1 Tim. 6:3-21
“Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins.” (:6).
Ons leer hier van twee besonderse kosbare deugde, geliefdes – godsaligheid en
vergenoegdheid. Ja, deugde waarvan die hedendaagse mens min besit. En boonop is daar
seker nog minder mense wat hierna streef.
Daar lê vir ons ‘n fyn waarskuwing in God se Woord van die skade wat onvergenoegdheid
ons kan berokken. Ja, onvergenoegdheid en geldgierigheid kan die mens in baie dwase en
skadelike begeerlike laat val. “Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en
baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en
ondergang.” (1 Tim. 6:9). Ja, hoe tragies dat die mens van ons tyd voortdurend daarna
streef om in sy onvergenoegdheid alles in sy lewe te verbeter behalwe homself en sy
verhouding met sy Skepper! Dit is die strewe na groter sukses en groter inkomste. Daar is
die strewe na ‘n nuwer en beter motor. Daar is die strewe na ‘n groter en mooier huis.
Daar is die strewe na allerhande beter dinge wat aards en verganklik is selfs al sou dit ten
koste van die mens self wees. Ja, soveel mense sal hierdie dinge najaag al sou dit ten koste
van hul godsaligheid wees.
Geliefdes, ‘n mens wat vergenoegd is, is ‘n mens wat aan God eerbied betoon. Ja, ‘n mens
wat vergenoegd is, is tevrede met die deel wat God vir hom in hierdie lewe afgemeet het.
Hy aanvaar hierdie afgemete deel uit die Hand van God met ootmoed en dankbaarheid. Ja,
‘n vergenoegde mens se lewe getuig saam met die woorde uit Psalm 16:5&6:”Die HERE is
die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot. Die meetsnoere het vir my in
lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.” ‘n Mens wat vergenoegd is, is tevrede
daarmee of God hom/haar as ‘n man of vrou geskape het. ‘n Mens wat vergenoegd is, is
tevrede met die lewensmaat wat God aan hom/haar gegee het. ‘n Mens wat vergenoegd is,
is tevrede met die eerlike inkomste wat hy uit sy arbeid kan verdien. ‘n Mens wat
vergenoegd is, is tevrede dat sy deel en lot deur God bepaal word en probeer nie in eie krag
vir homself ‘n “beter deel” te bewerk as wat hy uit die Hand van God ontvang het nie. Hy
erken God se eienaarskap en heerskappy oor die ganse skepping. “Ek het die aarde, die
mens en die diere wat op die aarde is, gemaak deur my grote krag en deur my uitgestrekte
arm, en Ek gee dit aan wie dit reg is in my oë.” (Jer. 27:5).
Geliefdes, dit is nie verkeerd om strewes en ambisie in hierdie lewe te hê nie. Dit is nie
verkeerd om drome en selfs mooi begeertes te hê nie. As voormelde sonde was sou God
mos nie aan ons beloftes soos wat ons in Ps. 37:4 opgeteken vind, gemaak het nie? “en
verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” Ja, luister na dit
wat God vir Dawid in 2 Samuel 7&8 sê:”…So sê die HERE, die God van Israel: Ék het jou as
koning gesalf oor Israel, en Ék het jou gered uit die hand van Saul; en Ek het die huis van jou
heer aan jou gegee, en die vroue van jou heer in jou skoot, en Ek het die huis van Israel en
Juda aan jou gegee; en as dit te min was, sou Ek aan jou nog meer sulke dinge daarby wil
voeg.” Ja, God sou vir Dawid nog meer wou byvoeg as sy afgemete erfdeel nie genoegsaam
was nie. Maar God was kwaad vir Dawid omdat hy sy hand uitgestrek het na ‘n erfdeel wat
nie syne was nie. God was kwaad vir Dawid oor die sonde wat hy begaan het a.g.v. sy
onvergenoegdheid, geliefdes. God wil vir ons die mooi begeertes in ons hart wat in
ooreenstemming met Sy wil is, vervul. Maar Hy verwag dat ons oor die slegte begeertes wat
in ons lewens te voorskyn mag kom, sal stry en daaroor sal heers.
‘n Mens wat vergenoegd is kom nie in opstand teen God omdat hy in afguns en
onvergenoegdheid ‘n ander se erfdeel van God as beter as sy eie beskou nie. Ja, het ons
almal nie al hierin gestruikel soos wat Asaf dit in Ps. 73:2&3 verwoord nie? “Maar wat my
aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly. Want ek was
afgunstig op die onsinniges toe ek die voorspoed van die goddelose mense sien.” ‘n Mens
wat vergenoegd is, sal eerder dankbaar en tevrede wees met die deel wat God vir hom
afgemeet het en daarna streef om hierdie afgemete deel in ooreenstemming met God se wil
te geniet. Ja, ‘n vergenoegde mens sal sy toevlug in God stel en nie hoop om dit te vind in
die verganklike dinge van hierdie wêreld nie. Die vergenoegde kind van God sal saam met
Asaf kan bely dat dit vir Hom goed is om naby God te wees. “Maar wat my aangaan, dit is
vir my goed om naby God te wees; in die Here HERE het ek my toevlug gestel, om al u werke
te vertel.” (Ps. 73:28). En die vergenoegde kind van God wat naby aan Hom leef en sy
vreugde in Hom vind, sal ook kan bely dat vergenoegdheid en godsaligheid ‘n baie groot
wins is.
Amen.
