1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
14063018

Besoekers aanlyn

Ons het 18 gaste en geen lede aanlyn

 

  

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

Teken aan

Media

GLOBALISME DIE METODE TOT EEN WÊRELD REGERING

Globalisme is vandag die norm, eerder as die uitsondering. Dit het die wêreld stormerhand oorgeneem en is die wêreld geglobaliseer. Tog besef meeste van ons nie wat daarmee ten doel gestel word nie. Sommige sien globalisme as ‘n verskynsel wat die wêreld geïnternasionaliseer het terwyl ander dit net as ‘n uitbreiding van wêreldhandel sien. Dit vind nie net plaas op ekonomiese en finansiële gebied nie, maar ook wat betref die kulturele.

 

Finansiële globalisering het te make met die ontploffing wat plaasgevind het in die finansiële wêreld.  Die internasionale handel het in so ‘n mate toegeneem dat niemand meer daarmee kan kers vashou nie. Terwyl die handel in vervaardigde goedere wel jaarliks toegeneem het, het die vloei van kapitaal in die wêreld dramaties toegeneem.

Daar is veel groter rykdom te verkry in die blote verhandeling van geld en ander betaalmiddele as wat daar te verkry is in die handel in produkte.  Om hierdie rede alleen is transaksies op die geldmark baie meer aanloklik as om produkte van een land na ‘n ander te vervoer met al die omslagtigheid wat daarmee gepaard gaan.  Die toenemende en effektiewe rol wat die rekenaar en die elektronika (vergelyk maar die internet) speel, maak die koste van lang afstand transaksies bekostigbaar en kan ‘n transaksie tussen lande binne sekondes gesluit word en geld van een land na ‘n ander met die druk van ‘n knoppie verplaas word.  Kapitaal word met die spoed van lig van die een na die ander uithoek van die aarde verplaas, op soek na die beste moontlike opbrengs.

 

Hierdie onmiddellike mobiliteit het tot gevolg gehad dat transaksies op die geldmark ‘n ongelooflike groei ervaar.  Dit bereik vandag ‘n triljoen dollar per dag.  Winste kan binne die bestek van ‘n uur gemaak word soos wat die wisselkoerse binne een dag fluktueer.  Daar kan inderdaad van ‘n “dobbel-ekonomie” gepraat word.

 

Uiteraard het hierdie mobiliteit ook beteken dat groot rolspelers druk op state uitgeoefen het om alle moontlike beperkings uit die weg te ruim wat state se soewereiniteit aan bande gelê het.  Hierdie groot rolspelers het ‘n buitengewone graad van outonomie verwerf.  Dit het ‘n groot deregulering van die marke in die wêreld tot gevolg. Kapitalisme is nie meer industrieel van aard nie, maar spekulatief.  Dit word bereken dat die monetêre “waarde” wat vandag in die wêreld sirkuleer vyftien keer dié van produksie is.

 

State het feitlik geen inspraak of sê meer in hierdie mark nie en is dit die multinasionale maatskappye wat die septer swaai.  Finansiële markte dikteer die reëls en word kompetisie nie meer tussen nasies gevoer nie, maar tussen die groot ondernemings in die wêreld. Vir die klein ondernemings is daar bykans geen rol meer nie en ook geen beskerming nie.

 

‘n Multinasionale maatskappy word beskou as ‘n maatskappy wat meer as die helfte van sy besigheid oorsee doen.  In 1970 was daar 7 000 sulke maatskappye.  Tans is daar meer as 40 000 multinasionale maatskappye wat 206 000 filiale beheer terwyl hierdie maatskappye slegs 3% van die wêreld se bevolking in diens neem.  Die begroting van hierdie korporasies was in 1991 groter as die wêreld se totale uitvoere van goedere en dienste en beheer hulle ‘n derde van die wêreld se inkomste.  Die boonste 200 van hierdie maatskappye monopoliseer ‘n kwart van die wêreld se ekonomiese aktiwiteit.  Byna 33% van die wêreldhandel vind tans plaas tussen die filiale van dieselfde korporasies en nie tussen verskillende korporasies nie.  Die begroting van General Motors is groter as die Bruto Nasionale Produk (BNP) van Indonesië. Ford se begroting weer is groter as die BNP van Turkye en Toyota sin groter as die BNP van Portugal.

 

Hierdie korporasies ontsien niks en niemand nie.  Hulle mag is van so ‘n aard dat regerings voorgeskryf word oor beleid en wetgewing. Talle politici word omgekoop om uitvoering aan besluite te gee wat hierdie maatskappye tot voordeel sal wees.

 

Die stryd om ‘n markaandeel tussen hierdie maatskappye het ook tot gevolg dat geen ag meer geslaan word op die arbeiders en arbeidsmagte in die wêreld nie en word regerings eenvoudig verplig om wetgewing aan te neem wat tot nadeel van die arbeiders strek. Die wêreld se 500 top maatskappye het jaarliks (vir die afgelope 10 jaar) van meer as 400 000 arbeiders ontslae geraak! Die posisie van ‘n land word slegs gedefinieer deur die vlak van mededingendheid van sy produkte in die globale markruimte.

 

Internasionale organisasies het self instrumente in diens van globalisering geword.  Die rol van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Wêreldbank is om deregulasie af te dwing, om die vloei van geld te bestuur en om die ekonomie van die wêreld te onderwerp aan ‘n absolute imperatief: Betaal julle skuld! Hierdie organisasies is so magtig dat daar reeds grappenderwys na die hoof van die Federale Reserwebank verwys word as die koning van die wêreld.  Die IMF en die Wêreldbank het soveel mag gekry dat lande eenvoudig voorgeskryf word hoe die struktuur van hulle bank sisteme moet lyk, hoe die terme van hulle reg tot private besit moet lui, hoe hulle sosiale wetgewing opgestel moet word, hoe kompetisie gereguleer moet word, en nog baie meer.  State het nie meer bedingingsmag in die wêreld nie, maar is absoluut gebonde aan wat die IMF en die Wêreldbank voorskryf.  Wanneer ‘n staat boonop skuld het, is die voorskrifte strenger en word skuld verlig op die basis dat daar ‘n groter sê deur die IMF en Wêreldbank in so land se bestuur en huishoudelike sake verkry word.  Dit strek slegs tot voordeel van hierdie multinasionale maatskappye en hou geen voordeel vir die plaaslike bevolking in nie.

 

Afrika is die maklikste prooi van globalisering. Dikwels word kennis geneem van die “verligting van skuld” van die een of ander Afrikastaat.  Dit gaan egter altyd gepaard met groter inspraak deur die IMF en die Wêreldbank in daardie staat se huishoudelike sake met ‘n al groter wordende houvas op die natuurlike hulpbronne van die betrokke staat. Die diktator wat so ‘n staat regeer, word omgekoop om tot sulke besluite in te stem.

 

Afrika, ‘n kontinent met van die wêreld se meeste natuurlike hulpbronne, is nie alleen gedoem weens die onbekwaamheid van sy inwoners en leiers nie, maar ook deur die houvas wat eers die koloniale moondhede op hom gehad het, en nou deur neokolonialisme - deur groot maatskappye wat eenvoudig die kolonialisasie proses voortgesit het onder die dekmantel van demokrasie en bevryding.

 

Globalisering moet nie met die gewone proses van internasionalisering verwar word nie. 

Die gewone proses van internasionalisering kon in sekere opsigte as voordelig vir state beskou word.  Globalisering is egter meer as dit.  Dit is ‘n onbeheersde internasionalisering van markte met as enigste voordeel draers, die sogenaamde multinasionale maatskappye.  Diegene in die beheersentrum is nou buite staatlike en buite nasionale spelers wie se enigste ambisie dit is om hulle winste te maksimaliseer deur hulle aktiwiteite op ‘n planetêre skaal te beplan en om almal te elimineer wat ‘n hindernis vir hulle vryheid van beweging kan wees.  Hierdie nuwe spelers versterk daagliks hulle outonomie.

 

Die eerste gevolg van hierdie finansiële globalisering is die tragiese en skrikwekkende toename in ekonomiese ongelykheid. Die rykes (groot maatskappye) word ryker en die massas word armer. Armoede is vandag nie meer die gevolg van skaarsheid nie, maar van die oneweredige verspreiding van rykdom. Tussen 1975 en 1985 het die produksie in die wêreld met 40% gestyg, die wêreldhandel met 1100% en ekonomiese groei met 500% - terwyl armoede en werkloosheid toegeneem het! In Rusland, na die val van Kommunisme was die Russe aanvanklik swakker af as ooit tevore met 87% van die bevolking wat onder die broodlyn geleef het. Russe het soveel as 80% van hulle inkomste spandeer aan voedsel - hoofsaaklik brood en aartappels.

 

Hoe verklaar mens dit?

 

Eenvoudig. Die industriële reuse besit 85% van die wêreld se rykdom. In Rusland het Kommunisme plek gemaak vir super kapitalisme. Demokrasie het niks meer beteken as die trek van ‘n kruisie nie. Die uitbuiting van die land en die plundering van sy grondstowwe het toegeneem en leiers het meer korrup geword. Die G7-nasies verteenwoordig 11% van die wêreld se bevolking, maar besit 66% van die rykdom daarvan. Die VSA se rykdom het in 20 jaar met 60% toegeneem en 358 miljardêrs op die aarde het saam meer rykdom as 2,3 miljard mense!

 

Hulp aan die sogenaamde Derde Wêreldlande gaan gepaard met woekerrente en absolute beheer oor daardie lande se grondstowwe, die uitvoer daarvan, en die pryse waarteen en deur wie dit aangekoop sal word. Die uitbuiting van hierdie lande is verstommend en koelbloedig. State het geen mag daaroor nie. Rente- en ruil koerse word deur internasionale banke en -organisasies beheer. Enige land wat besluite oor rentekoerse eensydig neem, sal ‘n vlug van kapitaal binne letterlik ure uit daardie land ervaar. Spekulatiewe aanvalle kan ‘n land se sentrale bank binne ‘n dag sy handels reserwes laat verloor. In Junie 1993 het hierdie lot die Bank van Frankryk te beurt geval. Multinasionale maatskappye breek deur alle grense en beperk state se fiskale mag met kontrakte wat state se besluitnemingsbevoegdhede aan bande lê.

 

Die soewereiniteit wat state geniet het om self besluite oor sy huishoudelike sake te neem is aan flarde geruk deur globalisering. ‘n Swaard hang oor state se koppe. Die opdrag is eenvoudig: Doen soos ons sê of ons onttrek uit jou land - met katastrofiese gevolge. Hierdie geldmagte is volledig buite beheer. State se rolle is gereduseer tot ‘n sekretaris wat alles notuleer wat reeds in ‘n ander land besluit is.

 

Die verandering is rewolusionêr. Een van die hoekstene van die politieke orde soos ons dit geken het - nasionale soewereiniteit - het in die slag gebly. Globalisme het deur landsgrense gesny en gemeenskappe vernietig. Elke samelewing in die nuwe wêreldorde - sonder dat enigiets daaraan gedoen kan word - is in hierdie orde geïntegreer.  

 

Politici is pionne in die wêreld spel van multinasionale maatskappye. Diktators word verkies bo die lastigheid wat “demokrasieë” tot gevolg het. Hoe minder geken hoef te word in die besluitneming; hoe beter. Solank Mugabe net gehoor gee aan die groot rolspelers se eise, so lank sal hy verduur word. Indien hy ‘n te groot verleentheid word, soos Gadhafi, word hy deur ‘n ander “demokraat” vervang. Die inwoners se eise speel geen rol nie; daaraan word lippediens bewys. In ons eie land sien ons hoe alles agteruit gaan; die lewenstandaard van Blankes en Swartes maandeliks versleg, terwyl die groot maatskappye se winste elke dag groter word! Die mediamagnate (die intellektuele prostitute) sorg dat inwoners daagliks om die bos gelei word en vertel word dat dit eintlik met hulle beter gaan!

 

Omdat alles dieselfde (eenvormig) moet wees vir die voorstanders van globalisme , word verskille verafsku. Dit is ‘n universele liberalisme wat ten spyte van pretensies tot die teendeel, eenvormigheid afdwing.  Gelykheid is die wagwoord - gelykheid in resultaat! Maar gelykheid geld net vir die massas (“All animals are equal, but some are more equal than others”). Deur middel van die mark word die hele wêreld gehomogeniseer en kulture uitgewis. Hierdie imperialisme duld nie kulturele gebondenheid nie. Die religie van die mark (“die wêreld van McWorld”) is al wat tel. Dit is kapitalisme in sy oordrewe vorm - beter bekend as super kapitalisme! Mense is aan mekaar verbind deur die supermark en die internet. Finansiële globalisering het gevolglik noodwendig kulturele globalisering tot gevolg.

 

Op die oog af lyk die gevolge van “globalisering”, soos voorgehou deur die media (die instrumente in die hande van die superkapitaliste) vir die individu belowend. Die internet stel jou in staat om “goedkoper” banksake te doen en “vinniger” aankope te doen en “doeltreffender” te kommunikeer. Jy kan koerante van oor die hele wêreld in ‘n japtrap lees; jy hoef nie tot agtuur in die aand te wag om te sien wat more se weer inhou nie.

 

Maar die werklike gevolge is vernietigend. ‘n Leegheid ontstaan. Mense voel onteien. Hulle het geen beheer meer oor hulle eie lewe nie en geen besluitnemingsbevoegdheid nie. Die pas het te vinnig geword. Die “konformiteit en uniformiteit” maak mense paniekerig; paniekerig omdat ‘n gevoel van onomkeerbaarheid geskep word.

 

Dit mag vir baie mense verregaande klink, maar globalisme is niks anders as Kommunisme in ‘n nuwe gedaante nie. Waarom is dit so? Ons het reeds gesien dat globalisme niks ander is as super-kapitalisme nie, d.w.s. die konsentrasie van kapitaal in die hande van ‘n minderheid ten koste van die meerderheid – wat die wesenskenmerk van die Kommunisme is. Dit is immers nie moontlik om een groep (die superrykes) in staat te stel om meer te besit sonder dat die ander groep (die massas) minder besit (‘n kenmerk van die Kommunisme) nie. En selfs al word die rykdomme in die wêreld meer, is die feite aanduidend dat die massa daar niks van sien nie; trouens dit wat hulle het, word elke dag minder! Die statistieke is voldoende bewys daarvan. Die proses gaan ook noodwendig gepaard met groter inperking van indiwidue en state se regte en vryhede. Die massa staan besluiteloos en magteloos (soos die geval is by Kommunisme). Globalisme gaan soos die Kommunisme revolusionêr en genadeloos te werk.

 

Wat inderdaad gebeur het is dat kapitalisme gedegenereer het tot ‘n vorm van super kapitalisme (anti-kapitalisme), wat hoe minder dit ‘n vorm van kapitalisme geword het, hoe groter het dit die gestalte van sosialisme en uiteindelik Kommunisme aangeneem.

 

Hierdie super kapitalisme is uiters vyandig teenoor nasionalisme, is revolusionêr in hulle doelstellings, ontsien niks en niemand nie en verdra geen teenstand nie - presies soos Kommunistiese diktature dit beoog het.

 

Globalisme verkneg soos die Kommunisme en glo soos die Kommunisme nie aan God nie. Die mark is god. Dit is ‘n godlose post-moderne Kommunisme wat ‘n wêreld-diktatuur beoog.

 

Wat kan ons doen daaraan?

 

Is globalisme onomkeerbaar? Die antwoord is nee. Nasionalisme bly die sterkste mag op aarde. Elke poging wat die voorstanders van ‘n een wêreldorde nog aangepak het om die wêreld te verower, het uiteindelik gefaal teen die teen aanslag van nasionalisme. Globalisme is geskoei op ekonomiese mag, nasionalisme op die mag van mense wat ingebind is in volkere. Tot ‘n volk is die mens ingebind, of hy dit wil of nie. Ekonomiese ordes kom en gaan. Dit is in mense (en veral volke) se mag om die ekonomie te beheer. Sonder mense kan geen ekonomie nie. Die ekonomie moet weer teruggeplaas word in sy ondergeskikte rol en status. ‘n Ekonomie moet deur sy mense beheer en gereguleer word en sy mense dien; nie andersom nie.

 

Globalisme verkondig die teendeel. Hierdie monster verslind state en volke. Die antwoord lê daarin om die enkelinge agter hierdie ekonomiese monster aan die kaak te stel. Dit is ‘n moeilike taak. Groot leiers is vermoor toe hulle dit wou doen. Ander politieke “leiers” is omgekoop om dit nie te doen nie. Daar sit gewetenlose mense en magte agter hierdie globaliseringsproses.

 

Wat besef moet word is dat blote reaksionêre optrede geen resultate sal oplewer nie. Nasionalisme verg ‘n georganiseerde gees van opbouende verset. En verset vereis aktiewe meelewing in die stryd. Nasionalisme is ‘n bewegings mag, nie ‘n beweginglose massa nie. Nasionalisme moet sigbaar in verset kom.

 

Mense word slawe slegs omdat hulle nie bereid is om vir hulle vryheid te veg nie. Globalisme verslaaf omdat dit op naywer, vrees en haat gegrond is. Maar dit kan op die lange duur nie die voorkeur en die liefde vir die eie; die wortels van nasionalisme, deurdring nie. Nasionalisme het God as anker, terwyl globalisme ankerloos is.

 

Globalisme is ‘n lugborrel wat sal bars, of soos die toring van Babel tot ‘n val sal kom. Dit is onafwendbaar. Maar dan moet nasionalisme gereed wees om sy plek in te neem, anders sal ‘n nuwe godlose mag gereed staan om globalisme se plek in te neem.

 

 

 

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Mandela Klein Advertensie Des 2013