Afrikaners wat trou is aan hulle volk se eer, hoef nie met die ANC-SAKP regime gesprek te voer nie. Mnr Jaap Marais
Die HNP, as prominente lid van die Boere Afrikaner Volksraad, het met laasgenoemde se onderhandeling met die verteenwoordiger van die geldmagte in Suid-Afrika, Cyril Ramaphosa, sy aanspraak om enigsins nog as 'n verteenwoordiger van Afrikaner-nasionalisme op te tree, finaal versaak. Wat ter aanvang gestel moet word, is dat 'n politieke party wat die volgende beginsels handhaaf, nie deelgenoot van so 'n vernederende proses kan wees nie:
* Hierdie land is ons land;
* Ons onderhandel nie met terroriste nie;
* Die proses waardeur die mag aan die ANC-SAKP-regime oorhandig is, was onwettig en daarom is die huidige regime onwettig;
* Die Afrikaner sal sy vryheid net buite die huidige bedeling kan verkry en wel deur verset.
Bogenoemde uitgangspunte was die HNP beginselstandpunt en beleid tot en met 2008. Sedertdien het die HNP bykans elke beginsel waarvoor dit gestaan het, laat vaar. Trouens, die woord "party" is 'n misbenaming vir 'n organisasie wat nou net 'n vryheidsbeweging geword het opsoek na alliansievennote om 'n volkstaat iewers in Suid-Afrika te beding. Daarom was die keuse om met die regime te onderhandel waarskynlik baie maklik.
Die HNP is nou 'n lid van 'n volksraad wat opdrag van Ramaphosa gekry het om meer verteenwoordigend te word, sodat verdere gesprek sinvol kan plaasvind. Hoe dit gaan gebeur met Orania wat klaar die optrede van die volksraad (om nie hulle gebied aan te dui nie) as politieke wensdenkery beskou, sal net die kulkunstenaars van die HNP kan verklaar. En om te dink dat hulle die Afrikanervolk gaan inspireer met so 'n inhoudlose proses, is futiel.
Mnr Jaap Marais het dikwels na 1994 verwys na die dwaasheid van samesprekings met die regime. Ook hy het klem gelê op die feit dat die kommunistiese grondwet hoegenaamd nie gebruik kan word vir 'n aanspraak op "eksterne" selfbeskikking in die vorm van 'n onafhanklike staat nie. Dat dit hoogstens vir interne selfbeskikking soos beperkte seggenskap oor "eie" sake soos taal en kultuur voorsiening maak, is nou weer beklemtoon deur prof Hennie Strydom van die Universiteit van Johannesburg, volgens The Citizen van 18 Augustus 2014 . Daarom lieg die volksraad vir mense as hulle op die huidige grondwet steun as gesag vir 'n aanspraak op volkome selfbeskikking. Hoe pateties en bedroewend moet 'n politieke party se posisie wees as sy leier hoop vir 'n "small Afrikaner country of some kind ... that could be anywhere".
Deur nasionalisme (verset) die rug te keer en 'n verwagting by Afrikaners te skep dat deur onderhandeling 'n tuiste vir die Afrikaner verkry sal word, is nie net politieke misleiding nie, maar 'n daad van verraad. Ja, verraad mag 'n woord wees wat maklik rondgeslinger word tussen Afrikaners sedert FW de Klerk se oorgawe, maar het mnr Jaap Marais nie vir Ferdi Hartzenberg, Constand Viljoen en andere juis van verraad beskuldig toe hulle die pad van onderhandelings, eerder as verset gekies het nie? Wat maak die huidige onderhandelaars se optrede anders? Die uitgangspunt is tog dieselfde: Die regime word erken, ons volk se historiese aanspraak prysgegee en nasionalisme met verset as wagroep, die rug gekeer in ruil vir onderhandelings vir 'n onomskrewe gebied.
Mnr Jaap Marais het ook gesê dat 'n volk nie deur "konstitusionele kontrepsies en politieke praksasies leef nie, maar deur die wil wat hy kan monster om homself te handhaaf en te betuig". Selfhandhawing en -betuiging was nie op die volksraad se agenda toe hulle met Ramaphosa gepraat het nie, maar veel eerder verloëning van 'n volk se historiese aansprake en -regte. Daarom was dit 'n oefening in selfvernedering. Die boodskap is tog duidelik: Mnr Ramaphosa, gee tog vir ons net 'n stukkie land! Die vraag wat elke Afrikaner met selfrespek moet vra is: Sou Paul Kruger of Hendrik Verwoerd tot sulke laagtes gedaal het?
'n Mens het hierdie tipe politieke opportunisme van persone soos Andries Breytenbach en Henk van der Graaf verwag. Wat wel verstom is dat stoere HNP-lede soos Meinhard Peters en andere wat vir baie jare onwrikbaar gestaan het by die onverdunde nasionalisme van mnr Jaap Marais, klaarblyklik nie die verraderlike optrede kon keer nie. Dat die onderhandelaars in die HNP die oorwinning behaal het, is duidelik. Wat nog duideliker is, is dat die HNP hierdie verraad nie sal oorleef nie.
As die eise van die stryd vir die HNP te hoog geword het en "too ghastly to contemplate", verwyder julleself dan eerder van die politieke toneel, eerder as om ons volk voor sy vyande te verneder!
