Media

AANSLAG OP GRONDBESIT

altDie AVP se volgehoue kritiek teenoor georganiseerde landbou se tallose futiele gesprekke, samesprekings, onderhandelings en toegewings oor veral landbougrondbesit het uiteindelik tot die TLU deurgedring. Hoewel ons nie saamstem dat die waarskuwings uit monde van die TLU betyds is nie en maan dat waarskuwings alleen vrugteloos is as daar nie optrede beplan word nie, is ons dankbaar vir die lig wat daar opgaan.Die afgelope 20 jaar se verlies aan landbougrond, boere en landbouproduksie is die produk van ‘n beleid van toegewings in teenstelling met verset teen die onregmatige en niks minder as die onwettige aansprake, leuens, eise en beledigings wat die Afrikanervolk moes verduur nie. Hierdie land is ons land! Die swart meerderheidsregime deur kommuniste beheer en bedryf het onwettig aan bewind gekom deur verraad en behoort op georganiseerde wyse teëgegaan te word in hulle ongeldige aansprake, eise en dreigende grondbesettings. Wat Bennie van Zyl en die TLU hier onder ontleed het, is die arsenaal van die OORLOG SONDER KOEËLS wat teen die Afrikaner gevoer word waarvan die Grondwet ‘n kanonskoot verteenwoordig. ‘n Oorlog waarteen ons onsself moes verweer het in teenstelling met vredespraatjies wat geen ander prestasie gelewer het as om ons vyande meer tyd te verleen vir verstewiging van hulle greep op Suid Afrika. Die AVP kan ons egter vereenselwig met die laaste paragraaf van die TLU se inleiding tot die ontleding, wat reeds met hulle bepleit is deur ‘n afvaardiging van die HNP onder leiding van mnr. Willie Marais in die omgewing van 2006 toe hy aan die TLU gevra het, "Hoe lank wil julle nog wag? Totdat ons almal uitgemoor is?"! (AVP)

 

TLU SA het o.l.v. hoofbestuurder Bennie van Zyl ‘n pakket bymekaar gesit van wetgewing oor grond- en eiendomsbesit in SA wat die afgelope tyd deur die Parlement aanvaar is of wat tans in die Parlement ter tafel is of wat deur die regering vir die nabye toekoms beplan word.

Saam gesien dui hierdie pakket van wette dat die regering en sy manipuleerders daarmee een doel voor oë het en dit is om grondbesit en eiendomsreg in SA te vernietig en uit die hande van blankes te kry. Dit is ons gevolgtrekking as ‘n mens hierdie pakket van wette op die keper beskou.

 

Dit is ‘n radikale stelling om te maak, maar ons is oortuig dit is wat dit behels. Dit is des te meer waar indien daarop gelet word dat eienaars en kopers van grond voortaan hul ras, geslag en nasionaliteit bekend moet maak. Die bedenklike en agterbakse doel waarop die regering afstuur, is duidelik.

Dit is glad nie te sê die regering & kie gaan slaag in hul doel nie, veral nie as die spreekwoord “betyds gewaarsku, tydig bewapen” ter harte geneem word nie.

 

Die regime se oorlog teen eiendomsreg in Suid Afrika, saamgestel deur die TLU.

EIENDOMSREG

‘n OORSIG OOR DIE AANTASTING VAN EIENDOMSREG in SUID AFRIKA

Bronne van eiendomsreg (ook genoem sakereg): 

1. Romeins Hollandse gemene reg;

2. Statutêre reg (wetgewing);

3. Regspraak (presidente);

4. Swart reg;

5. Grondwet;

6. De facto situasies binne ʼn gemeenskap.

Wat word beskou as eiendom?

ʼn Saak of objek wat:

1. Stoflik is (aandele in ʼn maatskappy word beskou as ʼn onstoflike saak, so ook ʼn leningsrekening in ʼn maatskappy. Stoflike sake byvoorbeeld motorfiets, woonerf, plaas);

2. Buite die mens geleë is;

3. Selfstandig bestaan (water, grond, sand en lug moet eers deur menslike aktiwiteit in erkenbare en hanteerbare entiteite afgebaken word alvorens dit as sake wat binne die handelsverkeer val, omskryf

kan word. Byvoorbeeld lug en suurstof word eers verhandelbare sake indien dit in ʼn silinder opgevang word. Onroerende goed kom eers tot stand nadat dit afgebaken is deur ʼn goedgekeurde en

geregistreerde landmeterskaart, diagram, lugfoto of algemene plan. Deeltitel eenheid word as onroerende saak omskryf aan die hand van die geregistreerde deelplan in terme van die wet op deeltitels

4. Vatbaar is vir juridiese heerskappy (hemelliggame soos die son, maan en ander planete is nie vatbaar vir hierdie juridiese heerskappy (op hierdie stadium?) nie en kan nie as sake/eiendom geklassifiseer word nie);

5. Nut en waarde het vir die mens. ʼn verdere kenmerk van eiendom of dan regsobjek is dat dit nut en waarde moet hê. Daar kom geen regsverhouding tussen ʼn mens en die regsobjek tot stand indien dit nie

nut en waarde vir die mens het nie. Dit hoef nie noodwendig ekonomiese waarde te hê nie, maar kan ook oor sentimentele waarde beskik. Nut en waarde word egter objektief bepaal.

Daar is verskillende indelings van eiendom naamlik:

1. Verhandelbare en nie-verhandelbare sake;

2. Enkelvoudige en saamgestelde sake;

3. Roerende en onroerende sake;

4. Vervangbare en onvervangbare sake;

5. Verbruikbare en onverbruikbare sake;

6. Deelbare en ondeelbare sake.

Inhoud van eiendomsreg:

In die reg word na die inhoud van eiendomsreg na verwys as die

inhoudsbevoegdhede van die eienaar, byvoorbeeld:

1. Reg van gebruik;

2. Reg om te beswaar;

3. Reg om te vervreem;

4. Reg om te beskerm of te verdedig;

5. Reg om die eiendom te beheer;

6. Reg om die opbrengs van die eiendom te gebruik;

7. Reg om die eiendom te steriliseer.

Eiendomsreg word somtyds verkeerdelik as absoluut omskryf. Eiendomsreg is nie absoluut nie. Hoewel eiendomsreg “afdwingbaar is teenoor die hele wêreld”, is die eienaar se inhoudsbevoegdhede soos hierbo genoem, beperk. Dit word beperk deur onder andere: wetgewing,  of dit fisies beheerbaar is (byvoorbeeld of die lug bokant jou plaas in ʼn bottel vasgevang is, al dan nie),  en ooreenkomste wat die eienaar aangaan met byvoorbeeld ʼn Bank waartydens die eiendom as sekuriteit vir ʼn lening gegee word,  of waar serwitute geskep word (hetsy deur ooreenkoms of weens ʼn defacto situasie).

Eiendomsreg is egter meer as net die bondeltjie inhoudsbevoegdhede wat stuk vir stuk afgespits en beperk kan word. Eiendomsreg is ʼn abstrakte konsep wat meer is as die somtotaal van bepaalde inhoudsbevoegdhede wat aan die saak/regsobjek kleef. Tog is eiendomsreg sonder enige inhoudsbevoegdhede ondenkbaar aangesien daar geen sin is in ʼn inhoudlose reg vir die eienaar nie. Dieinhoudsbevoegdhede bepaal die omvang van die regsverhouding tussen die eienaar en ʼn saak / objek op enige gegewe tydstip. By die gevaar dat dit te simplisties gestel word kan eiendomsreg beskryf word as ʼn koek waarvan stukkies uitgesny is of ʼn opgeblaasde ballon. Dit hang af hoe groot die ballon opgeplaas word en in hoe mate die ballon ingeduik word en vanaf watter kant die ballon ingeduik word.

Voorbeeld:  ʼn Kind kan die eienaar van ʼn voertuig wees, maar wetgewing beperk die eienaar-kind in die gebruik van die voertuig deurdat die kind eers die ouderdom van 16 jaar bereik het en ʼn toets moet slaag om ʼn lisensie te kry voordat die eienaar-kind die kar kan bestuur. Die eienaar-kind se eie gebruik van die voertuig word deur wetgewing beperk /ontneem. Hierdie is ‘n voorbeeld van ontneming. Die feit dat die wetgewing die eienaarkind in sy gebruik van die voertuig beperk ( of dan ontneem) totdat die kind aan die voorwaardes van ouderdom en lisensie verkryging voldoen het, beteken nie dat daar nou deur die Staat vergoeding aan die kind betaal moet word weens die beperking/ontneming van die kind se gebruik van die voertuig nie. Dit is ook nie ʼn onteiening van die kind se eienaarskap van die voertuig nie. Die kind kan steeds die voertuig beskerm, aan iemand verhuur om te gebruik, die voertuig geniet en byvoorbeeld as sekuriteit vir ʼn lening gee. Daar is talle voorbeelde van sulke beperkings op eiendomsreg wat in die gewone loop van die gemeenskapslewe en ekonomie toegepas word.

ʼn Verder voorbeeld is die sonering van eiendom. In ʼn dorp wat vir woongebruik gesoneer is se gebruik is derhalwe beperk tot slegs woning. Daar mag nie byvoorbeeld ʼn fabriek opgerig word of ʼn kerk op gebou word nie. So is ʼn plaas gesoneer vir landbou gebruik en sodra die gebruik verander moet daar aansoek gedoen word by die relevante owerhede vir hersonering – met ander woorde om die eienaar se gebruiksreg te verander (die eienaar se inhoudsbevoegdhede van die eiendomsreg verander) na byvoorbeeld kommersieel. Dit is ook ʼn voorbeeld van ʼn ontneming en waarvoor daar geen vergoeding in die gewone loop van sake betaalbaar is nie. Dit is nie ʼn onteiening nie, want die eienaar bly steeds eienaar, hoewel sy inhoudsbevoegdhede beperk is op een of ander manier.

Nog ʼn voorbeeld is dat ʼn persoon ʼn lisensie vir ʼn vuurwapen moet kry voordat hy ʼn vuurwapen in sy besit mag hê. Die beperking word gemotiveer as synde wapen gevaarlike instrument is en daarom moet daar beheer oor uitgeoefen word en aan vereistes voldoen word voordat ʼn persoon eiendomsreg kan kry.

Algehele ontneming:

Enige ontneming moet egter redelik en billik wees en natuurlik gemotiveer kan word aan die hand van sekere kriteria. Die vraag is wat is die kriteria, wie bepaal die kriteria en wie doen die motivering en wie bepaal wat is redelik en billik. Dit bring ons by interpretasie. In ʼn normale samelewing sou die vereistes vir die verkryging van byvoorbeeld ʼn vuurwapenlisensie of ʼn bestuurslisensie redelik en billik wees sodat meeste mense daaraan behoort te kan voldoen. As die owerheid egter die vereistes vir die verkryging van die vuurwapenlisensie of bestuurslisensie so omvattend en beswarend maak dat dit moeilik aan voldoen kan word, dan is dit nie meer ‘n redelike en billike ontneming nie, maar net ‘n gekamofleerde onteiening sonder vergoeding.

In die huidige Suid-Afrika beskou die ANC regering hierdie begrippe van ontneming / onteiening as stukke gereedskap om hulle ideologiese doelwitte te bereik. ʼn Goeie voorbeeld is die vereistes wat gestel word vir die verkryging van ʼn prospekteerpermit of ʼn mynlisensie. Van die vereistes waaraan voldoen moet word is dat sosiale planne opgestel moet word vir byvoorbeeld werkskepping en dat daar voldoen moet word aan swart ekonomiese bemagtiging, ens. In terme van die huidige politieke bestel en die grondwet word BEE as ʼn redelike en billike ontneming beskou. Die kwessie van interpretasie kom weereens ter sprake.

Wetgewing wat onredelik inbreek maak op eiendomsreg:

1. Konsep wetsontwerp oor onteiening 2013:

Onteiening is nie ʼn nuwe begrip nie, maar weereens is die vraag in hoe mate ʼn persoon wat van sy eiendomsreg of inhoudsbevoegdhede van eiendomsreg onteien (onderskei ontneem) word, vergoed gaan word. Die konsep wetsontwerp oor onteiening meld dat regverdige en billike vergoeding betaal word vir persone wat geaffekteer word deur onteiening, maar dat sodanige vergoeding ʼn billike balans tussen die publieke belang en die geaffekteerde individue moet weerspieël. Op die oog af klink dit mooi en goed, maar die vraag is weereens wie interpreteer die publieke belang en wie die vergoeding gaan bepaal aan die hand van watter kriteria en deur watter bril. Die siening van die huidige ANC regering is dat publieke belang insluit die nasie se verbintenis tot grondhervorming en dat die doel van die hervorming is om gelyke toegang tot al Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne te bewerkstellig – m.a.w. herverdeling. Grondhervorming beteken niks anders as herverdeling, en herverdeling beteken niks anders as vat by een gee vir ʼn ander.

Moenie dat mooiklinkende woorde die kern van die saak verdoesel en kamoefleer nie. In hierdie geval beteken dit vat van blank en gee vir swart. Die aanhef tot die konsep onteieningswet sê onder andere

dat onteiening van eiendom geskied vir ʼn openbare doel of in die openbare belang. Die vraag is wie interpreteer die openbare belang en die openbare doel. ʼn Aanduiding word gevind in die Grondwet Artikel 25(4) wat sê dat eiendom is nie tot grond beperk nie. Vergoeding word bepaal aan die hand van Artikel 25(3) van die Grondwet wat 5 “afslag faktore” bevat.

2. “Promotion of protection of investment Bill 2013”:

Die konsepwet het klaarblyklik ten doel die beskerming van beleggers en die bevordering van beleggings en die ʼn balansering van regte en verpligtinge te bewerkstellig wat vir alle beleggers geld – dit betekenniks anders as gelykmaking nie, in ander woorde gestel = herverdeling. Die wet se naam is misleidend en die ware doel van die wet is weggesteek in die volgende woorde: “the need to protect and promote the rights enshrined in the constitution in the bill of rights”, “considering the responsibility of government...pursuant to the constitutional obligations”, “reaffirming the governments right to regulate in the public’s interest in accordance with the law” – bedoelende die grondwet, en hier moet ons spesifiek verwys na Artikel 25(1) van die grondwet wat meld dat “niemand mag eiendom ontneem word nie, behalwe ingevolge algemeen geldende regsvoorskrif en geen regsvoorskrif mag arbitrêre ontneming van eiendom veroorloof nie”. Sub-artikel 1 maak geen melding van enige vorm van vergoeding by ontneming nie. Sub-artikel 1 moet onderskei word van sub-artikel 2 waar onteiening ter sprake kom. Indien onteiening plaasvind, geskied dit vir openbare doel of vir openbare belang en onderworpe aan vergoeding, maar waarvan die bedrag en die tyd en wyse van betaling deur diegene wat geraak word aanvaar is of deur ʼn Hof bepaal is. Weereens kom die kwessie van wie interpreteer en deur watter bril geïnterpreteer word. In terme van hierdie konsepwet beteken belegging enige bate gehou deur ʼn belegger, byvoorbeeld eienaarskap van ʼn entiteit soos ʼn maatskappy, aandele en sekuriteite, kontraktuele regte, roerende en onroerende eiendom, verbande, intellektueel regte, patente, handelsmerke asook lisensies permitte ensovoorts. Die Wet tref wyd. Belegger is enige persoon (ook RSA burgers) wat ʼn belegging soos hierbo in die republiek hou, ongeag nasionaliteit. Artikel 2 van die Wet meld spesifiek dat die Wet geïnterpreteer moet word deur die bril van die Grondwet en die doel is dan belegging in ooreenstemming met openbare belang en ʼn balans tussen regte en verpligtinge van beleggers.

Die openbare belang word deur die ANC regering geïnterpreteer as transformasie, herverdeling, BEE ensovoorts. Onder Artikel 5 van die konsepwet, beskerming van belegging, word die belegging net beskerm as dit gedoen word in ooreenstemming met toepaslike wetgewing van natuurlik insluit die Grondwet, wetgewing wat BEE bevorder ensovoorts. Die Wet maak deurgaans melding van openbare doel en openbare belang en die toepaslikheid van binnelandse wetgewing. Dit meld ook dat indien onteiening plaasvind, vergoeding moet geskied aan die hand van Artikel 25(3) van die Grondwet. Die angel in die Wet is Artikel 10 waar die Staat (met ander woorde die ANC regering), die soewereine reg het om te reguleer in die openbare belang. Weereens wat is openbare belang. Artikel 10 maak spesifiek melding daarvan dat historiese sosiale en ekonomiese ongelykhede aangespreek moet word deur maatreëls wat die regering gaan neem en onder andere om die progressiewe verwesenliking van sosioëkonomiese regte te bewerkstellig en hul gaan dit doen deur onder andere hierdie Wet te gebruik.

3. Wet op ruimtelike beplanning en grondgebruik bestuurswet (Wet 16 van 2013):

Hierdie Wet skep landswye sentrale beplanning van grondeienaarskap en grondgebruik. Dit sentraliseer mag t.o.v grondgebruik. Die Wet gaan alle ander wette rakende beplanning en grondgebruik oorheers. Hierdie Wet is gegrond op ʼn visie van ruimtelike transformasie met die duidelike doel om ruimtelike gelykheid en integrasie te bewerkstellig. Dit sluit weereens aan by die hele herverdelingsgedagte dat grond en grondverbruik herverdeel moet word. Met ander woorde vat by blank en gee aan swart. Dit skep onder andere verpligte bepalings aan Munisipaliteite om bekostigbare behuising in residensiële ontwikkeling by grondgebruikskemas in te sluit. As dit vertaal word beteken dit dat lae koste behuising (plakkerskampe) binne gevestigde (lees blanke) woonbuurte gevestig kan word. Onder andere skep dit ʼn tribunaal wat beperkende voorwaardes by titelaktes kan ophef byvoorbeeld indien daar ʼn reg van waterlyding of ʼn reg van weg is, kan die beperkende voorwaarde opgehef word sonder dat die tribunaal enige aanspreeklikheid kan opdoen. Die hele Wet se doel is duidelik om integrasie van woongebiede te bewerkstellig. Dit gaan verseker ‘n ernstig nadelige impak op die waarde van eiendomme in gevestigde woonbuurte hê Konsep eiendomswaardasie Wet: Die wet skep die pos van Waardeerder Generaal wat pryse gaan vasstel in alle transaksies met die Staat en spesifiek grondhervormings transaksies. Dit skep klaarblyklik ʼn nuwe soort waardeerder, genoem ʼn publieke waardeerder. Hoekom is onverstaanbaar aangesien huidige waardeerders daardie funksie baie goed kan vul.

Die doel van die Wet is klaarblyklik om grondherverdeling so vinnig as moontlik te laat geskied en grond teen die laagsmoontlike pryse te bekom. Die Wet moet natuurlik saamgelees word met die Grondwet sowel as die nuwe konsep Onteieningswet asook die Wet op Beskerming van Beleggings. Markwaarde is nie meer die enigste kriteria nie, maar slegs 1 van 5 kriteria soos uiteengesit in Artikel 25(3)van die Grondwet.

5. Restitusie Wet:

Die restitusie proses word heropen en kan nuwe eise ingedien word.

6. Die Grondbestuurkommissie Wetsontwerp 2013:

Die Wet beoog om ʼn Grondbestuurskommissie daar te stel wat verantwoordelik sal wees vir die handhawing van ‘n regeringsdatabasis van alle grond geregistreerd of ongeregistreerd, in die naam van enige staatsdepartement. Die Kommissie gaan klaarblyklik ook die bevoegdhede hê om toekennings t.o.v. dispute rakende oorvleuelende titelaktes. In hoe mate hierdie Wet versoenbaar is met die registrasie van Akteswet is tans onseker. As dit vertaal word ... titelaktes i.t.v. die registrasie van aksteswet is waarskynlik nie meer veilig nie.

7. Huurbehuisingswet:

Hierdie Wet het ten doel om die verhouding tussen huurders en verhuurders statutêr te reguleer, terwyl provinsiale huurbehuisings tribunale oor dispute tussen huurders en verhuurders sal beslis. Die lê verskeie verpligtinge op verhuurders wat die koste van verhuring gaan verhoog en ʼn negatiewe impak het op eiendomsreg en beleggings.

8. Wet op Sekerheid van Verblyfreg - Esta:

Die doel van hierdie Wet is om langtermyn sekuriteit vir okkupeerders woonagtig op landbougrond te bevorder, met die gepaardgaande inperking van eienaars van landbougrond se eiendomsreg en ander regte. Die Wet maak dit baie maklik vir okkupeerders om regte op landbougrond te bekom en maak dit baie moeilik om daardie regte te beëindig en die persone af te sit. Dit het reeds ʼn ernstige negatiewe effek op die plase en gaan in die toekoms ʼn groterwordende negatiewe impak op landbougrond, en spesifiek kommersiële landbougrond (lees: blanke landbougrond) hê.

9. Plaaslike Regering: Munisipale Eiendomsbelasting Wysigingswet:

Die Wet gaan klaarblyklik kortings wat toegestaan word ten opsigte van munisipale belastings oor landbougrond beïnvloed. Presies hoe is nog onseker. Onderontwikkelde grond sal klaarblyklik onderworpe wees aan hoër belastings. Hierdie Wet het ten doel om Munisipaliteite die mag te gee om binne dieselfde woongebied gedifferensieerde belastings te hef – klaarblyklik ter voorbereiding wanneer gevestigde woongebiede geïntegreer gaan word met laekostebehuising. Dit kom daarop neer dat die groter erf en beter ontwikkelde eiendom ʼn hoër belasting gaan betaal en die laekostebehuising direk langsaan ‘n lae munisipale tarief betaal, terwyl dieselfde dienste aan beide gelewer word. Die groter of beter ontwikkelde eiendomme gaan derhalwe die kleiner of minder ontwikkelde eiendomme subsidieer. Die impak op die waarde van die beter eiendomme hoef nie uitgespel te word nie.

 

 

10. Konsep Infrastruktuur Ontwikkelingswet:

Hierdie Wet skep ʼn presidensiële komitee om infrastruktuur ontwikkeling te inisieer en spoedig af te handel. Die komitee bestaan uit die President, die Adjunk President, Ministers aangewys deur die President en Provinsiale Hoofde. Hierdie Wet het die bevoegdheid om infrastruktuur projekte te identifiseer, te inisieer, te beplan en af te handel binne ʼn redelike kort tydperk. Die vraag wat dadelik ontstaan is hoekom infrastruktuur ontwikkeling op die vlak van die President se kantoor hanteer moet word. Infrastruktuur ontwikkeling is iets wat op ander laer vlakke as die President se kantoor hanteer behoort te word. Die vermoede is dat hierdie Wet eintlik ten doel het om politieke druk van die President af te haal. Byvoorbeeld as daar opstande in gemeenskappe is omdat daar nie water is nie, kan die President hierdie Wet gebruik om vinnig ʼn projek vir watervoorsiening van stapel te stuur ten einde daardie gemeenskap van water te voorsien ten einde die politieke druk op die president en ANC te verminder.

11. Swart ekonomiese bemagtiging – BEE

BEE is niks anders as ‘n vorm van herverdeling van rykdom. Dit is ook niks anders as ‘n vorm van ontneming. Dit hetr reeds ‘n wesenlike impak op die verarming van blankes en spesifiek Afrikaners.

12. Legal practice bill:

Die transformasie van die regbank is sentraal en integraal in hierdie hele proses van aantasting van eiendomsregte. Soos reeds genoem hang dit af wie die regter in ʼn hofsaak is, watter wetgewing die regter gebruik om ʼn saak te beoordeel en deur watter bril dit geïnterpreteer word. ʼn Goeie voorbeeld is die Agri SA minerale saak. Die beginsels wat in daardie saak uitgekristalliseer het uit monde van Hoof Regter Mogoeng Mogoeng is dat daar wesenlike onderskeid getref word tussen ontneming in Artikel 25(1) van die Grondwet en onteiening in Artikel 25(2) van die Grondwet. Vergoeding is slegs betaalbaar wanneer onteiening ter sprake is, terwyl daar geen vergoeding betaalbaar is wanneer ontneming ter sprake is nie. Wanneer die Staat as voog die “lekkergoed” van 1 burger vat en aan ʼn ander burger gee is dit nie onteiening nie, maar ontneming. Die argument is dat aangesien die Staat nie eienaar word nie, maar iemand anders, daar geen vergoeding betaalbaar is nie (aangesien dit ontneming is). Dit is niks anders as herverdeling van rykdom op sosialistiese manier. Dit kan opgesom word deur Professor Ziyad Mothala, ʼn professor by Howard Law School, aan te haal: “comparative practice informs us that politics can never be eliminated by judicial selection, nor values divorced from judging...depending on the values and ideological orientation of the judges, contested constitutional provisions are reviewed differently….. The courts political and legal functions can become inexplicably linked; the court becomes a participant in governing! If a faction can control the selection process of judges, they are more likely to achieve certain political outcomes that they cannot secure through the political process”. Die geagte Professor verwys na opposisie partye wat die aanstelling van regters wil beïnvloed of probeer beheer. Die teendeel is egter ook waar, die regerende party beheer tans die aanstelling van regters, en soos gesien kan word in die media word regters ooglopend aangestel met die transformasie en herverdelings oogmerke van die ANC in die oog. Dit is ons voorspelling dat enige toekomstige sake waarby kwessie van ras, BEE of sake teen die Staat ter sprake is, uitsprake en bevindings teen die Staat al hoe moeiliker bekom sal word, spesifiek uitsprake in terme van die wetgewing waarna hierbo na verwys.

Ten slotte:

Die bril waardeur hierdie bogemelde wetgewing en selfs die Grondwet geïnterpreteer word is natuurlik die Freedom Charter bril. Terwyl die Grondwet statutêr die hoogste gesag in die land behoort te wees, word dit klaarblyklik nie deur die ANC as die hoogste gesag beskou nie. Die Freedom Charter word deur die ANC as die hoogste gesag beskou en selfs die Grondwet word deur die bril van die Freedom Charter geïnterpreteer. Die persoon of party wat die politieke mag het en aan die stuur van sake is het ook die interpretasiemag. Die persoon of politieke party wat die interpretasiemag het besluit hoe lyk die wetgewing in terme waarvan hy sy politieke oogmerke wil bereik. Die Grondwet en die wetgewings waarna hierbo verwys is, is die gereedskap waarmee die ANC hul herverdelingsoogmerke gaan bereik