1 Kon. 20:38-42 “Toe vertrek die profeet en gaan die koning op die pad voorstaan; daarby maak hy homself onkenbaar met 'n verband oor sy oë. En terwyl die koning verbygaan, roep hy na die koning en sê: U dienaar het uitgetrek in die geveg; en daar kom iemand eenkant toe en bring 'n man na my en sê: Bewaak hierdie man; as hy ooit gemis word, sal jou lewe in die plek van sy lewe wees, of jy sal 'n talent silwer moet betaal. Maar onderwyl u dienaar hier en daar besig was, het hy verdwyn. Toe sê die koning van Israel vir hom: So is jou vonnis: jy het dit self bepaal. Daarop neem hy gou die verband van sy oë af weg en die koning van Israel herken hom, dat hy een van die profete was. En hy sê vir hom: So spreek die Here: Omdat jy die man wat deur my banvloek getref was, uit die hand laat gaan het, daarom sal jou siel in die plek van sy siel en jou volk in die plek van sy volk wees. En die koning van Israel het na sy huis getrek, verbitterd en toornig, en hy het in Samaría aangekom.”
Ons sien in die gelese gedeelte hoedat die profeet aan die koning van Israel ‘n situasie voorhou waaroor hy ‘n oordeel moet fel. En die koning hoef nie baie lank oor hierdie saak te dink alvorens hy ‘n vonnis uitspreek nie. Dit situasie is vir hom redelik duidelik en derhalwe is dit vir hom maklik om die oortreding raak te sien en uit te wys. Maar tog laat hierdie saak wat hom voorgehou word hom nie vir een oomblik aan sy eie oortreding en skuld dink nie. Ironies genoeg was dit ook presies die rede waarom die profeet hierdie saak aan hom voorgehou het – om sy eie oortreding vir hom uit te wys. Die koning kom egter eers tot hierdie besef van sy oortreding wanneer die profeet dit aan hom uitwys.
Ons lees natuurlik van ‘n soortgelyke situasie in 2 Samuel 12. Hier word die profeet Natan deur die HERE na koning Dawid gestuur om sy sonde van owerspel en moord aan hom uit te wys. Die profeet Natan gebruik dieselfde metode as die profeet wat na die koning gestuur is waarvan ons in 1 Kon. 20 lees. Hy lê ook ‘n saak aan die koning voor en vra dat hy daaroor sal oordeel. En dit is vir koning Dawid ook nie moeilik om die oortreding in die saak wat deur die profeet aan hom voorgehou word raak te sien nie. Hy talm verder nie om ‘n swaar oordeel oor die oortreder uit te spreek nie. “En Dawid het baie kwaad geword vir die man en aan Natan gesê: So waar as die Here leef, die man wat dit gedoen het, moet sterwe! En die ooilam moet hy viervoudig teruggee, omdat hy hierdie ding gedoen het en geen ontferming geken het nie.” (2 Sam. 12:5&6). Maar ook Dawid sien nie in hierdie situasie sy eie skuld en oortreding raak nie. Dit is eers wanneer die profeet Natan dit aan hom uitwys dat hy tot skuldbesef kom.
Daar was egter ook ‘n verskil in die situasies van die twee konings wat albei oortree en deur boodskappers van die HERE op bykans identiese wyse op hul oortredinge gewys is. Die verskil tussen koning Dawid en Agab in die twee situasies lê daarin dat koning Dawid berou gekry het oor sy oortredinge toe hy tot skuldbesef gekom het. Koning Agab het hom daarenteen vir die profeet vererg. En daarom was daar vir Dawid vergifnis vir sy oortredinge terwyl dit nie vir Agab die geval was nie. Ja, Christus wys ook vir ons die gevaar daarvan uit wanneer ‘n mens te selfvoldaan en trots is om sy eie oortredinge raak te sien, maar ook die barmhartigheid wat ‘n mens ontvang wanneer ons ons oortredinge raaksien, erken en bely. “En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie — rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig! Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.” (Luk. 18:11-14).
Geliefdes, ek en u is nie anders as koning Agab en koning Dawid nie. Ons is ook maar geneig daartoe om baie maklik ander se oortredinge en sonde raak te sien, maar heeltemal by onvermoë om ons eie sonde en oortredinge raak te sien. Christus Jesus getuig ook hiervan in Luk. 6:41. “En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk wat in jou eie oog is, merk jy nie op nie?” Dit is egter belangrik dat ons daarop moet let wat Christus hierna sê – “Of hoe kan jy vir jou broeder sê: Broeder, laat my toe om die splinter wat in jou oog is, uit te haal, terwyl jy self die balk wat in jou oog is, nie sien nie? Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter wat in jou broeder se oog is, uit te haal.” (Luk. 6:42). Moenie agteroor sit met die balk in jou eie oog nie. Maak werk daarvan om dit wat verkeerd is in jou eie lewe met groter ywer aan te spreek sodat jy beter toegerus kan wees om ook jou naaste by te staan om ontslae te raak van dit wat vir hulle skade berokken. Hierdie woorde plaas ‘n verantwoordelikheid op ons om deeglike selfondersoek te doen en ons eie oortredinge te erken en met erns aan te spreek eerder as dat dit ons onthef van alle verantwoordelikheid soos wat menige dwaalleeraars wil voorhou met hulle verderflike “jy mag nie oordeel teologie” wat mense in die gehoor streel en losbandigheid en goddeloosheid bevorder. Sou die profete wat na Dawid en Agab gestuur was dan sonde gedoen het om hierdie manne te gaan aanspreek (volgens dwaalleer te gaan “oordeel”) of het hulle in ooreenstemming met God se wil hierdie manne gaan vermaan om hul tot skuldbesef te bring? Die rede waarom dwalleeraars hierdie kettery verkondig is natuurlik duidelik uit Romeine 2 omdat hulle ook self nie wil hul eie oortredinge raaksien, erken, bely en laat staan nie. “jy dan, wat 'n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat 'n mens nie mag steel nie, steel jy? Jy wat sê dat 'n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel? Jy wat 'n afsku van die afgode het, pleeg jy tempelroof? (Rom. 2:21&22).
Geliefdes, die HERE plaas ‘n verantwoordelikheid op ons om mekaar uit liefde te vermaan. “Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.” (Heb. 3:13). Hierdie verantwoordelikheid om my naaste te vermaan lê my egter terselfdertyd die plig op om my eie lewe te ondersoek om seker te maak dat ek self nie skuldig staan aan daardie dinge waaroor ek my naaste aanspreek nie. Wanneer ons hierdie verantwoordelikhede met die nodige erns opneem, sal ons langs die weg van heiligmaking vordering maak. En daar is natuurlik ‘n verskil tussen heiligmaking en oordeel. ‘n Selfvoldane oordeel oor ‘n ander vanuit ‘n selfverhewe en trotse posisie is vir God verwerplik in ‘n mens. Maar ‘n nederige, opregte en liefdevolle vermaning spreek van omgee en liefde en is heeltemal in lyn met God se wil en Woord.
Mag ons deur die Woord en Heilige Gees gelei word om die balk in ons eie oog raak te sien. En mag die liefde van God in ons harte ons daartoe dring om hierdie balk uit ons eie oog te haal sodat ons daartoe in staat kan wees om ander te help om die splinter uit hul oog te haal. “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Heb. 10:24&25).
Amen.
