Media

SUID-AFRIKA OP ‘N PAD VAN SELFMOORD?

Die keuse om te sterfEUTHANASIA

http://www.news24.com/MyNews24/Euthanasia-How-is-this-even-a-debate-20150430

Ek wou ‘n kommentaar lewer op bogenoemde artikel wat sy verskyning in een van die bekende dagblaai gemaak het, maar die hoeveelheid onsinnighede wat in hierdie artikel kwytgeraak word, laat ‘n mens rondskarrel na waar jy eintlik moet begin.

Dit is duidelik uit hierdie artikel dat die skrywer enigsins die bestaan van God erken deur sy uitlating dat “enige geloofsargumente totaal irrelevant en sonder meriete is.”  Dit sou dus vir sinneloos wees om met die skrywer van die artikel in ‘n argument betrokke te raak, aangesien alle bewys wat ek uit die Skrif sou haal sal volgens hom “irrelevante bewyse” wees. 

Ek voel myself egter geroepe om hierdie kwessie meer breedvoerig te bespreek – veral ter wille van jongmense wat dalk in onkunde nie die verkeerdheid hiervan kan insien nie, aangesien hulle gedurende hul skoolloopbaan so oorspoel word met die kettery van menseregte dat dit bes moontlik vir die meeste jongmense na jou goeie reg lyk om die besluit te neem om jou eie lewe te beëindig. 

 

Enige mens wat waarlik glo in God Drie-Enig as die Skepper van hemel en aarde, sal derhalwe ook glo dat die insettinge en verordeninge wat Hy aan die mens gegee het om te onderhou, waar, reg, regverdig en suiwer is.  Die God het aan die mens ook die Skeppingsopdrag in Genesis gegee om die aarde te bewoon, te bewerk en daaroor te heers.  Dit is baie belangrik om daarop te let dat die mens oor die aarde moet heers en nie die aarde moet oorheers nie.    Genesis 2:7:  “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.”

Ons leer in die Woord dat God die mens gemaak het as die kroon van Sy Skepping en derhalwe is lewe een van die kosbaarste besit wat ten alle koste beskerm moet word, want wanneer ‘n lewe geneem is, kan dit nie teruggebring word uit die dood nie. 

Psalm 8:2-10:  ” O HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! U wat u majesteit gelê het op die hemele.   Uit die mond van kinders en suiglinge het U sterkte gegrondves, om u teëstanders ontwil, om die vyand en wraakgierige stil te maak.   As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het — wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?  U het hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.  U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel:  skape en beeste, dié almal, en ook die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see.  o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!

Die lewe kan ‘n mens soms bitterlik moedeloos maak en jy kan dalk voel asof die hele wêreld teen jou stry en niemand vir jou lief is nie, maar dit is nie rede om jou eie lewe te neem nie.  Daar was Een, Jesus Christus, wat Sy lewe juis in gehoorsaamheid aan die Vader afgelê het sodat ons deur Hom die lewe kan hê.  Ons kan met ons hartseer, probleme en vrese na Hom toe gaan, want Hy sal ons krankhede op Hom neem en sal vir ons ‘n juk gee wat sag genoeg is om te dra.  Dit beteken nie dat jou probleme na een gebed sondermeer sal verdwyn nie, maar dat daar waar Hy nie dadelik ingryp en die probleme uit die weg ruim nie, Hom vertrou om ons krag en leiding te gee om ons probleme te hanteer.  Laasgenoemde besef is genoeg rede vir ons om Hom ook lief te hê en derhalwe in liefde in gehoorsaamheid aan Hom te leef.  Wanneer Hy dus sê dat ons mekaar moet ondersteun en mekaar se laste moet dra en die lewe as kosbare besit moet beskerm, durf ons nie sogenaamde “regte en morele denke” verhef bo Sy Raad nie, want alle mag in die hemel en op aarde is aan Hom gegee.  As ons Hom waarlik liefhet, sal ons Sy gebooie bewaar.  As die wêreld dit wil afmaak as irrelevante menings sonder meriete, is die verlies weliswaar groot aan hulle kant.  Hulle mis nie net die lewe op aarde wat tydelik is nie, maar ook die ewige lewe hierna.

Die uitgangspunt dat die lewe ten alle koste beskerm moet word, is regdeur die Skrif te bespeur dat God die Gewer van lewe is en dat Hy alleen die reg het om te besluit wanneer iemand se lewe ten einde loop en hy/sy hul laaste asem sal uitblaas.  Prediker 12:7:  “en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.”  Prediker 7:14:  “Wees goedsmoeds op die dag van voorspoed, en op die dag van onheil, bedink dan: Ook hierdie dag het God gemaak net soos daardie, daarom dat die mens ná sy dood niks meer sal ontdek nie.”

Die enigste uitsondering waar ‘n persoon se lewe wel “voortydig” met rasionele besluite geneem mag word, is deur die mag wat deur God in die hand van die owerheid geplaas het om sodoende wet en orde te handhaaf, m.a.w. die wettige doodstraf wat regverdig toegepas word.  Romeine 13:1-4:  “LAAT elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.  Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang;  want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.”  Dit is duidelik uit hierdie Skrifgedeelte (en vele ander dele in die Bybel) dat die regering die verantwoordelikheid het om wet en orde te handhaaf ten einde wetsgehoorsame burgers te beskerm.  Dit is dan juis om hierdie rede dat ‘n mens mooi moet besef dat ‘n volk uiters omsigtig te werk moet gaan en moet besluit aan wie hy die politieke mag in sy land toevertrou.  Wanneer ‘n regering God nie vrees nie, is dit duidelik dat só ‘n regering homself baie maklik aan vergrype skuldig kan maak en wanneer laasgenoemde gebeur is dit die Godvresende kinders van God se plig om teen só ‘n regering in opstand te kom.  Hierdie opstandigheid moet altyd gedryf wees deur die gesindheid dat God bo alle mag en gesag gehoorsaam moet word en nie om politieke- en persoonlike motiewe en strewes te bevorder nie.

My repliek op die samevatting van die skrywer van die artikel in die genoemde dagblad wat hieronder woordeliks aangehaal word, is dus:

“Euthanasia is no different to the abortion "debate". The state should never be capable of deciding whether a person, who gives their full and informed consent to die, is for whatever reason unable to do so. 
The legal and moral answers are the same: 
No-one, other than person wishing to die, is ever allowed to make the decision of whether assisted suicide is the right thing to do. 

The recent judgment is a breath of fresh air and a change from the conservative dogma that existed pre-1994. South Africa, well done, this is one further step in the right direction towards being a modern and progressive democratic state.”

As daar een punt is waarmee ek met die skrywer van die artikel kan saamstem, dan is dit dat die debat rakende aborsie en euthanasia geensins van mekaar verskil nie en die rede daarvoor is dat moord doodeenvoudig moord bly en verkeerd is in die oë van God, punt.  Dit is ironies dat die skrywer reken dat ‘n lewende wese na sy mening die reg het om die dood te kies, maar die ongebore lewende wese het nie die reg om die lewe te kies wat op hom/haar wag nie?

Aldus die skrywer het niemand, behalwe die persoon wie se lewe onder bespreking is, die reg om daaroor te besluit nie.  Hiermee ontken die skrywer pertinent dat nie eers God sal besluit oor wanneer ‘n persoon mag lewe en sterf nie.  Ek sal hierdie persoon graag wil vra of enige mens dan die REG het om aan te dring daarop om langer te leef as die spertyd wat God vir hom of haar daargestel het en wil die skrywer uitdaag om my te wys hoe hy vir God sal oorhaal om sy eie lewe langer te laat duur as wat Hy bepaal het, of reken die skrywer dat hy self sal besluit wanneer hy eendag klaar geleef is?  Sal sy dood wegbly tot op hierdie dag?

Die afgelope uitspraak van die hof is nie ‘n verfrissende briesie met ‘n verandering van die konserwatiewe dogma wat in die pro-1994 tydperk geheers het nie.  Hierdie uitspraak het ‘n doodsreuk wat hang oor ‘n land wat langs hierdie pad ‘n groot klaaghuis sal skep met sy gevoelloosheid en liefdeloosheid en veragting van die lewe.  Hierdie uitspraak is nog een tree nader aan die verkeerde rigting van ‘n een-wêreld regering waarop politieke misleiers ons gestuur het wat g ‘n bloue duit vir die welvaart en lewe van ander voel.  Diegene wat strewe na ‘n een wêreldregering is nie mense wat die bestaan van God en Sy Seun ontken nie, maar eerder mense wat Hom haat en al Sy insettinge en verordeninge wil verbreek om Hom te probeer oorwin.  Hierdie mense het geen liefde vir Hom nie en derhalwe is liefde en lewe en die kosbaarheid van lewe nie te bespeur in hul optrede nie.  Psalm 2:2&3:  “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê:  Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!”

Onthou, die mens se Skeppingsopdrag is om te heers, nie om te oorheers nie.  Soos wat ons ‘n opdrag ontvang het om te heers, het God ook vir elke mens ‘n keuse gegee – kies jy die lewe (in Jesus Christus) of die dood?  Die keuse bly jou eie, maar daar is net een regte keuse.