As jy luister wat regeerders op televisie te sê het, suig dit elke kriesel suurstof uit jou sitkamer. Jy kry die gevoel van ‘n menslike dieretuin. ‘n Aaklige gevoel van jammerte en pyn oorval jou. Projekdiewe, leunvertellers en duiwels par excellance.
As jy ontsteld genoeg is en probeer kontak maak met hulle kantoor, vind jy uit dat dit eintlik beset is met spoke. Nooit op kantoor nie.
Altyd iewers op vergadering of nuwe kommissie van ondersoek om te verhoed dat die skuldiges toegesluit moet word en desnoods om ‘n omkoopgeldjie te genereer. As onverfynde individu het hulle geen begrip van die skeidslyn tussen aanvaarbare gedrag en geestelike vrot nie. Die soort argetipe wat bosberade hou weg van die publiek, sodat hulle die ademing van die vrot kan vermy. Kultureel onontwikkeld bedeeld en ‘n vrot etos om daarmee saam te gaan.
Ek het tot die slotsom gekom daar bestaan ‘n spesiale spesie in die post moderne era. (Die regeerders). Dit sluit kop, lyf en louere in. Spreekwoordelik deel hulle weerluise, lindwurm, dermspoelwurm en mensvlooi met die varkspesie. Ontstellend is dat 80% van dié spesie is parasiete. Predatore of parasite, jyself kan die beskrywing kies. Ek en jy is vandag hul gedienstigde slawe. Ons is deurentyd op hul spyskaart. Dit wil voorkom of hierdie parasitiese peste die stemgeregtiges se breinselle benewel het, in so ‘n mate dat hulle berus het in onreg.
Hul goggas is besig om ons op te vreet. Die oordrag van toksoplasmose veroorsaak skisofrenie, altzheimers, bipolêre steuring, depressie, epilepsie, dwelmdenke en obsessief-kompulsiewe gedrag, so wees gewaarsku. Hoe op aarde stel mens dit nou reg, gegewe dat die menslike balans nou so versteurd is. As jy dink dat dit sleg gaan, troos jouself daaraan dat dit nog slegter sal gaan binne die politieke bestel. Die son kan nie in die dieptes van die grotte skyn nie. Die regeerders se aanname is, jy is nog vis nog vlees. Hulle sal die musiek skryf, en jy sal dans.
Wat u gelees het is seker maar my eie verbeeldingsvlug, of is daar dalk ‘n waarheid daar diep binne verskuil wat die sentiment roer tot opstand, weerstand en veral afstand?
KLAAS WAARSEGGER
