Media

WERK SÁÁM ETOS UIT VIR GODSDIENS ALDUS DR. ANDRÉ BARTLETT

altDit is vebysterend  dat daar hoegenaamd ‘n debat moet wees of Godsdiens (m.a.w. Diens aan God) in ons skole toegelaat moet word al dan nie. As hierdie debat dan nog moet ontaard in samewerking met ongelowiges, d.w.s sinkretisme, dan besef ‘n mens eers hoe omvangryk en ingrypend die de Klerk-oorgawe van 1994 was en hoeveel blankes al deur die “winde van verandering” saamgesleep word. 

Die vraag wat Bartlett moet oorweeg, is of die probleem wat geskep is deur die verandering waaruit daar noodwendig, kultuur, taal, godsdiens en rasseprobleme sou ontstaan met die onvermydelike getalsoorwig wat daarop gerig is om die Afrikaner uit sy alles te verdruk, verantwoordbaar is. Indien hy ‘n gelowige is val sy ontleding hier onder vreemd op die oor. As die Afrika wysheid ter harte geneem moet word van die Afrika-spreekwoord wat lui: “As jy vinnig wil vorder, doen dit op jou eie. As jy ver wil vorder, doen dit saam met ander,” soos wat Bartlett voorstel en jy neem die vordering in Suid Afrika sedert 1994 in aanmerking behoort alle Afrikaners dringend byeen te kom met die oog op alternatiewe onderwys vir ons kinders.  

Bartlett se stelling,Die huidige krisis (as dit werklik ’n krisis is)”... laat ‘n mens sprakeloos dat die moontlikheid dat Godsdiens uiteindelik uit die skool geban kan word nie as ‘n krisis beskou en hanteer word nie. Behalwe vir die bestaande en beskikbare statistiek van die toename in drastiese agteruitgang in Amerikaanse skole nadat Godsdiens uitgeban is, behoort hierdie aanslag op die geestelike opvoeding van ons kinders vir elke gelowige Afrikaner onaanvaarbaar te wees!

 

 WERK SÁÁM ETOS UIT VIR GODSDIENS ALDUS DR. ANDRÉ BARTLETT HOOF VAN DIE ­SENTRUM VIR VOORTGESETTE BEDIENINGSONTWIKKELING AAN DIE UNIVERSITEIT VAN PRETORIA.

2014-09-06 22:22 

Die stryd oor godsdiensonderrig in skole bied ’n geleentheid om nuut te dink oor dié netelige saak, skryf André Bartlett. Die kwessie van die plek van godsdiens in die onderwys is altyd geneig om die gemoedere van mense te laat opvlam. Soos nou weer met die saak waarin die hooggeregshof gevra word om godsdienstige praktyke by sekere skole te verbied en ongrondwetlik te verklaar. 

Die kompleksiteit van die saak het onder meer te doen met die feit dat godsdiens in die ou bedeling op ’n redelik omstrede wyse ’n integrale deel van die onderwysstelsel was – in so ’n mate dat dit bekend gestaan het as Chris­telik-Nasionale Onderwys (CNO). Enersyds gee hierdie historiese situasie aanleiding tot ’n soort nostalgie wat terughunker na die “goeie ou dae” toe daar ’n hegte bondgenootskap tussen kerk en skool was en waar die kerk daarop kon staatmaak dat geloofsonderrig by die skool die kerk se jeugwerk sou aanvul. Andersyds lei hierdie geskiedenis tot argwaan by mense wat voel dat godsdiens op ’n onaanvaarbare manier aan hulle opgedwing is en nie wil hê dieselfde moet met hul kinders gebeur nie.

 

’n Belangrike beginsel wat in dié gesprek in gedagte gehou moet word, is dat geloofsvorming en godsdiensonderrig nie in die eerste plek die verantwoordelikheid van die owerheid en skole is nie. Dit bly die primêre verantwoordelikheid van geloofsgemeenskappe om hieraan aandag te gee. ’n Verdere belangrike beginsel is dat onderwys in staatskole grootliks deur belastinggeld betaal word. En belasting word nie net deur Christene betaal nie, maar ook deur lede van ander geloofsgemeenskappe soos Jode en Moslems. En ook deur mense wat op geen manier aan enige geloofsgemeenskap gekoppel is of wil wees nie. In die finansiering van onderwys moet die belange en behoeftes van al hierdie mense en ook van verskillende geloofsgemeenskappe in gedagte gehou word.

 

Dit is wel so dat daar in die Grondwet en in die nasionale onderwysbeleid voorsiening gemaak word vir een of ander vorm van godsdiensbeoefening in skoolverband. Daar is egter baie duidelike riglyne oor wat toelaatbaar is en wat nie aanvaarbaar is nie.

In die huidige debat is dit duidelik dat daar by sekere groepe mense baie onrealistiese verwagtinge is – so of daar weer teruggekeer kan word na die situasie voor 1994. Hierdie soort verwagtinge moet getemper word en plek maak vir dit wat binne die grondwetlike bestel realisties haalbaar is.

 

Die feit dat die Grondwet wel die ruimte bied vir godsdiens in staatskole stel die uitdaging aan geloofsgemeenskappe om met die owerheid te onderhandel oor wat in die praktyk tot stand gebring kan word. Myns insiens lê die uitdaging veral op plaaslike vlak, waar kerke en ander geloofsgroepe met skole in hul omgewing kan onderhandel oor wat binne die bepaalde konteks van elke skool haalbaar en aanvaarbaar sou wees.

 

Ek is huiwerig om aan die staat ’n te groot verantwoordelikheid in dié verband toe te ken. Dit is haas onmoontlik vir die staat om te bepaal wat in elke plaaslike konteks die beste oplossing gaan wees. En die staat behoort in elk geval nie ’n te groot rol te speel in die bepaling van inhoud as dit by godsdiensbeoefening kom nie.

 

Die geskiedenis leer dat dit te maklik tot die ideologisering van godsdiens lei, soos dit die geval was met CNO.Die rol wat die owerheid wel behoort te speel is om seker te maak dat daar duidelike parameters is waarbinne al die rolspelers optree en dat billikheid en regverdigheid geskied.  Dit is veral belangrik dat toegesien word die belange van minderhede, wat nie deel in die oorheersende etos van ’n bepaalde skoolgemeenskap nie, word beskerm en daar word nie teen dié kinders en hul ouers gediskrimineer nie.

 

Gevalle waarin kinders verneder of geviktimiseer word, moet juis op geloofsgronde ten sterkste veroordeel word.

Godsdiensvryheid beteken immers nie net die reg om godsdiens te beoefen nie, maar ook die reg om nié godsdiens te beoefen nie. Mense wat die keuse uitoefen om vry van godsdiens te leef moet gerespekteer en mag onder geen omstandighede as afwykend gebrandmerk word nie.

 

Binne die ruimte wat deur die Grondwet gebied en deur die staat gereguleer word, behoort die burgerlike gemeenskap – waarbinne kerke en geloofsgroepe ’n sleutelrol kan speel – inisiatief te neem om oplossings te vind wat so goed moontlik aan al die groepe reg laat geskied.

 

Beheerliggame van skole kan in dié verband ’n groot bydrae lewer deur soveel moontlik uiteenlopende rolspelers te betrek by indringende gesprekke oor die etos van die skole onder hul beheer en oor die implikasies daarvan vir die wyse waarop aan godsdiens in skoolverband ’n staanplek gebied word.

 

Wat nie meer moontlik is nie, is ’n simplistiese model wat eenvormig by alle skole en in alle gemeenskappe toegepas word. Ons samelewing is doodgewoon te uiteenlopend vir so ’n benadering. En die tyd is lankal verby dat mense – gelowiges én ongelowiges – stilswyend gaan aanvaar dat oplossings wat sonder hul inspraak bedink is op hulle en hul kinders afgedwing word.

 

Die huidige krisis (as dit werklik ’n krisis is) kan ons dalk help om sinvol vorentoe te beweeg en om die moontlikhede te ontgin wat deur ons samelewingsopset gebied word – nie net ten gunste van sekere seksionele belange nie, maar in die algemene belang van almal wat deel uitmaak van die land se bevolking. Miskien moet ons die wysheid ter harte neem van die Afrika-spreekwoord wat lui: “As jy vinnig wil vorder, doen dit op jou eie. As jy ver wil vorder, doen dit saam met ander.”

 

Dr. André Bartlett is hoof van die ­Sentrum vir Voortgesette Bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.