Media

(“AS DIE LIG VAN DIE VERLIGTES”) NOG VETKOLLE!!

altThe scales began to fall from my eyes. I came to realise that the Left was not on the side of truth, reason and justice. (Melanie Phillips.)

As Dawie de Villiers se nabetragting in oënskou geneem word, kan ‘n mens nie anders as om stomgeslaan te wees dat Afrikaners iemand met só ‘n ontoereikende insig oor die politieke implikasies vir sy eie volk wat gelykstelling sou meebring, kon verkies en vertrou dat hy die heersende belange van sy volk sou bevorder en beskerm. Dit ten spyte van dr. Verwoerd se onomstootlike argumente wat selfs wêreldwyd nie weerlê kon word nie en waaraan hulle almal deurlopend blootgestel was. 

Vir bykans vier dekades is Suid Afrika vasgevang in die web van die liberalisme, met vernietigende gevolge. Met die sigbare tekens en selfs die onderwerping aan die dekadente, korrupte en barbaarse invloed wat die liberalisme in ons land tot gevolg gehad het, wat die Afrikanervolk, ons land, maar erger nog, ons selfrespek gekos het, is daar nou nog mense wat deur die DA en ander instellings, die “Nuwe Suid Afrika” op die beginsel van gelykheid probeer maak werk!

 

Gelowige Afrikanerleiers van gister, wat die diepte en wydte van die Bybelse begrip dat: Die hart van die wyse is na regs, maar die hart van ‘n dwaas is na links. (PREDIKER 10:2), verstaan en prakties in beleidsbepaling en toepassing as riglyn gebruik het, het by die liberale denkers verbygestuur en die lokval van die gelykheidsbenadering vermy. Dit was ook nie in die geheim gedoen nie maar duidelik uiteengesit met die voor-en-nadele daarvan uitgespel, plaaslik en internasionaal, sodat almal geweet het waarom dit so gedoen word.

 

Die gevolge van die teenpool van Nasionalisme is besig om die skille van die misleide wêreldling se oë en ore te laat afval. Al meer rasionele ontledings van die liberalis se denke kom na vore om te bevestig wat die Afrikaners as Lewens-en-wêreldbeskouing gehandhaaf het, nie net moreel regverdigbaar was nie, maar ook polities wys!. Prof. dr. Lyle Rossiter se boek oor die kranksinnigheid van die liberale denke, wat ook in ons land posgevat het, sal hopelik die skuldgevoel waarmee Afrikaners opgesaal word oor die “nadeel” en “verwerplikheid” van apartheid finaal ophef nadat hierdie politieke “wysheid” van de Villiers verteer is, vir sover dit moontlik is sonder sooibrand of selfs iets erger,sodat ons innerlike oortuiging weer eensgesind en saambindend kan word. Kleingeloof en in meeste gevalle, selfs gebrek aan geloof, inhibeer ons vryheidstryd! (Danie Varkevisser)

 

Hanlie Retief gesels met Dawie de Villiers

2014-04-26 23:00

Rapport

Jacob Zuma is die slegste ding wat Suid-Afrika die afgelope 20 jaar getref het.

Dié woorde kom van Dawie de Villiers, ’n man wat voluit beding het vir die bedeling wat Suid-Afrika nou het. Konsekwente verligte Nat. Hy was ’n onderhandelaar in Kemptonpark. Van die mees verligte toesprake ooit deur ’n Nat-minister in die Volksraad het hý gehou.

 

So, as hy praat, kan ’n mens maar regop sit en luister. Hy was nog nooit iemand wat sal sê “sién, ek het julle mos gesê” nie. “Zuma het ons land gelaagvat, ons is onderstebo, wind-uit,” gee die oud-Bokkaptein ’n rugbybeeld.

 

Selfs die vooruitsig van ’n koppie koffie saam met sy ou vriend Pik Botha môre in Pretoria – Pik vir wie hy destyds téén PW Botha ondersteun het (“as die lig van die verligtes”) om eerste minister te word – kan nie die donker wolk oor Dawie de Villiers se gemoed lig nie.

 

“Ons land het gegly van die hoop en entoesiasme van 27 April 1994 se lang verkiesingstoue tot ’n platgeduikte 27 April 2014. As ons nog vyf jaar het van Zuma...” Hy skud sy kop. “Ek sien FW is besig om maar steeds te sê solank die Grondwet net behoue bly sal als goed gaan. Nou ja, ek stem nie heeltemal met hom saam nie.

 

“Zuma pleit vir ’n tweederde-meerderheid sodat hy die Grondwet kan verander. Hy sal dit waarskynlik nie kry nie, maar al bly die Grondwet onaangeraak, bly die druk voortdurend daarop, probeer hulle die Grondwetbepalings wysig wat in die pad van magsmisbruik staan.”

 

Ons sit in hul sitkamer in Koloniesland langs die Eersterivier, digby Coetzenburg, waar hy as tokkelok-Matie onder Dok se korreloog sy drieë leer druk het. Oë blou agter die brilraam, gladde wit kuif nou silwer.

 

Jy onthou Springbok-drie nr. 245 op Loftus teen die Britse Leeus, Gerhard Viviers in spiekeries-vervoering agter sy mikrofoon: “En Eben Olivier, dié gee vir Tommy Bedford, Tommy Bedford vir Dawie de Villiers en hy druk hom! En hy drúk hóm!”

 

’n Legendariese voorspeler uit die ’70’s, dalk Frik, dalk Mof, het Dawie destyds “die grootste f*kken wit man wat ek ken” genoem.

 

Wat ons land nou nodig het, is ’n driedrukker. ’n Entoesiastiese nuwe leier as president, knik hy.

 

“Wat ’n goeie kabinet kan saamstel. Wat die goeie plan wat lankal op die tafel is – Trevor en Cyril se Nasionale Ontwikkelingsplan – kan uitvoer. Wat sê: ‘Ons gaan ons verdeelde land saamsnoer, ons gaan werkloosheid ’n hou op die mond gee.’ ”

 

Cyril Ramaphosa? Die oud-vakbonder oorkant die onderhandelingstafel, waar Dawie as een van die Kemptonpark-drie saam met Leon Wessels en Roelf Meyer ons nuwe demokrasie beding het?

 

Tjoepstil Cyril, deesdae – oor sy president se manewales?

 

“Ek dink hy speel ’n politieke spel, dis hoekom hy nou nie ’n voet verkeerd sit nie – jy sien hom nie, jy hoor hom nie. Sy oog is op die presidentskap, dink ek, nou of later. ’n Bekwame man, skerp, uitgeslape, met wie jy versigtig redeneer. Ek sou baie gemakliker voel met hom aan die stuur. Ek dink hy’s ook keelvol, hy’s te veel van ’n netjiese mens om dinge sommer net so te wil aanvaar.”

 

Hy lag, skerts: “En hy’t nie ’n ryk ou nodig om hom te steun nie. As jy R20 miljoen vir ’n buffel kan betaal, moet jy pitte hê, dis vir seker.”

 

Dis ’n fout om ons demokrasie van die afgelope 20 jaar te vergelyk met Suid-Afrika voor 1994, sê Dawie. “Die terugverwysing na die apartheidsverlede is ’n slenter om kritiek teen die Zuma-ANC se gebrek aan demokratiese verbintenis weg te praat. Dis oëverblindery.

 

“Die werklike toets is om die beginjare van demokrasie – die Mandela-era – te vergelyk met vandag. Wat ons moet vra is: ‘Het ons vordering gemaak sedert Mandela? Wat het gebeur met nasiebou, met landsadministrasie?’ Dís waar ’n donkerder prentjie na vore kom.

 

“Selfs lojale ANC-ringkoppe verset hulle nou openlik teen die Zuma-leierskap se plundering van die Mandela-nalatenskap.

 

“Mandela se impak was sy onkreukbaarheid as ’n eerbare man wat sy land en mense eerste gestel het. Dan kom Mbeki, aanvanklik goed, later wankelend, maar sonder die kommer wat ons vandag het. Zuma – kyk hoe minag die senior ANC’s die Art. 9-instellings, hoe val hulle die openbare beskermer aan, kritiseer die howe.”

 

Hy kry so die gedagte, ná al die NP-jare se verdelende, rasgebaseerde regering, dis weer volsirkel: “Nou’s die ANC óók besig met rasgedefinieerde aanstellings. Rasgedefinieerde bevorderings. Rasgedefinieerde sport. Is ons besig om terug te gly in ’n rasgebaseerde wêreld? Dis ’n tragiek. ’n Tragiék!”

 

Ontsteltenis keep op sy gesig.

 

“Kyk net om jou,” swaai hy sy hand, “op die universiteitskampus sien jy hoe ons wél een nasie word. Maar terselfdertyd word hierdie verdelingslyne in ons keel afgedruk.”

 

In die Kemptonpark-onderhandelinge het hy Zuma leer ken as ’n aangename ou wat jou met warmte groet. “Maar hy’t duidelik meer as een gesig. Hoe hy mense so doeltreffend agter die skerms kan manipuleer, weet ek nie. In enige ander politieke party sou hy lankal uitgeskuif gewees het.”

 

Die kans dat Zuma Krismis 2015 as president gaan vier, is skraal, meen hy.

 

“Planne word stil-stil geprewel: Al vaar die ANC selfs net een persent swakker in die verkiesing, kan hulle dit dalk gebruik om Zuma te pos.

 

Ander reken dis oneties om Zuma, wat hulle deur die verkiesing geneem het, net daarna uit te skop. Speel hom dus vir ’n jaar of twee en skop hom dan uit.”

 

Om egter te dink ANC-lojaliteit by die stembus gaan oor ’n verkiesing of twee verdwyn, is ’n hersenskim. Dis die een ding wat ’n leeftyd in die NP hom geleer het: “Ons het altyd gespot dat jy sommer ’n paal kan staanmaak vir die NP, dan sal hy ’n klomp stemme trek. Dit geld die ANC-lojaliste selfs meer.”

 

En die DA? Beperkte groei, sê hy.

 

“Hulle mik vir meer, maar ek wonder of hulle nie reeds hul maksimum bereik het nie. Hul oorgang na swart leiers skep ’n bietjie van ’n speed wobble. Helen het ook haar vingers op ’n paar plekke verbrand, wat mense nou twee keer laat dink.”

 

Interessant vir hom is die kleiner partytjies, soos Julius Malema se EFF. “Hy laat my dink aan (Venezuela se) Chávez. Hy’t die sjarme, kan met armes werk en is nie op sy mond geval nie. Ramphele? Hulle’s dood in die water.”

 

Is daar een ding waaroor hulle destyds beter moes onderhandel?

 

“Ek sou sterker versekeringe wou kry oor taal en onderwys. Terugskouend kon ons dinge anders gedoen het, maar in daardie stadium handel jy soos jy dit sien. Jy wil wen, maar jy moet ook toegee; dis nie so maklik nie.

 

“In onderwys... kyk, alles het net vererger toe die ANC die onderwyskolleges toegemaak het. Die land is van onderwysers beroof. Dit neem 20, 20 jaar om só iets weer op te bou.

 

“Jy weet, naas my ouers is daar twee of drie mense, onderwysers, wat die grootste invloed op my lewe gehad het. Sal vandag se kinders dit kan sê?”

 

Die De Villiers-huis is ’n stil getuie van ’n lewe wyd soos Pieter van der Westhuizen se Swartland teen die muur, Claer­hout se Vrystaat. Daar’s Spaanse boeke uit hul Madrid-jare as adjunk-president van die VN se Wêreldhandelsorganisasie (WTO) waar hulle die taal vlot leer praat het, ’n 1982-geskenktafeltjie van die Roodepoortse Sakekamer, plekmatjies uit Nieu-Seeland, die regop familieklavier, ’n glaspot waarin Suzaan groen loof gerangskik het.

 

Dan swaai die voordeur oop. “A, Suzaan. Sy’t haar stappie ingekry,” sê hy, en sy stap haastig binne, kortbroek, tekkies, vol glimlag. Hulle’s amper 50 jaar getroud, daar’s vyf kleindogters in die dorp wat heeldag inwarts, ’n naamgenoot-kleinseun van drie vir wie “ouma tennisrakette aandra, maar hy’t klaar ’n rugbybal”, lag hy.

 

Dawie dink Craven sal in sy graf omdraai as hy vandag se rugby moes aanskou. “Vir Dok en ons was rugby ’n hardloopsport. Jou voorspelers se taak was in die skrum en lynstane, die losspel. Die fokus van die spel was hardloop. Nou laat die reëls ’n klomp goed toe wat die gemaklike vloei van die spel benadeel.”

 

Anders as sy vriende sit hy nie naweke en kyk die een Supersport-wedstryd ná die ander nie. “Dis net te veel. Ek lees liewer. Soos nou...” sê hy en skud sy kop moedeloos oor homself. “Ai, ek stel in te veel goed belang, dis my moeilikheid!”

 

Hy lees tans Margaret MacMillan se The War that Ended Peace. “Hoe die Eerste Wêreldoorlog so amper toevallig begin het: swak besluite oorhaastig geneem, die een stapel op die ander, spanning spiraal hoër, en skielik, onverwags is die breekpunt daar, onmoontlik om te keer.”

 

’n Oomblik lank hang die stilte, die parallel, swaar in die lug.

 

“As ons nie gou by ’n draaipunt kom nie, gaan dinge begin uitmekaar val. Dis soos ’n huis wat verval, daar’s ’n punt wanneer jy hom nie meer kan herstel nie, dan moet jy hom afbreek en oorbou.

 

“Ons móét net. Dis my land, ons kinders is almal hier, ons nege kleinkinders. Ons kies om hier te wees, nie met angs nie, met ’n wil en vertroue dat dinge reggestel kan word.

 

“Hier bly ons.”