KYK NOU OM JOU EN KYK DAN NA DIE GESKIEDENIS! Ja, spreekwoordelik is die Afrikanervolk nou aan alle kante blootgestel aan verskeie vyande wat ons met die banvloek wil tref! Hoewel daar sedert die ontstaan van ons volk aanslae teen ons was, het die Afrikanervolk nog altyd daarin kon slaag om dit of af te weer en waar ons nederlae gely het, weer op te beur en opnuut op te bou wat tot in die grond toe vernietig was. As ‘n nuutgeworde volk, opgegroei binne die beskerming van die geloofsmure wat gevestig was op die vaste fondament van HOM wat die mure van Jerigo van ‘n ongelowige volk kon laat instort sonder dat daar ‘n hand op die muur gelê was, kon ook ons aanslae afweer, uit neerlae opbeur en uit die as uit opbou.
GELOOFSMUUR VAN DIE AFRIKANERVOLK
Die 1961 grondwet het die “geloofsmuur” van die Afrikanervolk beskryf en ook beskerm: In die handleiding Persone en Familiereg van J.D. van der Vywer en Joubert, is daar op bladsy 40 ʼn bespreking van die bepaling van Artikel 2 van die grondwet van die Republiek van Suid Afrika, 110 van 1983. Maar wat het u en ek gedoen toe die Drie-Enige-God van die Christendom waarin ons Afrikaners geglo en dit so bely het in die 1961 Grondwet van Suid Afrika vervang is met die Almagtige God van die bevolking van Suid Afrika in 1983? Ons ongeërgdheid oor sake van uiterste belang het reeds toe al duidelik geblyk!
22 JAAR LATER.
Die 1983 grondwet het die fondament van die muur só ondergrawe: Omdat die Grondwet van die Nuwe Suid-Afrika ’n onchristelike grondwet is wat nie die oppergesag van God-Drie-Enig erken nie aangesien in die aanhef van die grondwet van Suid-Afrika staan: “Daarom neem ons, deur ons vryverkose verteenwoordigers, hierdie Grondwet aan as die hoogste reg van die Republiek…” Let wel, nie God die hoogste reg nie maar die Grondwet, die mens se reg, het daar toé al ‘n yslike gat in ons “muur van beskerming ontstaan!
Wanneer Afrikaners uit wanhoop aan die stelsel begin deelneem deur bv. in die regime se verkiesings te stem, wil die AVP opnuut vra dat daar kennis geneem moet word oor die implikasie van deelname.
GRONDLIGGENDE BEPALINGS IN HOOFSTUK 1 VAN DIE NUWE “ONDERHANDELDE GRONDWET”:
Republiek van Suid-Afrika
(c) Die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg. (my beklemtoning)
Oppergesag van Grondwet:
2. Hierdie Grondwet is die hoogste reg van die Republiek; enige regsvoorskrif of optrede daarmee onbestaanbaar, is ongeldig, en die verpligtinge daardeur opgelê, moet nagekom word.” .(my beklemtoning)
Alle lede wat tot die Parlement, Nasionale Raad van Provinsies, of Provinsiale Wetgewers verkies wil word moet ’n eed aflê dat hulle bogenoemde Onchristelike Grondwet sal eerbiedig en onderhou!
Hier is verdere uittreksels uit die Grondwet:
HOOFSTUK 3
REGERING VAN SAMEWERKING
Regering van die Republiek
40. (1) Regering in die Republiek bestaan uit nasionale, provinsiale en plaaslike sfere van
regering wat onderskeidend, onderling afhanklik en onderling verbonde is.
(2) Alle regeringsfere moet die beginsels in hierdie Hoofstuk handhaaf en nakom en moet hul
werksaamhede binne die perke wat deur die Hoofstuk bepaal word, verrig.
Beginsels van regering van samewerking en inter-regeringsbetrekkinge
(d) getrou wees aan die Grondwet, die Republiek en sy mense;
(e) die grondwetlike status, instellings, bevoegdhede en funksies van regering in die ander
sfere eerbiedig;
(f) hulself geen bevoegdheid of funksies toe-eien behalwe dié wat ingevolge die Grondwet
aan hulle opgedra is nie;
Eed of plegtige verklaring
48. Voordat lede van die Nasionale Vergadering begin om hul funksies in die Vergadering te verrig, moet hulle ooreenkomstig Bylae 2 ’n eed of plegtige verklaring van getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet aflê.
60. (1) Die Nasionale Raad van Provinsies word saamgestel uit ’n enkele afvaardiging uit
elke provinsie bestaande uit tien afgevaardigdes.
(6) Voordat vaste afgevaardigdes begin om hul funksies in die Nasionale Raad van Provinsies te verrig, moet hulle ooreenkomstig Bylae 2 ’n eed of plegtige verklaring van getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet aflê.
Eed of plegtige verklaring
107. Voordat lede van ’n provinsiale wetgewer begin om hul funksies in die wetgewer te verrig, moet hulle ooreenkomstig Bylae 2 ’n eed of plegtige verklaring van getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet aflê.
(3) Voordat die Waarnemende Premier die verantwoordelikhede, bevoegdhede en funksies van die Premier aanvaar, moet die Waarnemende Premier ooreenkomstig Bylae 2 ’n eed of plegtige verklaring van getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet aflê. (Aldus die Grondwet van die Nuwe RSA sedert 1994.)
Vergelyk dit met die 1961 grondwet toe Suid-Afrika ’n Republiek geword het en vergelyk dan ook sommer die seën wat ons toe ervaar het teenoor ons benouing van vandag voordat u weer gaan stem of ‘n organisasie steun wat hierdie stelsel aan die hand van hierdie godlose grondwet wil laat werk!
In Persone en Familiereg van J.D. vd. Vywer en Joubert, bladsy 402, was ons vroeg reeds gewaarsku dat daar in die 1983 Grondwet, in teenstelling met die Grondwet van 1961, statutêre bepalings met ‘n godsdienstige grondslag bestaan wat ‘n bepaalde neutraliteit ten opsigte van verskillende gelowe en geloofsverskille handhaaf. Hulle geldige argument lui so: “Artikel 2 van die Grondwet van die RSA 110 van 1983 bepaal in dié sin: “Die bevolking van die RSA erken die oppergesag en leiding van die Almagtige God.” Daar sou ‘n saak uitgemaak kan word dat die wetgewer met “Almagtige God” in die oorspronklike godsbelydenis in artikel 2 van die Grondwet van die RSA 32 van 1961, die God van die Christendom in gedagte gehad het.
Met die godsbelydenis in die 1983 Grondwet is die egter klaarblyklik nie die geval nie. Dit is naamlik opvallend dat daar in die 1961 Grondwet verwys word na wat “die Volk van die RSA” sou erken, terwyl die 1983 Grondwet in dieselfde verband na die “bevolking van die RSA” verwys. Wat ook al met “Volk” in die 1961 Grondwet bedoel is, staan dit vas dat “bevolking” in die 1983 Grondwet die verskeidenheid van volkere in Suid Afrika insluit; en aangesien daardie volkere verskillende verteenwoordigende godsdienste (insluitende nie-Christelike godsdienste soos dié van Islam, die Hinduïsme en die Joodse geloof) aanhang, kan “Almagtige God” in die 1983 Grondwet nie met God Drie-Enig van die Christendom vereenselwig word nie. In die Ampseed wat deur die Staatspresident afgelê moet word (art 11(1) van die Grondwet van die RSA 110 van 1983) word eweneens na “die Almagtige God” verwys; en aangesien die ampseed nie die presidentsamp vir Christene reserveer nie, dui dit ook daarop dat diè god een is wat byvoorbeeld Christen, Jood, Hindoe en Mohammedaan, elkeen na gelang van sy eie besondere godsidee, ingeklee kan word.
Indien ons hierin gelyk het, naamlik dat die wetgewer in die Grondwet ‘n soort potpourri-god bely, moet dié godsbelydenis deur ten minste Christene verwerp word, omdat ‘n mens ingevolge die Christelike leer geen ander god voor die aangesig van die God van die Skrif mag hê nie.” Aldus vd Vywer en Joubert.
DEELNAME TEN KOSTE VAN ‘N VOLK SE VOORTGANG!
In die lig van bo-staande kan geen gelowige deelneem aan die huidige stelsel behalwe as hy of sy nie ernstig is met hulle godsdiens nie. Dit is juis as gevolg van die uitskryf van Christus uit die grondwet van 1983 dat dit met die Afrikanervolk nie goed gaan nie! Die volgehoue ondersteuning, samewerking en onderhandeling met antichristelike, Godlose en goddelose partye en organisasies dra grootliks by tot die benouing waarin die Afrikanervolk ons tans bevind en die gevolglike blootstelling aan aanvalle op elke moontlike terrein van ons volkslewe!
’n Grondwet wat homoseksualisme en aborsie goedkeur soos die huidige “moderne” grondwet waaraan partye trou moet sweer, demonstreer daarmee die minagting vir God en Sy gebod en dienstigheid aan die wêreld. Steun aan hierdie Godlose en Godslasterlike bestel, word ondersteuning vir jou eie ondergang! Wees wys, wees gelowig en wees getrou deur jou daarvan te weerhou! Dit is die sterkste vorm van afkeer wat die Afrikanervolk kan demonstreer teen die onreg waaraan ons deur verraad onderwerp is, en maak só ’n bydrae om ons “muur van beskerming” weer opgerig te kry!
WAT NOU VORENTOE?
Wat met ons volk gebeur het na die moord op dr. Verwoerd, is weliswaar water onder die brug deur. Die klakkelose kritiek van wat doen julle behalwe om te kritiseer het egter net so min waarde as om aan te hou deelneem aan ‘n stelsel wat besig is om jou te verteer. Daar is veel gemeenskaplikhede waar rondom die Afrikaner kan laertrek. Dit is egter noodsaaklik dat daar eers eenstemmigheid bereik word oor wie en wat ons vyand is. Om van ons hemelse Vader ‘n vyand te maak en dan te dink dat ons op ander terreine kan saamwerk, is om in die donker rond te tas na lig wat nie te vinde is nie.
Om voortdurend aan die simptome te karring het geen blywende waarde nie en verleng net die tydperk van onreg terwyl enkelinge daardeur bevoordeel word. Indien die Bybelse waarskuwing dat geen koninkryk wat in homself verdeeld is staande sal bly nie, aanhoudend ignoreer word, sal die totale aanslag aanhou en ons vryheid uitbly. Die twis in die onderskeie kerke en gevolglike afvalligheid is sekerlik ‘n sprekende voorbeeld van verval. Die aanslag op ons volk en sy eertydse Godswaardes deur die sport-en vermaaklikheidswêreld kan egter effektief afgeweer word indien ons weer uit innerlike oortuiging ons geloofsmuur oprig waarbinne ons op veral onderrigterrein ons kinders met durf en daad kan beskerm en toerus om die Afrikanervolk van môre se vaandel met eer te dra! Dit word nou tyd om ons hakke in te slaan en vas te staan teen die aanslae teen ons deur kwotastelsels, BEE, onderwys-integrasie, plaasbesettings, ens., terwyl die infrastruktuur rondom ons verteer word!
