Media

DIE GEVOLG VAN DIE WAANSINNIGHEID VAN 1994.

altKINDERVERKRAGTING IN DRAMA-VRAESTEL ONTSTEL

Die gebrek aan die Christelike Nasionale Opvoedingsgrondslag in die onderwysstelsel van Suid Afrika, wat in die slag gebly het nadat die NP regering onder aanvoering van F.W. de Klerk die Afrikanerbeheerde politieke mag op uiters bedenklike wyse aan ‘n Swart, Kommunistiesbeheerde terroristebende oorhandig het, kulmineer nou in die geestelike verkragting van ons skoolgaande kinders. 

Hierdie gedienstige en eerlose agternaloop van die wêreld in sy verwêreldliking van elke Nasionalistiese beginsel en beleidsrigting waar dit nog gehandhaaf word, word goed beskryf deur ‘n Hollandse spreuk wat so lui: “Wie altijd met de grote kudde meegaat, zal regelmatig door de stront van een ander lopen”. ‘n Beter beskrywing van waaraan de Klerk en genote die Afrikanervolk gedompel het, is nouliks denkbaar. Om blanke Afrikanerkinders aan sulke gemors bloot te stel deur middel van eksamenvraestelle, kan nie anders beskryf word as onderwerping aan die voortsleping van ons kinders deur die “stront” van die NP’s van 1994 se nalatenskap nie!

 

 

Die produk wat hieruit moet voortkom, indien daar nie begeleiding van Godvresende en gelowige ouers is wat toegewyd oor hulle kinders se opvoeding waak nie, sal in die woorde van President Paul Kruger, toe hy by geleentheid onderwysers toegespreek het, “beestelik” wees! Sy standpunt was dat as die onderwysers nie instaat is om die kinders ook tot geloof te begelei nie, maar bloot hulle akademies onderrig, daar vorentoe van hulle gesê sal kan word: “Hoe groter geest, hoe groter beest!”

 

KINDERVERKRAGTING IN DRAMA-VRAESTEL ONTSTEL

Onderwysers, matrikulante en ouers opper besware

Dinsdag 26 November 2013

PRETORIA. – Terwyl die veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders vandeesweek begin het, was daar gister uit verskeie oorde ontsteltenis oor ’n vraag wat matrikulante oor kinderverkragting in die drama-vraestel moes beantwoord.

 

Sowat 6 000 gr. 12’s het die vraestel eergister geskryf.

 

Leerlinge het ’n verpligte vraag gekry oor ’n uittreksel uit die toneelstuk Tshepang deur Lara Foot Newton wat geïnspireer is deur die wrede verkragting van die nege maande oue baba Tshepang in die Upington-omgewing.

 

Onderwysers en leerlinge het besware oor die ongesiene vraag en uittreksel gehad en dit as “onvanpas”, “onsensitief” en “ontstellend” beskryf. Daar is onder meer van leerlinge verwag om te beskryf hoe hulle die akteur ’n daad van verkragting (deur ’n besemstok en brood te gebruik) sal laat opvoer “om die aakligheid van die verkragting vir die gehoor te vergroot”. ’n Drama-onderwyseres van ’n hoërskool in Gauteng het skriftelik ’n klag oor die vraestel by die onderwysdepartement ingedien. Sy het gesê die vraag is heeltemal onvanpas as in ag geneem word dat talle leerlinge wat dit moes beantwoord al slagoffers van verkragting was en hierdeur opnuut getraumatiseer kon word deur dit te herleef.

 

Rulene Swanepoel, drama-onderwyseres aan die Hoërskool Waterkloof in Pretoria, meen die stuk is skokkend as ’n mens dit vir die eerste keer lees. Volgens haar beeld dit egter die verskriklike werklikheid uit waaroor mense in Suid-Afrika al so blasé geraak het. “Dit kan kinders skok, want dit is baie visueel, maar ek dink nie dis iets wat hulle nie sou kon beantwoord nie. “Wat die vak betref, moet ’n mens ook daaraan dink dat leerlinge aan verskillende genres bekend gestel moet word.”

 

’n Ouer van Mpumalanga, wat uit vrees dat sy kind in die eksamen benadeel sal word anoniem wil bly, het gesê hy gaan ook ’n klag oor die vraag indien nadat sy dogter letterlik “siek” was ná die vraestel. “Sy het opgegooi en die aand nie ’n oog toegemaak nie.” Engela Elliot, ’n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Zwartkop, het gesê “dit was nie vir my ’n lekker vraag om te beantwoord nie”. Simoné Labuschagne van die Hoërskool Hugenote aan die Oos-Rand, sê sy was “bietjie ontsteld toe ek dit gelees het. Ek het gedink dis nogal ‘af’ om dit te vra. “Ons het al aborsie en verkragting in tienertonele gesien, maar dit is nie so grusaam uitgebeeld nie.”

 

Lanette Hattingh, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, het ook gesê dit is onvanpas vir 18-jariges en kan geweldige emosies en gedagtes by kinders losmaak wat self al verkragtingslagoffers was of selfs potensiële verkragters kan word. Volgens Hattingh behoort werke soos dié in kleingroepverband behandel te word waar leerlinge ná die tyd toegang tot terapie, berading en ontlonting het as dit nodig is.

Panyaza Lesufi, onderwyswoordvoerder vir die departement van basiese onderwys, het nie op selfoonboodskappe gereageer nie.