Daar is min leierseienskappe wat volgelinge van ‘n leier só entoesiasties en spontaan laat saamwerk, as doelgerigtheid. Volgelinge sal ‘n doelgerigte leier maklik volg, aangesien die eindbestemming nie vir hul onseker is nie en derhalwe het hul ook vertroue dat hul leier weet hoe om die eindbestemming te bereik wat geïdentifiseer is. Die Afrikaner kon op ‘n tyd beskou word as ‘n doelgerigte volk en met hierdie gesindheid van doelgerigtheid het hierdie geringe volkie buitengewoon hoë mylpale bereik. Ons kon trots wees daarop om binne ‘n baie kort tydsbestek as ‘n volk in ‘n vrye land te woon wat nie alleen die groot moondhede van die wêreld ingehaal het nie, maar selfs verbygesteek het. Op wetenskaplike-, nywerheid-, ekonomiese-, mediese-, asook militêre gebied het Suid-Afrika uitgeblink met prestasies bo ander lande in die Westerse wêreld. Met ‘n totale bevolking van ongeveer 17 miljoen (12,1m Swart, 3,07m Blank, 1,79m Kleurlinge en ,55m Asiërs) in 1960, kon ons maar beswaarlik meeding met ander lande en volke wat al lank gevestig was in hul streke. In dieselfde tydperk was die bevolkingsgetalle van ander lande o.m. Amerika (179,3m), Brittanje (52,1m), Duitsland (72,7m) en Rusland (120m). In vergelyking met ons volk se getallewig van net meer as 3 miljoen, was ons eintlik maar onbenullig.
Ons is egter alles behalwe onbenullig beskou by die volkere tafel, aangesien ‘n land wat die eerste suksesvolle hartoorplanting ter wêreld suksesvol uitgevoer het, oor ‘n eerste wêreldse vervoer- en kommunikasienetwerk beskik, ‘n weermag op die been gebring het wat in staat was om sy land teen Afrika se gevare te verdedig, ‘n ekonomiese geroeikoers van bykans 6% in reële terme en ‘n inflasiekoers van 3% te handhaaf, sy eie wapenarsenaal vervaardig en selfs brandstof uit steenkool ontgin, luidkeels sy bestaansreg uitbasuin het tussen ander volkere. Al hierdie dinge was vir ons belangrik en ons volk het doelgerig saamgewerk om ons doelwitte te bereik, aangesien ons oortuig was dat ons ‘n roeping het as ‘n volk hier aan die Suidpunt van Afrika. ‘n Volk geplant deur die Almagtige se Hand om te leef tot Sy eer. Laasgenoemde was ons hoogste roeping, ons hoogste trots – die sieraad om ons volk se hals. Hierdie roeping is bevestig deur ons land se Grondwet van 1961, landswette was o.a. Sondaghandel, aborsies en ander dergelike sondes verbied het met ‘n regstelsel wat ongeregtighede hard gestraf het. Ons kon in die geskiedenis sien ons is steeds doelgerig en getrou aan ons roeping toe ons doelgerigte leier op 15 Maart 1961 uit die Statebond bedank het ter behoud van beginsels. Om trou te bly aan beginsels het op daardie stadium nog swaarder geweeg as om die wêreld ter wille te wees. ‘n Mens kan nie probeer om die wêreld ter wille te wees sonder om daar aan gelykvorming te raak nie. Ons was doelgerig om getrou aan God te leef as Sy volk, soos wat ons beloof het op 16 Desember 1838, en Hy het Sy seën oor ons in oorvloed laat beleef.
Ons volk het egter dwaas gehandel deur te vergeet dat die voorspoed van ons land en volk te danke aan ons getroue Skepper en Vader was en nie deur die werk van mensehande of selfs die wonderlike Nasionale Party van ouds nie. Dit het veroorsaak dat ons volksgenote nie kon merk dat die eens Godsvresende leiers van hierdie volk opgevolg is deur misleiers nie. Hierdie misleiers was natuurlik geensins doelgerig om ons volk te lei langs die weg van getrouheid aan Hom nie. Die een dwaalweg van die ander is betree onder die leuens van kortpaaie of onvermydelike uitweë. Op hierdie dwaalweë is ons volksgenote geleer om hul knieë te buig voor afgode soos die geld-, sport- en vermaaklikheidsgode en hul kinders in laasgenoemde se weë groot te maak. Ons het gedink dat ons God saam met ons afgode kan dien en in die proses só verblind en verduister geraak dat ons in ‘n doolhof van dwaalweë beland het waar die grootste gedeelte van ons volk doelloos rondtas. Ons het só blind en verduister geraak in ons verstand, dat ons nie eers die volgende harde WAARHEDE raaksien/erken nie:
• In die tydperk 1994 – 2014 is ongeveer 70 000 volksgenote vermoor. Dit kom neer op 3 500 volksgenote per jaar, maar steeds is ons te blind om te sien dat ons tans in ‘n oorlog gewikkel is. Vergelyk hierdie getal met die 4 000 sterftes van Boere-krygers gedurende die Tweede Anglo-Boereoorlog (ong. 1 333 per jaar) en ontken dat dat die huidige sterftesyfer vergelykbar is met sterftes van ‘n HEWIGE EN BLOEDIGE OORLOG!
• Ons mediese dienste stort in duie en daar word selfs bespiegel dat staatshospitale deur die huidige kommunistiese regime aangewend word om die volksmoord op ons volksgenote te verskerp.
• Huwelike en gesinne word uitmekaar geskeur deur ‘n samelewing wat só besope is met humanisme (eie-ek afgodery) dat geen gevolge op ander mense se lewens in ag geneem word tydens besluitneming nie.
• Ons regstelsel kan nie eers met ‘n sirkus vergelyk word nie, want oor laasgenoemde is daar minstens beheer oor die chaos wat heers terwyl reg en geregtigheid nie eers ter sprake is nie.
• Ons onderwysstelsel sink laer af as die diepste slaggate wat op ons land se vervalle paaie gevind sal word en behoort binnekort die “Afrika-toekenning” vir laagste onderrigstandaard ter wêreld te ontvang. Moet egter nie glo dat hierdie ontstellende feit onrus by ouers sal wek nie, want ten minste kan my kinders nog lekker sport beoefen en die sportgod hou hul dus so bedwelmd dat hulle bereid is om hul kinders se kennis en vaardighede te offer op die afgodsaltaar van die sportgod.
• Ons ekonomie is seker die snelgroeiende ramp in hierdie land op die oomblik wanneer Evkom natuurlik buite rekening gelaat word. Die huidige regime verwar klaarblyklik inflasie en ekonomiese groeikoers met mekaar wanneer ons kyk watter koerse opgestoot en afgedruk word.
• Stakings en munisipale diensverswakking is só algemeen dat ‘n permanente dagblad daarvoor op die been gebring kan word. Ek weet net nie hoe dit versprei sal word nie, want die oud-modiese gedrukte media sal verseker vlam vat (letterlik, nie figuurlik gesproke nie) en Evkom se elektrisiteitsvoorsiening is nie betroubaar genoeg om elektroniese verspreiding te kan waarborg nie.
• Werkloosheid het só algemeen geword dat simpatie teenoor werklose volksgenote nie meer bestaan nie. In 1994 was net meer as 5 000 van ons volksgenote werkloos. Hierdie getal het intussen aangegroei na ongeveer 800 000 siele wat nou in plakkerskampe sit! Dit skeel ons egter min, want menige mense is só besig om Mammon te dien.
Behalwe vir die skade wat ons volk aangerig word op feitlik elke lewensterrein wat ‘n beskaafde volk nodig het om ‘n rustige en stil lewe tot selfverwesenliking te leef, is die dieper, geestelike wonde wat toegedien word, hartverskeurend om die minste te sê:
• Kinders word nie meer rondom die huisaltaar opgevoed nie, want die duiwelsdoos (televisie) het die plek daarvan in feitlik elke volkshuishouding ingeneem.
• Seuns word derhalwe nie meer geleer om mans te wees wat verantwoordelik daarvoor is om hul gesin doelgerig te lei volgens God se voorskrifte en hul in liefde te versorg nie. Jy is mos ‘n MAN as jy doelloos van die een wellustige “liefdesverhouding” tot die volgende spring. ‘n Man is mos nie iemand wat vir hom ‘n Godvresende metgesel soek (of van God bid) en doelgerig werk om getrou aan haar te bly en die nodige eer en liefde aan haar te bewys soos wat ons hemelse Vader ons leer nie?
• Meisies word nie meer geleer om onderdanig as ‘n hulp vir haar man te wees en hom te ondersteun nie. Meisies is só vasberade om nie toe te laat dat haar man op haar kop moet sit nie dat sy selfs poog om die rol van broodwinner oor te neem en die doellose taak van versorging van haar gesin en die opvoeding van haar kinders aan die bediende toevertrou. Ek sal haar nie met my bankkaart en geld vertrou nie, maar my kinder(s) se lewens en opvoeding kan ek maar in haar hande laat. . .
Met verwysing na bogenoemde is ons boonop huigelagtig genoeg om te kla oor kinders wat nie maniere het nie, te lui is om te werk, nie ‘n eie identiteit het nie en altyd wil doen wat die maats doen en boonop nie ‘n grondige kennis het van die volksgeskiedenis en –kultuur of van ons Godsdiens en selfs ons God nie.
Verdwaald, verward en blind tas ons volk op hierdie onbekende dwaalweë rond op soek na leiding. Te blind en verward om te besef dat ons leiding van Bo moet kom, vrees ek die dag wanneer die volgende wolf in skaapsklere sy verskyning sal maak om hierdie volk vir goed oor die afgrond van vernietiging te sleep. Geen leier wat aan die huidige politieke bestel deelneem, al is hy of sy hoe bekwaam, sal ons as volk uit hierdie doolhof van verwarring kan lei nie, want hy of sy sal die volk ook doelloos op elke dwaalweg lei behalwe die pad wat terug lei na ons God. Laasgenoemde wat ons enigste uitweg uit ons ellende is. Daar waar ons volk weer ons God sal vind en sal leer ken – die God wat die Skepper van alle dinge is en ook alles onderhou. Die God wat Sy liefde aan Sy kinders bewys het deur Sy Seun – Jesus Christus – ons enigste Verlosser en Saligmaker. Die God wat ons geplant het hier, aan die Suidpunt van Afrika, om te leef tot Sy eer en Sy deugde te verkondig. Die God van Bloedrivier aan wie ons trou beloof het om doelgerig as Sy volk te leef. Die God van wie ons diep-afvallig en vervreemd geraak het. Die God wat met ongeduld daarop wag om ons genadig te wees nadat ons tot Hom teruggekeer het.
Gelukkig berus dit nie by ons om te besluit of ‘n volk wat met soveel genade van Hom kon ontwikkel tot ‘n trotse volk met ‘n eie identiteit, taal, kultuur, toekoms en roeping en dit alles doelloos weggesmyt het om die wêreld ter wille te wees, enige bestaansreg het nie. Gelukkig weet ons dat Hy trou bly, selfs al is ons ontrou, maar ons durf nie Sy trou verag of misbruik nie.
Hoe lank sal ons aanhou met ons doellose planne en onderhandelinge onder misleiers van hierdie volk wat die weg na ons God versper? Hoeveel slae, verdrukking, smaad en hoeveel bloed van oupas, oumas, pa’s, ma’s en weerlose kinders gaan ons nog oor ons hande laat vloei alvorens ons doelgerig na ons God terugkeer om ons roeping om as Sy volk te leef, weer op te neem?
