Luk. 18:18-30
“En toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom: Nog een ding ontbreek jou – verkoop alles wat jy het, en
verdeel dit onder die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; kom dan hier, volg My. Toe hy dit
hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk.” (:22).
Die ryk jongman waarvan ons in hierdie Skrifgedeelte lees wou uitvind of hy die toets van God sou
slaag om die koninkryk te beërwe. Jesus onderwerp hierdie jongman aan die toets van die eerste
twee gebooie, naamlik dat jy die Here jou God bo alles moet liefhê en daarnaas jou naaste soos
jouself. Hierdie man het wel ‘n baie groot liefde vir God gehad. Ek sê dit omdat sy liefde vir God
deur sy gehoorsaamheid aan God se gebooie bevestig word. Ja, Jesus het hierdie liefde vir God in sy
onderhouding van God se gebooie raakgesien. “Maar hy antwoord en sê vir Hom: Meester, al
hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry…”
(Mark. 10:20&21). Maar Jesus het ook gemerk dat alhoewel hierdie liefde vir God in hierdie
jongman se hart groot was, was dit nie volkome nie. Hy het God dalk baie liefgehad, maar nie BO
ALLES liefgehad nie. God was dalk vir hierdie jongman baie belangrik, maar ‘n tweede plek in ons
harte is vir God nie goed genoeg nie. Hy eis om NOMMER EEN, ja BO ALLES, in ons lewens uit te
troon.
Ek wil die belofte wat God aan Abram gemaak het in gedagtenis roep. God het nie vir Abram geseën
en hierdie belofte aan hom gemaak omdat hy ‘n sondelose mens was wat God se ryke guns verdien
het nie. Die Woord stel dit duidelik dat God oor Abram en sy nageslag ‘n ryke seën uitgespreek het
omdat God gesien het dat Abram vir God waarlik bo alles in sy lewe liefhet. Abram is by meer as een
geleentheid op die proef gestel om sy liefde vir God te toets. En telkens het hy hierdie toets geslaag.
Ons lees in Génesis 12 hoedat God aan Abram die opdrag gee om sy land, huis en familie agter te
laat en God te volg langs die weg waarlangs Hy sou lei. “EN die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy
uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.” (Gén. 12:1).
En Abram slaag hierdie toets. “Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het, …” (Gén.
12:4). Hierdie gehoorsaamheid van Abram aan God se opdrag laat ons ook onwillekeurig aan Jesus
Christus se woorde in Matt. 10:37 dink. “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie;
en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.” Ja, Abraham bewys ook by ‘n latere
geleentheid dat hy selfs nie seun of dogter bo God liefhet nie, maar dat hy God waarlik BO ALLES in
sy lewe liefhet. “… Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou
enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder
soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort
van sy vyande in besit neem.” (Gén. 22:16&17).
Ek wil u ook aan Moses herinner. God gaan haal nie hierdie man om Israel uit Egipte te laat optrek
omdat hy ‘n goeie redenaar of orator en uitnemende staatsman is nie. Maar God het Moses se hart
geken. Hy het geweet dat Moses se liefde vir God groter was as ‘n liefde vir rykdom, eer en aansien.
“Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter
genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God
as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag het
as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning.” (Heb. 11:24-26). Moses het nie na
Egipte gegaan om as ‘n held onder sy volk vereer te word nie. Hy het nie afgetrek omdat hy ‘n
besondere aspirasie gehad het om as die grootste staatsman bekend te staan nie. Hy het na Egipte
gegaan in gehoorsaamheid aan God om Sy wil te doen. En in hierdie gehoorsaamheid is Moses deur
God gebruik om as een van die grootste staatsmanne van alle tye aan God se volk leiding te gee.
Geliefdes, as ek en u vanoggend soos die ryk jongman voor Jesus moes gaan staan, sou ons hierdie
selfde toets soos Abraham kon slaag of sou ons ook soos die ryk jongman bedroef van Jesus moes
weggaan? Die Here Jesus Christus sou dalk vir my of vir u daarop wys dat ons liefde vir ons stoflike
besittings ook Hom die tweede plek in ons lewens laat inneem. Ja, dalk sou Hy vir my of vir u
vanoggend daarop wys dat ons eie eer en aansien die eerste plek in ons lewens geniet en Hom in die
tweede plek laat beland. Miskien wys Hy vir my en vir u dat ons ouers, broers, susters of kinders bo
Hom stel en dat Hy nie met ‘n tweede plek onder hulle tevrede is nie. U moet ook nie dink dat God
met ‘n tweede plek tevrede is terwyl u dalk ‘n sondige begeerte of twee voorrang bo Hom laat
geniet nie, geliefdes. Hy eis van ons onverdeelde trou en liefde BO ALLES in ons lewens.
God is nie daarmee tevrede dat ons Hom net ook (saam met soveel ander dinge is Hy maar iewers
op die lysie) liefhet nie. Hy eis van ons om aan Hom Sy regmatige plek in ons lewens te gee. En Sy
regmatige plek is om in ons lewens BO ALLES uit te troon en dat ons Hom BO ALLES sal liefhê. “En
nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te
wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel,” (Deut.
10:12). Mag ek en u Hom hierdie regmatige plek in ons lewens laat inneem!
Amen.
