Media

IN ‘N OORLOG SONDER KOEËLS.......

altDie AVP se tema vir die jaar wat voor ons lê, is ‘n oorlog sonder koeëls, so besluit op ons afgelope kongres. U mag tereg vra, waarom ‘n oorlog sonder koeëls? Veg ‘n mens dan nie ‘n oorlog met allerhande konvensionele wapens nie en deesdae nogal formidabele, gesofistikeerde en moderne instrumente wat aangepas is vir die bepaalde omstandighede waaronder hulle aangewend moet word.

So woed daar op hierdie oomblik oorloë wêreldwyd in Sirië, Irak, Libië, Afganistan, Oekraïne, Nigerië en is daar gewelddadige opstande oral waar die opstandelinge met van hierdie moderne wapentuig toegerus is asof daar ‘n onuitputbare bron daarvan bestaan sodat selfs die kindersoldate in Afrika geen tekort daarvan ondervind nie! Dit is skynbaar net in Suid Afrika waar die onderdrukte Afrikanervolk, wie se land op verraderlike wyse in die hande van swart kommunistiese terroriste beland het, geen toegang tot hierdie soort wapentuig het nadat daar met deeglike beplanning deur die verraaiers van ons volk, van al ons eie wapens ontslae geraak is.    Toenemend woed daar egter ‘n oorlog teen die Afrikanervolk met, én sonder wapens!

Ons is reeds van ons eie skole, eie woongebiede, eie Universiteite, eie taal en eie Godsdiens beroof waar daar met geweld deur die regime en hulle volgelinge ingedring word deur wetgewing wat óns verbied en húlle toelaat. Ons eie hospitale, kragstasies en vervoerstelsels is reeds tot in die grond afgetakel. Ons paaie verbrokkel sonder instandhouding terwyl ‘n tolstelsel ons reeds oorbelaste volk verder wil verarm. Terwyl miljarde rande afgeskryf word omdat swart woongebiede weier om vir krag en dienste te betaal, word blanke huishoudings met fiktiewe geskatte verbruik gefaktureer om die regime se gestroopte inkomstebronne in produksie te probeer hou!

Dit is onder hierdie omstandighede dat die Afrikanervolk homself moet inrig en toerus vir hierdie oorlog sonder koeëls waaraan ons blootgestel is. Die vraag wat ontstaan is of daar wel wapens beskikbaar is wat ons in so ‘n oorlog effektief kan gebruik en hoe lyk hierdie wapens? Die tweede vraag is wie is die “ons” waarna ek hier verwys en hoedanig hulle kwalifikasie as soldate in hierdie oorlog?

Die regte wapens kan egter net vir die regte redes gekies en opgeneem word indien ons ons vyande ken en die “ons” in hierdie oorweging is die gelowige gedeelte van die Afrikanervolk. In die boek Daniel verskyn daar ‘n vergelykbare verhaal met dit wat ons Afrikanervolk vandag beleef. Soos ons was Israel die gevangenes van ‘n ongelowige volk. Daniel het vir drie weke gevas en gebid en ingetree vir sy volk. Die gebeure wat op sy handeling gevolg het, is vir ons begrip van die wapens wat ons benodig in hierdie oorlog sonder koeëls, onontbeerlik! Dit werp ook lig oor waarom kerk en staat, kultuur en opvoedkundige leiers handomkeer gemaak het in terme van beginsel en beleid wat beproef en suksesvol bedryf was, en dit verruil het vir dit wat ons almal geweet het en voor gewaarsku was dat dit nie kan en nie sal werk nie.

Die engel Gabriel besoek Daniel en verduidelik dat vandat dit in sy hart opgekom het om hom voor God te verootmoedig, was sy woorde gehoor en het God hom wat Gabriel is gestuur om sy gebed te verhoor. Wat egter ons aandag ontglip is dat die Meders en Perse in daardie tyd die beheer by Nebukadnesar oorgeneem het. Gabriel verduidelik aan Daniel dat hy vir 21 dae deur die Prins van Persie gekonfronteer was en dat die engel van Israel, nl. Michael hom moes kom help. Hy verduidelik ook verder in verse 20 en 21 van Daniel 10: 20, “Toe sê hy: Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet dan nou teruggaan om te veg met die vors van die Perse; en as ek heengegaan het, kyk, dan kom die vors van Griekeland.

21  Nogtans sal ek jou te kenne gee wat geskrywe is in die boek van die waarheid; en daar is nie een wat hom saam met my dapper gedra teen hulle nie, behalwe julle vors Mígael. “

 

Vir ons wat gelowig is, is wat ons hier lees nie blote teorie nie maar ‘n bewys dat daar Sataniese magte is wat oor elke volk figureer en geestelik in stryd is teen God se magte wat waak oor SY volgelinge. As Paulus in Efesiërs 6:12 skryf: ”Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug,” was dit al nagenoeg dertig jaar na die kruisiging, opstanding en hemelvaart van Christus. Dit dui onteenseglik daarop dat wat die organisatoriese samestelling van Satan se koninkryk ookal was voordat Jesus gebore is, het Sy Kruisiging, opstanding en hemelvaart niks daaraan verander nie, behalwe dat ons nou voldoende daarteen bewapen kan word mits ons binne God se koninkryk bly. Dit plaas ook ons perspektief oor wêreldgebeure in ‘n ander lig as die blote gewoel van volkere en nasies.

 

Die engel het verwys na Griekeland, want na die Persiese ryk, sou die Grieke oorneem. In Daniel 11:1 verwys die engel daarna dat hy Darius die Meder moes versterk. Hier tree die engel op om ‘n ongelowige koning en sy magte te versterk omdat God Darius gebruik het om die Babiloniërs te verslaan sodat Israel bevry kon word om terug te keer na hulle land. Dit is dus duidelik dat daar ‘n voortdurende, vir ons onsigbare geestelike oorlog aan die gang is wat lotsbepalend is vir volkere en nasies, maar ook vir families, gesinne en persone. Die saak wat ons moet uitmaak, is in wie se koninkryk is ek ‘n soldaat en kyk ek slegs horisontaal na gebeure rondom my en soek ek derhalwe die oplossings slegs uit menslike perspektief en eie krag? Verder, hoe moet mý wapenuitrusting lyk in hierdie oorlog sonder koeëls? RPG 7’S, R4e, handgranate, tenks, mortiere? Is dit al wat tel en belangriker, is dit genoegsaam?

 

Daar is volkere en nasies met formidabele wapentuig waarmee oorlog teen ander gemaak of afgeweer kan word. Dit is egter slégs die Christendom wat deur God self bewapen is vir die geestelike oorlog wat woed terwyl ek hier met u praat en wat alles te maak het met ons lotsbestemming. Wat meer is, wat ons instaat stel om in te gryp in die planne van die Satansmagte soos in die geval van Daniel, terwyl ons gedink het dat ons geheel en al ontwapen was!

 

In Efesiërs 6:13 begin Paulus sy sin met “daarom” as hy die sewe wapens waarmee ons toegerus is opnoem. Hierdie “daarom” verwys terug na vers 12 waarin hy ons inlig oor die aard van ons stryd.  12.  “ Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

13.   Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly”.  Paulus verwys na ‘n dag van onheil waarvoor ons toegerus moet wees. Omdat hy geleef het in die tyd van die Romeinse oorheersing, beskryf hy die wapenrusting soos wat die soldate van daardie tyd se gevegsmonderings gelyk het. (1) Hy begin met die  lyfband om die middel: 14.  Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, die geestelike lyfband wat ons moet aanhê, is die waarheid! Blý dus onder alle omstandigheid by die waarheid. .. (2) “met die borswapen van die geregtigheid aan”, ‘n borsplaat het die hart beskerm. Ons harte moet beskerm wees deur geregtigheid. Nie die geregtigheid verkry deur menslike toedoen nie, maar geregtigheid wat verkry is deur geloof in Christus wat ons beskerm teen dwaalleer! Dink maar aan al die onlangse stellings van teoloe oor die Maagdelike geboorte, wonderwerke soos in die Bybel beskryf en selfs die vertalings wat in omloop is! (3) 15.  en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. Skoene aan sodat die evangelie selfs oor ruwe terrein gedra en verkondig kan word soos wat ons voorgeslagte vir ons ‘n voorbeeld was.

(4) 16.   Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. In die Romeinse tyd was hulle skild feitlik so groot soos ‘n deur waaragter die hele liggaam verskuil en beskerm kon word teen die vyand se pyle. Met geloof as skild is jy beskerm teen die vurige pyle van die bose en het jy niks te vrees nie! 

(5)17.   En neem aan die helm van verlossing : ‘n Helm beskerm die hoof en die hoof verteenwoordig jou gedagtewêreld. Omdat God die strategie van Satan ken en bewus is van hoe belangrik dit is dat ons gedagtewêreld beskerm moet wees teen hom, het hy aan ons die helm van verlossing geskenk waarmee ons denke gevul moet wees.(6) En dan die swaard van die Gees — dit is die woord van God — Die eerste wapen wat, van die ses wat ons ontvang het, nie net vir verdediging bedoel is nie, maar ook vir aanval. In HEBREËRS 4:12 word dit genoem:  Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.

 

(7)’n balistiese misiel!!18   terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges.  Soos Daniel gebid, God gehoor en Gabriel gestuur het. 21 dae moes hy veg met die prins van Persie, maar hy het gekom en Daniel se gebed is verhoor en Israel kon na hulle land terugkeer. As ek net daarin kan slaag om u aan die dink te sit, verby dit wat ons kan sien en hoor en selfs beleef, dan het ek geslaag om u toe te rus om te help met die voorbereiding van ons volk se eendragtigheid op pad na ons vryheid in die land wat God ons as erfenis gegee het. Nie by die vyande te gaan bedel om vir ons ‘n stukkie terug te gee van dit wat ons s’n is nie, maar om na 45jaar se verdeeldheid weer een van siel en een van sin te word deur by die waarheid en geregtigheid vas te bly staan, of indien u dit versaak het, daarna terug te keer!

 

Ek is vyf en veertig jaar aktief in die politiek betrokke in ons verdeelde en verskeurde volk. Onder leierskap van die mees bekwame politici wat ons land opgelewer het. Volharding beleef en geleer het sonder om eenheid van siel  en eenheid van sin te bereik soos wat dit in dr. Verwoerd se era was, tot vandag toe. Dit maak dus ons wat oorgebly het se verantwoordelikheid om rigting aan te dui wat sal aanleiding gee tot Afrikaner eendragtigheid, soveel groter. As gelowiges het dit tyd geword om soos Daniel vir God te vra! Dit is vasgelê in ons volk se geskiedenis dat waar ons volk hom op God beroep en verlaat het, daar telkens uitkoms was. Psalm 149:5-8 staan daar: “Laat die gunsgenote juig in heerlikheid; laat hulle jubel op hul bedde. 6  Lofverheffinge van God is in hulle keel, en ’n tweesnydende swaard in hulle hand; 7 om wraak te oefen onder die heidene, strafgerigte onder die volke; 8 om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie;  9  om ’n vonnis wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. ’n Eer is dit vir al sy gunsgenote! Halleluja! “

Onvergelykbare wapentuig in hierdie oorlog sonder koeëls! ‘n Wegbeweeg van toegewings aan omstandigheidseise, vrees en gelatenheid wat aangevuur word deur ongeloof, ontkenning en misleiding.

Vir 2015 kan ek aan geen gevegsmondering dink wat ons beter sal toerus as dit nie! Mag God ons daartoe genadig wees en ons geloof, durf en moed sodoende versterk vir die stryd wat voorlê.