Dit verg bloedige en brutale aan-die-bas-voel van wat voorspel en by herhaling oor gewaarsku was, wat ‘n liberalis tot nugterheid dwing. Al skryf hulle in satiriese terme oor die politieke gebeure in die “reënboog” Suid Afrika, is die erkenning dat dié sake waarvoor hulle hulle beywer het en die multikulturele samelewing wat hulle probeer skep het, nie werk nie, nie gewerk het nie en nie gaan werk nie, duidelik waarneembaar in hulle huidige artikels en rubrieke.
Die AVP wil benadruk dat wat beide Herman Giliomee en Tim du Plessis nou oor bespiegel, voor-die-hand-liggende uitvloeisels is van die wanstaltige raslose politieke beleid waarmee hulle “apartheid” probeer vervang het in die “enigste en eerste demokrasie” wat Suid Afrika nog beleef het en wat sy beslag in 1994 gekry het. Selfs by de Klerk, Max du Preez en Hellen Zille slaan die ontnugtering nou soos vetkolle deur in hulle geskrifte en uitlatings. Die spotprent in Rapport spreek van politieke nugterheid wat begin deurskemer.
Die AVP wil aanbeveel dat politieke korrespondente en joernaliste van Naspers meermale ons webblad besoek en op die Volkstem inteken om verdere verleentheid te probeer vermy. Ons plaas die volledige artikel van Tim du Plessis sodat lesers kan sien dat politiek wat krom is, kom van mense wat polities dom is. Die afwyking van die skeidingsbeginsel in die vorm van afsonderlike ontwikkeling, beteken dat die diepte en waarde van daardie goeddeurdagte en deeglik beproefde beleid nog nie gepeil is nie. Dat dit oral in die wêreld, net onder ander vaandels toegepas begin word, is die sekerste bewys dat ons voorgeslagte se aanvoeling reg was en dat die verdwaalde Afrikaners wat vir die DA gestem het, se ontnugtering hulle sal terugdwing na die veilige laer van Afrikanerskap wat steeds sê: Bly weg van die stembus af! Ons tyd om te stem is nie nou nie. Dat dit weer sal kom, kan egter in ‘n klip gekap word.
Laat ons geledere sluit in verset teen die onreg wat teen ons gepleeg word. Kom laat ons in ons innerlike (veral) politieke oortuiging, op mekaar afgestem word om by die samehorigheid uit te kom wat ons nog altyd deur ons geskiedenis saamgebind het. Die noodsaaklikheid vir die herstel van ons Christelik-nasionale fondasie wat ons vyande se teiken was, kan nie oorbeklemtoon word nie. Die aanslae in die vorm van gelykheid, nie-rassigheid, godsdiensgelykheid, ens., sal nooit daarin slaag om vrede en voorspoed te bring nie en moet teëgewerk word om die soort vernedering en ontnugtering wat Zille moes ervaar, te vermy.
Tim du Plessis
Wat sê die DA se Afrikaners?
2014-02-08 23:23
In sy uitstekende artikel verlede Sondag oor die DA/Agang-affêre (dankie tog die gesanik hieroor het nou bedaar) skryf Hermann Giliomee: “Afrikanerkiesers kan weer op trek na ’n nuwe politieke tuiste gaan.”
(Lees die artikel hier.)
Boeiende gedagte van dié noukeurige notuleerder van al die migrasies, politiek en andersins, van die Afrikaners sedert hul vroegste tye.
Dit laat jou wonder: Stem die Afrikaners in 2014 steeds en bloc? Teen die einde van die vorige era was die Afrikanerkiesers diep verdeel – omtrent om die helfte tussen die NP en die KP, albei nou gestorwe partye.
In 1999 het Tony Leon hulle met vernuftige politiek in sy kamp gejaag. En daar sit die meeste Afrikaners nou al 15 jaar in dieselfde party, ’n vermoedelik liberale een waarin hulle nie dood gesien sou word toe hulle nog Natte en Kapees was nie. Dit bly een van die kostelikste ironieë wat in die eens nuwe Suid-Afrika na bo geborrel het.
Die Afrikanerkiesers wat in 1999 hul kruisie by die DA getrek het, was ’n betekenisvolle boublok van die spoggerige gebou wat die DA deesdae is. Al het hulle dit meer gedoen om die ANC te opponeer as om die DA se liberale beginsels te omhels.
Dalk het ’n paar van hulle in die afgelope 15 jaar “Afrikaner-neoliberale” geword en praat hulle deesdae saam wanneer die bloedliberale oor daardie diep dinge gesels in die DA se binneste binnekring.
My spesmaas is die meeste Afrikaners stem DA soos wat oorle’ Tolla van der Merwe Engels gepraat het: uit selfverdediging. Om op haas enige manier weerstand te bied teen ANC-meerderheidsdwang. Selfs al moet jy dan anderpad kyk vir al die onkonserwatiewe dinge wat altyd vir Afrikaners so belangrik was. Dalk steeds is.
Eers Tony Leon en toe Helen Zille het mooi na hul Afrikanerkiesers gekyk. Soort van. Of dié Afrikaner-DA’s ooit Progs geword het, is onseker. Miskien nie. Deesdae kom daar boonop nuwe geluide uit hul party. Nou die oggend op Dagbreek op kykNET sê die DA-leier, Helen Zille: Die party wil ophou om “’n party van opposisie” te wees. Hy wil nou “’n party van regering” wees. Dis iets anders as in 1999, toe hulle in weerwil van Tony se sjarmante skewe en krom Afrikaans opgesaain het.
Jy’t kwalik tien breinselle nodig om uit te werk “party van regering” kan net gebeur as die DA hom nader aan die ANC posisioneer. ANC Lite word, soos iemand dit genoem het.
Ouer Afrikaanse kiesers sal ervaring hiervan hê. In die 70’s en 80’s, toe die NP moes begin hervorm en verander, moes hy ál meer die taal van die Prog-party praat.
Toe Koos van die Merwe, ’n veteraan-LP, in Februarie 1982 saam met A.P. Treurnicht uit die NP-koukus storm, het hy uitgeroep “Ek is klaar met daai Prog P.W. Botha.”
’n Diep sentiment onderlê daardie kreet uit Koos se hart. Deesdae “Oom Koos”.
Die 2014-verkiesing word wyd bestempel as dalk die laaste een waarin die meeste swart kiesers ’n outomatiese “identiteitstem” vir die ANC sal uitbring. Kan dit ook die laaste een wees waar wit Afrikaners hul refleksiewe opposisiestem vir die DA gee?
Ipsos/Markinor peil Afrikaanssprekendes op 50% van die DA se steunbasis. Dis nogal baie om te verloor, veral as daardie kiesers begin dink hulle word as vanselfsprekend aanvaar.
Dié is nie om te beduie die DA se lotgevalle is nou of later net in die hande van sy blok Afrikaanse kiesers nie. Die heil van hul taal en kultuur sal so by so nie in die partypolitieke arena beslis word nie. In sy hart der harte voel die DA eintlik maar vere vir Afrikaans, veral sy liberale kern. Die ANC is Afrikaans aktief vyandig en huiwer nie om die taal met getalspolitiek onder te ploeg nie.
Kom daar ’n nuwe politieke diaspora vir die Afrikaners? Een waar hulle, soos die Jode, politiek verskil, maar saamstaan oor die taal en kultuur?
