Lesersbrief van Herman Gibson
Ek lees die Afrikaner Volksparty se webwerf gereeld en kan my met meeste van die standpunte van die skrywers vereenselwig. Ek glo ook onder meer dat lydelike verset die antwoord is in tye soos hierdie en dat die Afrikaner gedurig bewus gemaak moet word van die onreg teen hom. Ek verskil egter so effe met wat gedoen moet word indien die Afrikaner weer aan bewind gaan kom.
Ek glo dat die Blanke, en dan veral die Afrikaner, die reg het om hierdie land te regeer, ongegag of hy in die minderheid of meerderheid is. Die hele geskiedenis wys dat die Blanke Afrikaner die reg, die wil en die vermoë gehad het om hierdie land te regeer en daarvan boonop ‘n klinkende sukses gemaak het. Daaraanteen het die Swartes in net minder as 17 jaar gewys dat hulle nie in staat is om ‘n land soos Suid-Afrika te kan regeer en bestuur nie. Hulle verstaan in elk geval nie waaroor demokrasie gaan nie. Hulle dink dit gee hulle die reg om te maak net wat hulle wil en kan nie verstaan as Blankes kla as alles tot niet gaan nie. Boonop is dinge soos menseregte en geregtigheid iets wat geheel en al buite hulle begripsvermoë val. Soos ‘n vriend al aan my gestel het: “Ons speel skaak en hulle speel dambord”. Ons is nou maar net op verskillende golflengtes.
Die feit dat Swartes se getalle groter is as ons s’n, is irrelevant. As gasarbeiders in ‘n Europese land vertoef, verkry hulle nie stemreg daar nie. Hulle kan mos gaan stem in hulle eie lande. Netso met die Swartes. Waarom moet hulle stemreg in ons land kry as hulle elke naweek en vakansie met bakkievragte terugkeer na hulle tuislande. So lees ek dat Nelson Mandela se mense vra dat hy moet terugkeer na Transkei en nie langer in Sandton moet vertoef nie. Ook Jacob Zuma praat in soortgelyke terme as hy sê dat hy in Pretoria en Kaapstad werk, maar dat hy ‘n Zoeloe bly en dat Zoeloeland sy tuisland is.
Ons het ons laat wysmaak dat die meerderheid die reg het om oor die minderheid te regeer. Hier by ons gaan dit boonop oor rasse-meerderheid en nie volke se regte nie. Die Swartes se gesamentlike getalle word eenvoudig opgeweeg teen die Blankes s’n. My vraag is: Waarom gee ons toe aan sulke drog-redenasies? Beteken selfbeskikking dan nie juis die teendeel nie, naamlik dat elke volk die reg het om oor hom self te regeer nie? Was Botswana, Lesotho en Swaziland dan nie bewyse dat daardie volke die reg gekry het om in hulle eie lande te regeer nie? Ek dink tog so. Waarom moet dit anders wees by ons? Ek sal julle sê: Omdat ons die liberale propaganda geglo het dat die meerderheid die reg het om oor die minderheid te regeer.
Daarby moet ons verstaan dat meeste Blankes nie daarin gaan slaag om van Swartes se arbeid ontslae te raak nie, al moet die Swartes dan ook aangery word. Die land het eenvoudig so ontwikkel. Ek kan dus nie insien waarom ons vir ‘n tuisland of volkstaat moet stry, terwyl ons voor ons heilige siel weet ons gaan nie daarheen trek nie, en terwyl ons nie sonder Swartes se arbeid gaan klaarkom nie. Dis tog die harde feite, dan nie? Ons moet eenvoudig bly waar ons is en begin glo in die reg van ons saak.
Ons Blankes moet weer ruggraat kry en die leisels vat in hierdie land. Ons Blankes is die enigstes wat wet en orde sal kan afdwing in hierdie land. Ek glo ook soos julle dat alles op anargie afstuur. Maar moet asseblief nie die fout maak en dink julle gaan mense daarna skuif nie, of dat dit vanself gaan gebeur nie. Swartes soek werk om te oorleef en Blankes soek Swartes se arbeid om vooruit te gaan in die lewe. Dit sal so wees na al die anargie tot ‘n einde gekom het. Dit kan nie anders nie. Dit is die feite.