Media

AFRIKAANS AS TAAL WORD DOELBEWUS ONDERGRAWE DEUR DBO.

altDaar is ‘n doelbewuste aanslag op Afrikaans as taal deur die verantwoordelikheid vir die voorsiening van die noodsaaklike leermateriaal van een organisasie na die ander te verskuif sodat leerlinge al vir drie jaar sonder die nodige boeke moet klaarkom.  

Indien Afrikanerouers hulle kinders se onderwys ernstig opneem, sal daar daadwerklik opgetree moet word om te verseker dat kinders die nodige blootstelling kry, hetsy deur ernstig in massa druk op die departement van onderwys uit te oefen, ditsy,  en verkieslik, tuisonderrig as alternatief te ontwikkel tot ‘n haalbare groepsbenadering van ouers en onderwysers in bepaalde bedieningsgebiede. Ons kinders word van hulle volk en geskiedenis asook van morele en sedelike waardes in die staatskole vervreem. Ons het al feitlik ‘n hele geslag kinders verloor deur swak onderrig, ontoereikende leerplanne, verdraaide geskiedenis, gedwonge kultuurvermenging en blootstelling aan dwelmmisbruik deur swak beheer en gebrek aan dissipline. In kort, die departement van onderwys het ‘n gevaarlike instrument geword in die vorming van ons kinders se lewens-en-wêreldbeskouing!

 

LEERDERS SIT SONDER TWEE AFRIKAANSE WERKBOEKE

 ANIKA MARAIS Dinsdag 29 Julie 2014

KAAPSTAD. – Gr. 1 tot 3-leerders in die Wes-Kaap sit sonder werkboeke vir Afrikaans Eerste Addisionele taal. Laerskoolleerders wat Afrikaans Eerste Addisionele Taal op skool moet neem, het die afgelope drie jaar nog nie werkboeke vir dié vak ontvang nie. Leerders benodig twee van die boeke per jaar. Dit is in kleur gedruk en sluit ’n paar bladsye plakkers in. 

Volgens Martie Viljoen, die adjunkhoof van Laerskool Fanie Theron, ’n parallelmediumskool in Kraaifontein, vereis die departement van basiese onderwys (DBO) dat dié boeke daagliks in die klasse gebruik moet word. “Dit maak dit baie moeilik vir die onderwysers. Ons rol nou van die aktiwiteite in die boeke af of ons wys vir die klas ’n elektroniese weergawe van die werkboek op ’n witbord voor in die klas,” het sy gesê.  

Volgens Paddy Atwell, woorvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), is dit nie die provinsiale departement se verantwoordelikheid om die boeke te druk en te versprei nie, maar dat die DBO werkboeke moet verskaf. 

Die woordvoerder van die DBO, Elijah Mhlangam, het egter gister gesê die DBO druk geen werkboeke vir Afrikaans Eerste Addisionele Taal nie. “Die werkboeke is deur die DBO ontwikkel en versprei via die DBO se webtuiste vir die verskillende provinsies om self te druk en te versprei soos benodig word.”

Geen werkboeke is landswyd aan gr.1 tot 3-leerders verskaf wat Afrikaans Eerste Addisionele Taal op skool moet neem nie.