Deur Leonard van der Dussen - www.saonderwys.wordpress.com
Daar is tans groot ontsteltenis aan die een kant, maar helaas ook verlustiging aan die ander kant oor die eis wat ingedien is dat ses openbare skole hulself moet weerhou om as christelik voorgehou te word en om christelike geloof in die skool te beoefen. Dit word tereg aanvaar dat die saak op die oomblik nie gaan om die ses skole nie, maar ‘n landswye nasionale saak is, en kommentaar en menings flits van orals.
Daar is met die opstel van die grondwet van die nuwe Suid-Afrika meer as twee dekades gelede, gesê dat daar “wigte en teenwigte” is om die regte van belangegroepe te beskerm. Daar word op die oomblik in die skoleverband hewig gepraat oor godsdiens en meer spesifiek, christelikheid, op skole, maar hoofsaaklik met aanvoeling en emosie en min met helder verstand en inligting.
Die grondwet van die nuwe Suid-Afrika sê:
Vryheid van godsdiens, oortuiging en mening
5. (1) Elkeen het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening.
(2) Godsdiensbeoefening kan by staats- of staatsondersteunde instellings geskied,
mits–
(a) daardie beoefening reëls nakom wat deur die tersaaklike openbare gesag gemaak is;
(b) dit op billike grondslag geskied; en
(c) bywoning daarvan vry en vrywillig is.
(3) (a) Hierdie artikel belet nie wetgewing wat erkenning verleen aan–
(i) huwelike wat aangegaan is kragtens enige tradisie, of ʼn stelsel van
godsdiens-, persone- of familiereg nie; of
(ii) stelsels van persone- en familiereg kragtens enige tradisie, of wat
nagevolg word deur persone wat ʼn besondere godsdiens aanhang nie.
(b) Erkenning ingevolge paragraaf (a) moet met hierdie artikel die ander
bepalings van die Grondwet bestaanbaar wees.
Daar is dus ‘n element van waarheid daarin dat daar ‘n reg is om godsdiens te beoefen na keuse, maar daar lê ‘n angel wat vir die betrokke skole, maar eintlik alle openbare skole, die lewe moeilik kan maak om hulself as christelik en met ander woorde, spesifiek op een godsdiens gerig, te tipeer. Die angel is in klousule 15(2)(a) wat bepaal dat “die tersaaklike openbare gesag” die reëls maak hoe die godsdiens beoefen moet word. Dit maak dus enige christelikheid aan die departement van onderwys se voorskrifte onderhewig, tensy daar ‘n grondwetlike saak uitgemaak gaan word dat die skool se beheerliggaam die “tersaaklike openbare gesag” is.
In ‘n samelewing waar “staat”, “openbare gesag” en “gesag” as sinonieme erken word, gaan dit moeilik wees om nou skielik die regte begrip te vestig naamlik dat plaaslike verkose leiers, soos ‘n beheerraad, openbare gesag verteenwoordig. Dis interessant dat hierdie denkfout in ons samelewing deels te wyte is aan die verwatering van protestantse belydenis oor wat owerheid en gesag behels (onder andere met verwysing na Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis).
Voeg daarby ‘n tydsgees waar die regerende party, die ANC, weinig respek vir die gesag van howe openbaar en eerder neig na die magspolitiek wat Afrika kenmerk, en dit word besef dat hier veel meer op die spel is as net ‘n fanatiese man in die persoon van ene Pietersen is wat met ‘n paar skole ‘n geskil aan het. Dit kan ‘n geleentheid word waar die staat se wurggreep op onderwys net nog ‘n keer versterk word.
Om dit maar by die naam te noem: dit gaan hier oor Afrikaanse christelike skole wat ‘n wesenskenmerk van die Suid-Afrikaanse samelewing is, en vir die Afrikanergemeenskappe baie belangrik is. Die Afrikanergemeenskap is ongelukkig nie meer so verenig oor die basiese feit van ware godsdiens alleen in Christus nie. Dit is betekenisvol dat die saak teen die skole deur ‘n persoon – om dit so te stel: uit eie geledere – gedryf word.
Die vraag moet ook gevra word of dit christelike skole (of anders gestel: skole van christelike aard) is wat in die spervuur is, en of dit christelike onderwys is wat hier aangeval word? Die betrokke skole bied ‘n kurrikulum aan en gebruik die voorgeskrewe CAPS, wat reguit met die grondwet verbind word, en dit stel dat die kurrikulum sosiale verandering om die sogenaamde ongeregtighede van die verlede reg te stel, en menseregte-burgers te kweek, wat in teenstelling met die begrippe van alle eer aan God, en dat die mens verdorwe is en sy verlossing in Christus moet soek, staan. Dit wil lyk of daar alreeds baie toegewings gemaak is aan onderwys wat in sy inhoud en aard nie juis christelik is nie, maar dat die milieu waarin dit aangebied word, darem nog christelik van aard gehou is.
Die oplossing vir standhoudende christelike skole lê eerder in privaatskole, en meer bepaald onafhanklike privaatskole waar die staat geen seggenskap het nie. Klousule 15(2) hierbo is afgeperk op “staats- of staatsondersteunde instellings”: die onafhanklike privaatskool wat homself befonds en sy eie gesag oor sy reëls, etos en belydenis uitoefen, kan voortgaan met skoolwees sonder hofsake en allerlei debatte oor wie se regte nou wie s’n is, terwyl die openbare skool noodwendig nie uitsluitend kan wees nie.
Die staat beheer steeds die meeste privaatskole ook, deur middel van kurrikulumafdwinging en CAPS, maar het darem daar nie ‘n sê oor die godsdiensbeoefening nie.
Dit verg egter dapperheid en opoffering, en om geld te sit waar jou mond is, om privaatskole sonder subsidie en met akademiese verantwoordbaarheid teenoor massa-onderwys te stel. Dis ook nie sommer net vir individuele gesinne moontlik om dit alles te bekostig as gemeenskappe nie saamstaan nie. Dis jammer dat ons waarskynlik nou weer groot bydraes gaan sien vir regsadvies, debatte en hofsake, terwyl dit nie juis bydrae tot langtermyn belegging in selfstandige onderwys nie.
Dit moet besef word dat blote emosie en aandring op “regte” sonder die besef dat die grondwet en die land se menseregte-struktuur wat bo God se reg uitgaan, nie veel gaan bereik nie. Daadwerklike losbreek van ‘n staatskoolstelsel wat die belange van die massas bo uitnemende onderwys stel, en poog om christelikheid met ‘n skyn van neutraliteit te vervang om menseregte uit te oefen, is nodig.
Die politici het ‘n grondwet wat in sy aanhef die land in nederige erkentlikheid teenoor die Drie-enige God geplaas het, verruil vir ‘n grondwet onder mensgerigte aanhef. Hierdie prysgawe wreek hom nou op die onderwys.
Hierdie sieninge verskoon nie die staat van sy plig om privaatskole eintlik hul deel van die belastinggeld te moet gee om binne eie konteks onderwys te bedryf nie, en dit verander ook nie daaraan dat die betrokke skole wat nou in die spervuur is, en elke christen wat opreg die stryd daar betree, sterkte toegewens word. Die getuienis oor die ware God en die enigste Verlosser, Christus, moet uitgaan.
Feit is dat privaatskole al hoe meer ‘n rustige, stabiele akademiese omgewing bied, wat na eie belydenis en oortuiging uitgeleef kan word, terwyl openbare onderwys al hoe onrustiger en onproduktief word. Privaatskole is harde werk, maar is noodsaaklik vir Suid-Afrika se toekoms.
