Ouma, kleinkind 2 uur lank gemartel Marietie Louw-Carstens Donderdag 27 Februarie 2014
Petro Weyers en haar kleindogter, Chaney. Foto: zoutpansberger
’n Pensioentrekker en haar sesjarige kleindogter ontvang sielkundige berading nadat ’n groep rowers hulle in hul woonstel in Makhado (Louis Trichardt) aangerand en gemartel het.
Petro Weyers (66) het gister huilend vertel dit gaan emosioneel baie sleg met hulle.
“Hulle het my so hard op my oë geslaan dat ek sukkel om behoorlik te sien. Ek kan nie slaap nie.”
Weyers en haar kleindogter, Chaney, is op 6 Februarie in hul woonstel in die Kismet-kompleks in Andersonstraat oorval.
’n Onbekende aantal rowers het deur ’n klein venstertjie met diefwering ingekom.
Zoutpansberger, die plaaslike koerant, het berig Weyers het wakker geword van ’n man wat bo-op haar sit en haar wurg. Nog ’n aanvaller het bo-op Chaney gesit.
Sy het geskreeu: “Ouma, Ouma, Ouma!” Die mans het haar in die gesig geklap. Hulle het haar opgetel en op die vloer gegooi.
Weyers is met ’n mes teen haar keel aangehou. Haar hande en bene is vasgebind en sy is gewurg.
Sy het by tye haar bewussyn verloor en dan weer bygekom. Sy is ook met die vuis in die gesig geslaan. Die mans het wapens gesoek. Hoe meer sy gesê het sy het nie wapens nie, hoe meer het hulle haar geslaan.
Hulle het haar horlosie en juwele van haar afgeruk en R1 200 uit haar beursie gevat. Haar selfoon is ook gesteel. ’n Pajamabroek van Chaney is in haar ouma se mond gedruk. Die marteling het sowat twee uur aangehou.
“Dit was soos ’n rolprent wat voor my afspeel. Ek is nou so bang vir die donker, ek los al die ligte in die dag en nag aan.”
Ná ’n ruk het dit stil geword. Chaney het haar ouma se bene losgemaak.
Weyers het haar broer, Johnny Gouws, toe met die huistelefoon gebel.
Niemand is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie.
Weyers het gesê die ondersoekbeampte kan haar geen nuwe inligting oor die saak gee nie.
Kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het gesê dit word ondersoek.
