Afrikaner

GOED IS DIE HERE VIR DIE WAT HOM SOEK

BybelKlaagl. 3:1-66 “Tet. Goed is die Here vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek.” (:25). Die getuienis van die profeet Jeremia in Klaagliedere 3:25 word ook vir ons elders in God se Woord bevestig. Dit is die profeet Esra wat dan ook as volg getuig het. “…Die hand van onse God is ten goede oor almal wat Hom soek, maar sy krag en sy toorn oor almal wat Hom verlaat.” (:22). Ons vind dan ook hierdie opdrag om die HERE te soek op verskeie plekke in God se Woord.

Luister na die woorde uit 1 Kron. 22:19. “Rig nou julle hart en julle siel daarop om die HERE julle God te soek, …”. Dit is derhalwe ‘n belangrike saak wat ons nie net agterweë moet laat nie, geliefdes. Maar tog is dit iets wat myns insiens in die meeste van ons volksgenote se lewens nie ‘n prioriteit geniet nie. Ek kan aan baie mense dink wat kerkdienste van een of ander aard bywoon. En ek kan aan baie mense dink wat van Jesus praat en derhalwe van Hom weet. Maar ek kan aan weinig mense dink wat in hul lewens besig is om die HERE te soek.

Ons kan dan seker vra of iemand wat na ‘n kerk toe gaan nie besig is om God te soek nie? Dit is moontlik, geliefdes. Maar dit is nie noodwendig so nie. En kom ons begin deur die volgende vraag te stel – “Waar sal ons God vind?” God openbaar Homself aan ons deur Jesus Christus. “NADAT God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.” (Heb.1:2). En ons weet dat Jesus Christus die Woord van God is. “IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.” (Joh. 1-3).

Die antwoord is dus duidelik. Ons sal Hom in Sy Woord vind. Indien u dus opgaan na ‘n gemeente waar die Woord van God in waarheid verkondig en verdedig word, is dit waarskynlik dat u daar besig is om na Hom te soek. Maar indien u opgaan na ‘n gemeente waar daar gedurig een of ander nuwe vertaalde of verdraaide “Bybel” gebruik word om by die “veranderde omstandighede” aan te pas en polities korrek te probeer wees, is u beslis nie besig om God te soek nie. Ons moet dalk die volgende vraag ook stel – “Wat beteken dit om God te soek?” Is dit nie om na Hom te vra om te probeer vasstel wat dit is wat Hy as reg en verkeerd bestempel nie?

En om dan met ywer te probeer om hiervolgens te leef, want sodoende sal ek naby aan Hom wees. Ons sien hierdie voorbeeld uit die lewe van die kinders van Israel wat uit die ballingskap teruggekeer het, geliefdes. Hulle het hulself van die onreindheid van die nasies van die lande afgesonder. Hulle het hulself m.a.w. van die heidense gewoontes en lewenswyse rondom hulle verskoon. En terselfdertyd hulself daarop toegespits om volgens die verordeninge van God te probeer leef. “En die kinders van Israel wat uit die ballingskap teruggekeer het, het dit geëet en elkeen wat hom van die onreinheid van die nasies van die land afgesonder het om saam met hulle die Here, die God van Israel, te soek.” (Esra 6:21). Die hartseer waarheid in die huishouding van ons volk is dat die meerderheid kerke in ons tyd dit nie vir mense maklik maak om God te soek nie. In plaas daarvan dat die onfeilbare waarheid van God se Woord verdedig en verkondig word, word daar by elke geleentheid gesoek om ‘n nuwe “vertaling” by te sleep wat dalk meer polities korrek sal wees. ‘n Mens sit en kyk in verslaentheid hoedat Christus gewoon in sommige “kerke” geminag word.

Die vrou word in die amp toegelaat, nieteenstaande dat God dit uitdruklik in Sy Woord verbied. “Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê. Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is lelik vir vroue om in die gemeente te spreek. Of het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom? As iemand meen dat hy 'n profeet of 'n geestelike mens is, moet hy erken dat wat ek aan julle skrywe, bevele van die Here is.” (1 Kor. 14:34-37). Homoseksualiteit word verdedig eerder as om dit as sonde te veroordeel. Dit nieteenstaande die duidelike standpunt daaroor in God se Woord. “Met 'n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos 'n mens met 'n vrou het nie. Dit is 'n gruwel.” (Lev. 18:22). Hierdie is maar net enkele voorbeelde, maar dit is tog hieruit duidelik dat in soveel gevalle word die sonde verdedig en die Woord van God veroordeel eerder as vice versa soos wat dit veronderstel is om te wees. Kan ons ‘n plek waar dit só gaan werklik ‘n kerk noem, geliefdes? Is die Christelike kerk nie veronderstel om sondaars tot sonde besef te bring eerder as om die sonde goed te praat of op een of ander wyse te probeer regverdig nie? Is die Christelike kerk nie ‘n plek waarheen mense moet gaan om God te vind nie? Maar nou is dit ‘n plek waar hulle eerder verder van Hom af is wanneer hulle weggaan aangesien hulle met ‘n skewe beeld van Hom daar weggaan?

Ons moet wel besef dat die moedswillige en onverskillige dwalinge van soveel kerke ons nie van hierdie verantwoordelikheid wat ons in God se Woord opgelê word, onthef nie. Die HERE stel dit uitdruklik in Sef. 1:4-6 dat Sy oordeel en straf nie sal wegbly oor diegene wat van Hom afvallig raak en Hom nie soek nie. “En Ek sal my hand uitstrek teen Juda en teen al die inwoners van Jerusalem; Ek sal ook uit hierdie plek uitroei wat van Baäl oorgebly het, die naam van die afgodsdienaars saam met die priesters; en die wat op die dakke die leër van die hemel aanbid; en die aanbidders wat by die Here sweer en sweer by Milkom. Ook die wat van die Here afvallig word en wat die Here nie soek en Hom nie raadpleeg nie.” Dit laat ons inteendeel besef dat ons met groter erns en met groter verantwoordelikheid God se Woord moet bestudeer en na Hom in Sy Woord moet soek.

Alhoewel baie van die hedendaagse kerke nie in hierdie saak mense bystaan of aanmoedig om God te soek nie sal ons nie al die skuld van ons geestelike verval oor die boeg hiervan kan hang nie, geliefdes. Ons sal God nie alleen in die kerk vind nie. Maar ons sal Hom wel alleen in Sy Woord vind. Baie van ons is daaraan skuldig dat ons onsself met soveel dinge besig hou dat daar weinig tyd in ons lewens oorbly om God te soek. En dit is nie die kerk se skuld nie. Dit is nie die kerk se versuim nie. Dit is ons eie. En hiervoor is ons self verantwoordelik. Ons het die verantwoordelikheid, ons moet dit nakom. Ons het die tyd, ons moet dit reg aanwend. Ons het die Woord ons moet dit waardeer en God ywerig hierin soek! “Want so sê die Here aan die huis van Israel: Soek My, dan sal julle lewe!” (Amos 5:4). 

Amen.