Media

EUGENE DE KOCK SLAAN TERUG IN BRIEWE UIT DIE TRONK: (Rapport)

altToe die generaals die grondwet moes beskerm, ‘n greep vanuit die Staatsveiligheidsraad op die politici moes neem wat die Afrikanervolk se flanke begin blootlê het met détente, konsensus en onderhandeling, het hulle hoë sosiale profiel  hulle ontvanklik gemaak en gekompromitteer  tot uitverkoping in teenstelling met beskerming van die volk in wie se diens hulle gestaan het. Die greep van dissipline waarmee ons opgelei was sou hulle moes beskerm vir dit waarvoor hulle die oë gesluit het en hét weliswaar tot vandag toe.  Maar nou raak dit ‘n bietjie dik vir ‘n daalder as die manne wat die spit moes afbyt se hoop op vryheid telkens op die horison verdwyn en hulle dan nog boonop moet lees en hoor hoe “onskuldig” die skuldiges pleit!

‘Luister nou, generaal, onthou u die keer toe...’

2014-07-19 22:50

Generaal Johan van der Merwe

"Genl. Van der Merwe, my boodskap aan u is, om die ontslape skrywer Christoffel Coetzee aan te haal uit sy boek Op soek na ¬Generaal Mannetjies Mentz: ‘Ek is nie weg nie, generaal, ek is nog net nie terug nie!’ ”

Dit is die woorde van kol. ¬Eugene de Kock aan dié voormalige polisiekommissaris ná dié se ope brief die afgelope week waarin Van der Merwe sê daar is geen bewyse van enige aard dat enige destydse SAP-generaal geïmpliseer is in enige van die moorde waaraan De Kock skuldig bevind is nie.

In ’n brief aan Rapport skryf De Kock:

“U deel nie die publiek mee dat genl. *********** ten tyde van die Maponya-voorval reeds ’n senior vol kolonel was en later die nasionale hoof van die veiligheidspolisie se inspektoraat geword het nie.

“Ek, daarteen, was ’n junior kaptein wat in daardie stadium onder kol. ********* se bevel gedien het,” skryf De Kock.

“Niemand moet die indruk kry of dink dat ek aanspreeklikheid ontken of enige optredes en die gevolge daarvan probeer ontduik nie.”

De Kock skryf hoekom daar volgens hom geen getuienis is van hoëvlak-aandadigheid nie:

“Tydens die verskeie kommissies, en veral die Harms-kommissie, het generaal (toe nog brigadier) ***********  alle verklarings opgestel. Ons moes net teken.

“Die polisie kon dit nie waag dat ons self verklarings opstel nie. Eiseregisters, reis- en verblyfregisters, dokumente soos veiligheidsverslae en elke moontlike bewys is opgespoor en verwyder of vernietig.

“Só wis ons alle rekords en bewysstukke uit om ons self te vrywaar.

“En dan later, met ironie wat dodelike gevolge het vir jouself, het jy self geen bewysstukke om jou eie saak te staaf nie.”

De Kock skryf: “Om te dink dat ek, omdat ek die minste geag is voor die verandering van regering, en daarna so prominent die sondebok moes word van die ou bestel, soveel geweet het.

“Hoeveel te meer weet u en die ander dan nie, generaal!

“Ek is gebruik om jou en al die ander soos jy se tuimel van ’n baie hoë hoogte te breek.”

De Kock gee dan ’n paar gevalle om Van der Merwe se “geheue te verfris”:

 

1. ‘LSD-eksperimente’

* “In 1979-’80 besoek u Koevoet se paar lede in Oshakati in die destydse Suidwes-Afrika. ***** sit aan die hoof van die tafel, die senior persoon in beheer van die gesprek.

“Sy Afrikaans is pragtig, suiwer en duidelik. Hy vertel ons hoe hy self met die  verbode LSD op van die gevangenes in veiligheidspolisie-aanhouding eksperimenteer.

“Om hulle te laat praat en inligting te laat gee.

“En reg oorkant my kyk ek na ’n kantoor met kaste en kaste vol blikkiesvleis wat met dubbel-dosisse tallium behandel is; net reg vir aanwending indien nodig.”

 

2. ’n Plofstof-krisis

* De Kock skryf die Oos-Rand-veiligheidstak “neem die ondervraging van ’n Inkatha-lid te ver” en hy sterf.

“Ek word genader vir hulp. Ek gee raad én verskaf Oosblok-vervaardigde springstof en ontstekers.

“Maar die poging om die toneel na sabotasie of poging tot terreur te laat lyk, loop heeltemal skeef weens die lede se gebrek aan ondervinding met springstof.

“Dit lei tot ’n krisis wat die veiligheidstak-lede gaan ontbloot. Ek nader genl. **********. Hy reël dat genl. ********** die springstof-toneel besoek, ondersoek en hanteer. Die saak word so ‘reggetrek’. Alles is reg. Probleem opgelos.”

 

3. Die ‘tube’-probleem

 

* “Laat een aand kry ek ’n oproep van kapt. **********, bevelvoerder van die veiligheidstak op **********. ‘Heeelp!!!’ gil hy oor die foon. ‘Ons het ’n man vermoor.’ Ek stuur twee ¬lede van seksie C.1 om hulp te verleen. Ons is goed vir die vuilwerk! Die **********- veiligheidstak-vermoorde, Sweet Sambo, verdwyn.

“Hy is met die ‘tube’-metode vermoor. Die binneband word oor die mond en neus getrek.

“Suurstof-ontneming lewer, met enkele uitsonderings, al die gewenste inligting op.

“Genl. ********** is nie beskikbaar nie, en ek lig kol. ********** in wat op sy beurt genl. ********** inlig.

“Hulle vlieg summier met die veiligheidstak-helikopter na die Skwamaans-polisiebasis naby Komatipoort op die pad na die dorpie Naas.

“Daar moet opgeruim word en ‘skoongemaak’ word.

“Kol. ******* lig my die volgende oggend in dat hulle nog die binneband met speeksel, slym en bloed aan op die toneel gekry het, sowel as ander bewysstukke.

“Geen vervolgings vind plaas nie. En die laaste keer wat ek met oud-kapt. ****** gepraat het, was hy baie tevrede met homself.”

 

4. ‘Toe trap hy op sy kop'

 

* De Kock vertel van ’n voorval in die destydse Wes-Transvaal waarin “drie of vier” mense doodgeskiet is.

“Lt. ********** loop na (die) gewonde, bejaarde man. Hy trap sy kop onder in ’n poel water vas en bly op sy kop staan totdat hy verdrink. Hierdie persone het geen wapens gehad nie, nog geen misdaad gepleeg nie.

“Maar die drie afgedeelde blanke lede van die seksie se vaders was almal baie senior lede van die S.A. Polisie se veiligheidstakke. Generaal, brigadier.

“Die ondersoek-beampte van die Pretoria moord-en-roof vind ernstige ongerymdhede en stel dit só in sy verslag. Maar genl. ********* ‘trek’ die saak reg. Alles is in die haak. Geen probleme nie. Hierdie groep manne van u word ook nie vervolg nie.”

De Kock sluit af:

“Ek wou nooit daar gaan en daardie kissie van Pandora oopmaak nie. Maar laat ek daardie kruis dan ook vir myself baie, baie ligter maak. U verplig my nou, na aanleiding van u aanhoudende druk, om daaroor te skryf. Ek gaan so maak, volledig en duidelik.”

 

Groete,

Eugene A. de Kock (Gevangene 94616105)