Of ons dit nou wil weet of nie, is ons al meer as wat besef word, almal beïnvloed deur die vermaaklikheidswêreld.
Ons sedelike en morele kompas is al só beskadig dat ons allerhande verskonings en argumente opper ter verdediging van ons passiewe houding wanneer weerstand vereis word.
Vir ons wat gelowig is, waarsku die Bybel ondubbelsinnig in 2 TIMÓTHEÜS 3:1-5: 1 MAAR weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.
2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,
3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,
4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;
5 mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.
Watter akkurate beskrywing van ons huidige wêreld met sy Godlose vermaaklikheid! Draai ons daarvan weg, vermy ons dit, of geniet ons dit stilswyend saam met die Godloënaars?
Het u al na ‘n rolprent gekyk en na ongure tonele gewonder wat soek u daar? Of was u al blootgestel in u eie huis deur beeldsendings en advertensietonele met banale tonele en kru taalgebruik wat ‘n leefstyl, gestroop van alle sedelike en morele waardes, u ongemaklik laat voel?
Wek sulke tonele woede by u op omdat dit alles waarteen God ons in Sy Woord waarsku op ons uitstort, of verdra ons die sonde wat gevoelloos en doelbewus in ons huise ingedra word? Verdra ons God en Satan albei in ons huise? Is dit moontlik om God met ons hele wese te dien terwyl ons toelaat dat ons gees met die dekadente gevoed word? Terwyl ons weet wat die antwoord is, laat ons tog toe dat hierdie vernietigende elemente in ons wonings inkruip en ons besoedel!
Die waarheid dwing dit wat ons probeer verberg in die lig, naamlik die werklikheid dat dit nog vleeslike gedagtes is wat korrupsie amusant vind en daaraan blootgestel wil wees. I Kor.2:14-16. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.
16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.
Waar plaas u uself en daarnaas ons volk, wanneer hierdie vrae en aanmanings ter sake kom? Kom laat ons elkeen onsself en ons huise reinig. Dit sal ‘n goeie begin wees op pad na ons vryheid, deur te begin om ons gees te bevry!
