: Volhard jy nog in jou vroomheid? Seën God, en sterf!
Maar hy antwoord haar: Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie.” Dit is dan ook koning Dawid wat weer saam met die profeet Hábakuk met reg kon sê dat hulle in die lewe hul krag in Hom gevind het. Ja, hulle het nie in verganklike dinge, rykdom, eie insig of in ander mense hul krag gevind nie. Hulle het geweet waar hul hulp en krag vandaan kom. Luister na die pragtige getuienis van Dawid in Ps. 18:33&34. “God is dit wat my met krag omgord en my weg volkome maak. Hy maak my voete soos dié van herte en laat my staan op my hoogtes.” En Dawid het nie met leë woorde hierdie getuienis gelewer nie. Dink maar hoedat hy met hierdie vaste vertroue in God die reus Góliat trompop geloop het. “Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met ‘n swaard en met ‘n spies en met ‘n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, ...” (1 Sam. 17:45&46).
Hierdie mooi voorbeelde uit die Woord van die HERE behoort ook vir my en u oor hierdie sake te laat besin, geliefdes. Soek en vind ons nog ons blydskap in die HERE? Wanneer ons na die samelewing in die algemeen kyk, weet ons dat dit nie die geval vir die breë samelewing is nie. Daar is ten eerste ‘n groot gedeelte van die samelewing wat nie weet wat blydskap is nie omdat hulle met onvergenoegdheid en afguns in hul lewens oorweldig is. En dan is daar ‘n ewe groot gedeelte in die samelewing wat hul blydskap gedurig in aardse en verganklike dinge soek. Laasgenoemde verduidelik dan ook waarom die “kerke” met ‘n voorspoedsteologie so gewild is – mense gaan daarheen om hul blydskap te soek in “dit wat God vir hulle sal doen” eerder as om Hom in waarheid te leer ken en te verheerlik vir Wie Hy is.
Ons sien ook ‘n soortgelyke verskynsel in dit waarin mense hul vertroue stel, geliefdes. Die malle gejaag na geld en mag, omdat die mens dink dat hy ‘n op ‘n punt genoeg geld en mag kan bekom om homself in enige situasie te kan help. En wanneer ons weer sien, het ons verleer om in waarheid, soos klein, afhanklike kinders, ons oë en harte op die HERE gerig te hou. En vertroue is nie iets wat ons soos ‘n skakelaar kan aanskakel en afskakel nie, geliefdes. Dit is iets wat ons moeisaam leer of dan ook ongelukkig verleer. Ek groet u dan vandag met die baie gepaste loflied van Moses uit Exodus 15:2. En mag hierdie pragtige getuienis ons ook gedurig daarin herinner om, volgens die voorbeeld van ons geloofshelde, ons blydskap en krag in Hom te soek. “Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef.”
Amen.
