1 Kor. 3:9-23
“Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;” “ maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.” (:21&23).
Die Woord van die Here herinner ons in hierdie gelese gedeelte om nie op mense te roem nie, geliefdes. Wanneer ons in mense roem, vergeet ons die afhanklikheid en ootmoedigheid voor God. Ja, Paulus vermaan die Korinthiërs meer as een maal oor die verkeerdheid van hierdie roem. “Julle roem is nie mooi nie. ...” (1 Kor. 5:6). En so word ons ook deur die mond van Jakobus hieroor aangespreek. “Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd.” (Jak. 4:16).
Ons samelewing is ongelukkig oor die afgelope paar dekades diep met hierdie kanker besmet, geliefdes. Ja, sportsterre, akteurs, politici en ander mense is in die media só verhef dat mense hulle feitlik verafgod. Dit het die mens daaraan gewoord gemaak om ‘n mens tot ‘n ongesonde vlak te verhef. En daarmee saam is die humanistiese smet oor mense uitgestort. Ja, hierdie kettery wat selfs in Afrikaanse kerke met ywer verkondig word en die mens leer om homself tot sy eie god te verhef. Dit laat die mens van sy ootmoedigheid en onderdanigheid voor God vergeet. Dit leer die mens dat hy aan homself behoort en na willekeur kan handel. Die bevrediging van sy eie begeertes geniet volgens hierdie dwaling ‘n groter prioriteit as gehoorsaamheid aan God.
Ons moet as kinders van God daarteen waak om nie ook soos die wêreld hieraan gewoond te raak nie, geliefdes. Die Woord van die Here leer vir ons dat ons nie aan onsself behoort nie, maar dat ons die eiendom van Christus is. Ons kan dus nie na willekeur in hierdie lewe optree nie. Ons is anders as die wêreld. Ons is in hierdie wêreld, maar nie deel daarvan nie. Ons is heilig, dit is – afgesonderd, vir onse God. Hy het ons met Sy kosbare bloed as Sy eiendom gekoop. En daarom behoort ons nie aan onsself nie. Ja, daarom kan ons nie doen net wat ons wil nie, maar behoort ons daarna te streef om in alles ons God se wil te volbring. Ons behoort nie in ons lewe ons eie roem te soek nie, maar daarna te streef om God in alles wat ons doen te verheerlik. “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” (1 Kor. 6:20).
Die meeste van u is bes moontlik met die teorie van hierdie prediking nie onbekend nie. Maar is dit wat ons in teorie glo, dit wat ons met die mond uitspreek, ook in die praktyk deur ons optrede sigbaar, geliefdes? Geloof wat alleen in woorde bestaan, is nie ‘n lewende geloof nie. “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.” (Jak. 2:17). Ons jongmense vra nie na ‘n beroep waarin hulle God kan verheerlik met die gawes wat Hy aan ons skenk en aan hul naaste diensbaar kan wees nie. Nee, die beroepe wat gekies word, is gewoonlik dit wat finansieël baie aanloklik lyk en daar waarin bes moontlik groot roem vir die mens opgesluit is. Die mens vandag sal God veel eerder met sy mond oneer aandoen deur die foute van ander uit te wys en selfs te beswadder as wat die mens God probeer verheerlik deur in sy eie lewe na sy eie terkortkominge en sondes te soek en dit voor God te bely en te laat staan. Ja, wanneer ek ‘n ander mens se foute uitwys, lyk ek self darem mos ‘n bietjie beter.
Ons probeer eerder om vir onsself groter en groter rykdom te verwerf as om daarna te streef om dit wat God in ons hand gestel het op ‘n wyse aan te wend wat vir Hom welbehaaglik is. Ons kan nie aan God die verskuldigde eer bewys deur aan Hom net ‘n tiende van dit waarmee Hy ons seën af te staan nie. Ek sal sonder daardie paar rand net nie my begroting laat klop nie. Ek bedoel, dit is belangriker dat ek my DSTV betaal sodat ek Sondae na kerk na films kan kyk waarin die Naam van die HERE belaster word! En miskien is dit net daardie paar rand wat ek nodig het om ‘n nuwer of groter motors as my buurman te ry. Ek wil mos daarin kan roem dat ek voor my buurman die nuutste motor kon koop. Ja, ek sal mos graag daarin wil roem dat ek ‘n groter huis of ‘n groter bankbalans as my broer het. Dit is mos lekker om in hierdie dinge te roem – al word ons so duidelik deur die HERE hieroor aangespreek.
Mag hierdie woorde uit die Woord van God ons ook opnuut oor ons laat besin, geliefdes. Ja, mag dit ons dwing tot introspeksie om in waarheid te ondersoek na wie se roem ek in hierdie lewe streef – my eie of die roem van Hom wat alleen alle roem en eer tot in ewigheid waardig is.
“Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. .” (Rom. 11:36).
Amen.
