Media

NOG ‘N SLAGOFFER VAN FW SE WIGTE EN TEËWIGTE.

LIGTHELMS SE PERSKES WORD GESTEELDie Ligthelms se perskes is weg

“Die Ligthelms se perskes is weg as gevolg van ‘n dorp wat die Steve Tshwete Munisipaliteit(Middelburg TVL) langs die grootste geelperskeboord in Afrika opgerig het,” sê mnr. Johan Ligthelm, tussen saamgepersde lippe.

Hy is moeg gesukkel. Moeg om diewe te probeer vastrap wat met kratte perskes bokant hul koppe deur geknipte drade spring. Diewe wat kabels afsny.

Dieselfde diewe wat implimente, sleepwaens en waterkarre gevat en store geplunder het. Wat, nadat hulle sy kweekboompies gesteel het, dit sommer voor in hul eie tuine geplant het.

Hy is ook moeg om in vrees te lewe. “Ek is die teiken, as hulle my doodmaak, het hulle 500 hektaar weiding vir hul beeste. Dit is ‘n daaglikse stryd. Elke oggend as ons wakker word is daar iets gesteel.”

Mnr. Ligthelm het die joernalis vir ‘n halwe dag deur sy plaas geneem, glimlaggend staaltjies vertel oor hoe sy oupa-hulle op die plaas begin het 98 jaar gelede.

Van hoe hy as tienjarige sy eerste Alberta perskeboompie geplant het en hy 10 sjielings betaal is toe hy sy eerste krat perskes van die boom kon haal. Hy het selfs twéé grade agter sy naam gekry (BA Agric Pomologie) sodat hy sy kennis in die plaas kon inploeg.

Nou is alles daarmee heen, nadat die nuwe Somapepa woongebied, wat deur die munisipaliteit tussen ‘n klomp boere se plase ‘n paar jaar gelede gebou is, ook misdadigers gelok het.

Mnr. Ligthelm sê die probleme het al drie jaar gelede begin, maar verlede jaar was die ergste ooit. “Die diewe kom pluk saam met die plukkers en as hulle uitgevang word, dan spring hulle dwars oor die agt voet diep gat en hardloop weg, of geepad in ‘n taxi. Hulle pluk ook vóór ligdag en kry 18 sakke perskes in ‘n taxi, wat altyd langs die pad vir hulle wag.” Vir kilometers kan daar gesien word hoe drade oopgesny is om toegang tot die boorde te kry.

Boere het gewaarsku

Nadat hy verlede jaar R5.4 milj. verliese gely het weens diefstalle net in die perskeboord alleen, het hy besluit om nie vanjaar weer die perskes gereed te kry nie. “Ek wou nie geld spandeer om werkers te kry om uit te dun of te snoei nie en het maar die beeste ingejaag om die perskes wat aan die bome sit te vreet. My diere is darem spekvet.”

Volgens mnr. Ligthelm “dra ek nou by tot die hongersnood, want daar is 300 mense wat nie tydens die binne-seisoen werk het nie.”

Hy het nog net ‘n paar plaaswerkers wat onder andere na die vrugteboom kwekery en die beeste omsien. Weens die gevaar van aanvalle, moes hy perde aanskaf sodat sy beeswagters per perd die beeste oppas.

Mnr. Ligthelm glo nie hy sal ooit weer perskes te koop kan aanbied nie en sê “om iewers anders oor te begin, sal sowat R50 miljoen kos, want dit is die waarde wat jy hier voor jou sien,” en hy wys oor die boorde, die dam wat hyself vir 16 maande en 16 ure per dag gebou het, en die res van die plaas.

“My hande is afgekap, hoe gaan ons ons 100-jarige bestaansjaar oor twee jaar hier kan vier? Ons kan nooit weer perskes bedryf nie. Ons bly nou net hier in ons eie tronk. Die Ligthelm perskeboedery is verby. Net ‘n wonderwerk kan ons red.”

Foto: Mnr. Johan Ligthelm wys een van die vele gate in die drade waar perskediewe inkom om perskes te steel. Die perskeboedery is tot niet, omdat die diewe al hul winste gesteel het. Die diewe kom egter steeds in om die verrottende perskes aan die bome te steel.