Exodus 33:15-16:”Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie. Want waaraan sou dan bekend word dat ek genade in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is.”
Ons volk het ten gronde gegaan weens ‘n gebrek aan kennis. Sou ons God waarlik geken het, sou ons nie bevrees geraak het vir die politieke bangmaakpraatjies waarmee verraderlike misleiers hierdie volk bang gepraat het nie. Ons sou ons vertroue, soos dit behoort te wees, geplaas het op ons Almagtige God en geen “leier” gevolg het wat nie dieselfde doen in sy eie lewe nie. Ons sou leiers gevolg het wat God waarlik vrees en liefhet al lyk die pad waarlangs hulle lei soms uit die staanspoor na ‘n woestynpad met ‘n Skelfsee as hindernis. Het ons dan vergeet dat ons God wat ons by Bloedrivier uit doodsgevaar gered het,
-
riviere kan maak in die woestyn en waterfonteine kan gee in die dorsland;
-
kwartels en manna kan stuur om ons te versadig in tye van swaarkry;
-
water uit ‘n rots kan laat vloei;
-
die see se water kan kloof om ‘n pad te skep waar dit vir geen mens moontlik lyk om te gaan nie?
Indien ons kennis van God en ons liefde vir Hom op standaard was, sou ons kerke bes moontlik nie so besmet geraak het met heimlike ketterye nie. Dan sou leraars nie toegelaat gewees het om vanaf die kansels vir mense te lieg nie. Ons sou dalk meer ag geslaan het op die profetiese waarskuwings oor die pad van ondergang wat ons as volk gekies het om te bewandel. Miskien sou ons die wonderdade onthou waarmee God ons volk geplant het en opnuut besef het dat ons Sy eiendom is wat onderskeie van ander volke op aarde behoort te leef, aangesien ons met ‘n hoë pand en roeping toevertrou is, nl. die behoud van die Evangelie van vrede hier aan die Suidpunt van Afrika wat vir ons as erfenis gegee is uit die Hoogste se Hand.
Politici mislei ons volk met slinkse en halwe waarhede om in 1983 se referendum ons God te verag deur toe te stem dat die Christendom met die heidendom mag deel en vermeng raak. Hierdie veragtelike optrede het ons volk ons erfenis ontneem omdat ons ons weggedraai het van ons roeping af, agter die wêreld aan. Ons het ons vertroue in God verloor terwyl ons agter die wêreldse misleiers aan dwaal. Jeremia 17:5&7:”So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk. Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is.” Dreigemente is gemaak dat versuim om “aan te pas” (m.a.w. ons beginsels te versaak en in vele opsigte God se weë te verlaat) by veranderende omstandighede, katastrofiese ekonomiese gevolge sou meebring. Die toegewings is toe gemaak en ironies genoeg het ons land se ekonomie sedertdien net een pad geken, afwaarts. Die ekonomiese ramp wat ons nou in die gesig staar, is vir etlike jare deur kunsmatige finansies verdoesel deur mense te laat glo dat hulle eintlik baie meer welaf is as voorheen deur vir hulle ondeurdagte hoeveelhede krediet tot hul beskikking te stel. Hierdie roekelose krediet is selfs in sommige gevalle aan mense afgesmeer met die wete dat min oor die vermoë sal beskik om die volle som met die uitbuitende rentes en heffings binne ‘n redelike tydsbestek sal kan terugbetaal.
Vrees is by volksgenote ingeboesem deur mense te dreig dat versuim om saam te werk met die verraderlike politici, noodwendig ‘n bloedbad in die land sou afgee. As die bykans 3 500 volksgenote wat huidiglik op ‘n jaarlikse basis uitgemoor word nie as ‘n bloedbad omskryf kan word nie, is my persepsie van ‘n bloedbad dalk ‘n bietjie verwronge. Hierdie bloedbad waarna ek verwys sluit dan natuurlik moorde, aanranding en verkragtings op andere volkere uit wat die syfer op ‘n jaarlikse grondslag nog meer skokkend sal laat vertoon.
Vandag sit ons as vreemdelinge in ‘n land wat eens ons erfenis was. ‘n Erfenis waarin ons kerke, skole, hospitale, huise, paaie, ens. gebou het. ‘n Land waarin ons kinders kon grootword met ‘n toekomsverwagting en hoopvolle toekoms. ‘n Land met ‘n eens trotse grondwet wat God se gesag en eer erken het! ‘n Land met ‘n eens trotse landsvlag simbolies aan die stryd vir Christendom en ‘n volkslied wat in nederige gebedsvertroue afgesluit word. ‘n Land waarin kinders in kerke, huise en skole in die weë van die Here onderrig is. ‘n Land wat as ligdraer vir die Evangelie van vrede uitgestaan het en as bastion gedien het soos ‘n sieraad hier aan die Suidpunt van Afrika! Dit is – ons VERLORE ERFENIS!
Vandag is ons gehate vreemdelinge in hierdie land. Daar word van ons verwag om te werk en feitlik die hele land se belastinginkomste by te bring, terwyl ons gestroop word van ons geloof, staatkundige vryheid en mag, kerke, skole, kultuur, toekomsverwagting, besittings, taal, selfrespek, werke en selfs ons volksgenote se lewens! Ons moet swyg, want ons word mos ons vreugde van bier, brandewyn en geïntegreerde sport gegun oor naweke wanneer alle rasse en gelowe in die land saam verenig word in die Blou Bul, Haai, Cheetah of Springbok. Dan dien menige volksgenote die geluksgodin en maak selfs weddenskappe op die geliefde spanne met hul menslike afgode wat deur mense vereer word. Ongeag hoe losbandig en onvoorbeeldig hierdie mense leef, is hulle menige kinders se rolmodelle, want hulle is mos sportsterre.
Daar is natuurlik menige mense wat reken dat ons ons omstandighede gelate moet aanvaar en die beste moet maak van ons omstandighede en sodoende met die verlore erfenis van ons moet saamleef. Die voldonge feit is egter dat ons as Afrikanervolk onder ‘n strafgerig verkeer omdat ons God verlaat het en agter die wêreld aan verdwaal het. Hierdie fout wat ons begaan het, moet ons egter nie maar aanvaar as ons lot nie, want ons kán dit regstel. Inteendeel, ons MOET dit regstel, want aanvaarding van ons fout as ons lot sou beteken:
-
ons aanvaar dat ons volk van God weggedwaal het en dat ons geen begeerte het om na Hom terug te keer nie; (Hoséa 13:9:”Dit is jou verderf, o Israel, dat jy teen My, jou helper, is.”);
-
ons verag Hom deur te twyfel aan Sy goedertierenheid, barmhartigheid en trou (Deut. 4:31:”Want die HERE jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie.”)
-
ons as Sy kinders, dag na dag in vrees sal moet leef terwyl ons werk om die vrug van ons arbeid af te staan totdat die dag aanbreek waarop die laaste volksgenoot uitgemoor word – net omdat ons daarin twyfel dat Hy ons wél kan red;
-
die Gelofte wat ons voorouers aan Hom gemaak het om ‘n volk vir Hom te wees en Sy bevestiging deur ons te red uit doodsgevaar waarin ons verkeer het, saam die Evangelie wat ons hierheen gebring het, saam met ons volk is sy doodskis geplaas sou word.
In hierdie demonokratiese staatsbestel waar daar al minder plek is vir God en die ware Evangelie in die skole, regstelsel, sakewêreld en selfs in die meeste kerke, word die vraag aan ons gestel wat Farao aan Moses gestel het in Exodus 5:2:”…Wie is die HERE na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die HERE nie, en Ek sal Israel ook nie laat trek nie.” Die regeringslui van vandag maak dit duidelik dat hul geen ontsag het vir God en Sy gebooie nie en in plaas daarvan dat die hedendaagse kerke (met uitsondering van enkele gemeentes) die rigting aanwys en die regering teregwys op sy foute, volg hulle eerder elke afdraaipaadjie wat lui “polities-korrek” of “wêrelds-aanvaarbaar”. Die ware Evangelie wat aan ons volk as pand toevertrou is en die grondslag van ons roeping en bestaansreg as volk uitmaak, word in die kerke vervang met heimlike kettery ter wille daarvan om nie aanstoot te gee nie. Die Bybel word oor-en-oor vertaal en hersien en aangepas om vir die mens meer aanvaarbaar te wees, al asof God in diens van die mens staan. Die oorgrote meerderheid van ons volksgenote leef self nie meer volgens die voorskrifte van God nie, want die aanvaarding en genot van die wêreld lyk baie meer aanneemlik. Menige mense verkies om maar eerder deel te hê aan hierdie vervalle samelewing as om vir hul geloof en beginsels na vore te tree. Wat sou ek antwoord as iemand my vra wie die God is vir wie ek leef en na vore tree? Sal ek hom kan antwoord met oortuiging en selfvertroue of het ek ook al só ver van God vervreem geraak en besmet geraak met die wêreld dat ek liefs nie hierdie vraag wil ontvang nie?
Exodus 3:13-14:”Hierop het Moses tot God gespreek: Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? – wat moet ek hulle antwoord? En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.” Dit is duidelik dat God IS – Nie was of sal maar dalk eendag wees nie, nee - HY IS! Exodus 6:5&6:”Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die HERE, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur ‘n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte; en ek sal julle as my volk aanneem en vir julle ‘n God wees. En julle sal erken dat Ek die HERE julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit.”
Die goddelose regeringshoof van die regime wat tans heers oor ons volk in ons verlore erfenis, stel dit duidelik dat ook hy en sy makkers, soos Farao, God nie in die minste vrees nie. Hy dink in die verdwaasdheid van sy verstand dat dit deur sy eie mag en krag is dat hy regeer en besef nie dat hy doodeenvoudig in sy posisie geplaas is sodat God se krag deur hierdie omstandighede openbaar kan word nie. Sou ons as God se kinders Hom ken en met ‘n geloofsoog na ons huidige omstandighede kyk, sou ons geruime tyd al opgemerk het hoe die plae oor Suid-Afrika alreeds begin toesak het. Plae van:
-
ondrinkbare, besoedelde water wat (by uitsondering) uit feitlik alle munisipale krane vloei;
-
vervalle hospitale, paaie en ander infrastruktuur;
-
dreigende droogte(s);
-
onbeheerste geweld en gewelddadige aanvalle op landsburgers;
-
armoede, honger en ellende;
-
dreigende ekonomiese ineenstorting en ‘n dreigende plaag van ‘n rampspoedige en algehele ineenstorting van die elektrisiteitsnetwerk wat groot duisternis oor ons land sal bring op meer as net die aanskoulike donker strate en woonbuurte sonder elektriese liggies. . .
Hoe lank sal dit ons as volk neem om hierdie stukkie kern-waarheid te verstaan? Ons wat ook bevestigend en onlosmaaklik op 16 Desember 1838, deur Sy genade, deur Hom aangeneem is as Sy eiendom – instrumenteel tot Sy eer! Ons is nie deur Hom gestuur om te onderhandel oor die waarheid van Sy Evangelie nie, maar om dit uit te leef, te bewaar en suiwer te verkondig. Ons is geroep en gestuur om die weg te baan vir Hom wat weer sal kom, die Here, ons Verwagting en ons Geregtigheid!
Die naakte waarheid dat ons die afgelope 3-4 dekades klaaglik misluk het in ons roeping as volk en daarom onder Sy strafgerig tot slawerny verkneg is en as volk gehoon word op die oppervlakte van ons verlore erfenis, behoort vir ons soos ‘n paal bo water uit te staan.
Die vertroostende feit dat daar deur hierdie donker tye van dwaling en verval van ons volk deurgaans ‘n klein oorblyfsel volksgenote behoue gebly het om soos ‘n stem uit die woestyn te roep, bevestig God se barmhartigheid en genade vir ons volkie. Dit bevestig vir ons dat Hy ons wel onder ‘n strafgerig betig, maar nie totaal en al verwerp het voor Sy Aangesig nie. Ons het steeds ‘n doel in Sy Raadsplan, maar sal in hart en siel na Hom moet terugkeer om daardie rol te ken en sodoende te kan vervul. Deut. 4:29&30: ”Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister.”
Die ontmoedigende werklikheid dat boosdoeners en boosheid met rasse skrede toeneem, stem menige volksgenote tot kommer en veroorsaak soms dat ons in wanhoop wil wegsink en voel dat dit doelloos is om die “enigste een” te wees wat probeer om na God terug te keer en in Sy weë te probeer wandel terwyl die oseane van boosheid rondom jou dreig om jou te oorweldig. Ons moet egter besef dat boosheid en booswigte wat met rasse skrede toeneem ‘n logiese gevolg is van ‘n goddelose regime en samelewing en daarom rus die verantwoordelikheid op ons as God se kinders om dit te beveg. Alvorens ons voluit tot laasgenoemde stryd kan toetree, moet ons besef dat die huidige goddelose regime in ons land immers God se strafgerig oor ons volk is. Ons het Sy weë verlaat en daarom moet ons eers ywerig werk onder ons volksgenote om terug te keer na God terwyl die maat van ongeregtigheid vir die goddelose vol loop.
Die tyd het haas aangebreek dat ons onsself bereid sal verklaar om deur God opgehelp te word uit ons ellendige toestand om tot Sy eer te leef, te stry en te offer wat Hy ookal mag vra. Ons het die pragtige erfenis wat Hy aan ons toevertrou het weggesmyt, maar ons kan deur Sy genade en barmhartigheid voor Hom aanmeld vir diens om dit weer te probeer herwin!
Solank as wat God, die Almagtige, hierdie verlore erfenis van ons ten gronde rig en toenemend met plae teister, word die wekroep opnuut aan my volksgenote gerig om na Hom terug te keer met u hele hart en siel. Bid vir ons volk se terugkeer na Hom in hart en siel - dat Hy die hart van klip uit ons binneste sal wegneem om vir ons ‘n hart van vlees te gee. Gebed is een van die kragtigste wapens wat ons huidiglik tot ons beskikking het en daarom moet ons onsself daarmee bewapen in hierdie geestelike oorlog waarin ons stryd voer. Mag Hy ons gebede verhoor en ons bekeer, sodat ons ons kan bekeer.
Bewaar uself daarvan om moedeloos te raak, want onthou - die ewige oorwinning is reeds deur Christus behaal. Dit is egter vir die behoud van hierdie Evangelie, waartoe ons geroep is tot stryd omdat juis hierdie pand aan ons toevertrou is om dit te bewaar!
Psalm 143:10-12: “Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in ‘n gelyk land. o HERE, maak my lewend om u Naam ontwil; lei my siel uit die benoudheid, in u geregtigheid. En vernietig my vyande in u goedertierenheid, en bring hulle almal om wat my as vyand behandel, want ek is u kneg.”
Die tragiese afdraande pad van sonde en ongehoorsaamheid, sou die Afrikanervolk daarmee volhou, is die ondergang van die Nuwe Suid Afrika wat sigbaar en helder op die horison van ons volkslewe soos die sonsondergang skyn. Mag God gee dat ons volk in ootmoed voor Hom sal buig in nederige erkentlikheid van ons sonde en ongehoorsaamheid. Nie die “sonde van apartheid” waartoe die kerke en die wêreld ons wil nie, maar die sondes van ongehoorsaamheid en afvalligheid van die riglyne uit Sy Woord.
