Media

Piesangs in die Republiek kom steeds soos distels op!

altDie derde berig was afkomstig van ons susterskoerant City Press. Daarvolgens het Zuma sy invloed gebruik om byna R900 miljoen se staatsgeld te pomp in Masimbasinane, ’n plattelandse kosverbouingsprogram, waarby ’n familielid van die president betrokke is.

DIE BURGER

Hoofartikel: Regering is koersloos oor korrupsie

Woensdag 17 Julie 2013

Drie berigte het die afgelope week die regering se koersloosheid oor korrupsie geïllustreer.

 

Eers die goeie berig: Die minister van finansies, Pravin Gordhan, het met bewonderenswaardige deurtastendheid opgetree deur Oupa Magashule, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, in die pad te steek. Dit was nadat bekend geword het dat Magashule gelieg het oor sy bande met ’n veroordeelde dwelmsmokkelaar.

Dit is nie dat korrupsie teen Magashule bewys is nie. Maar sy gedrag het talle vrae opgeroep, vrae wat ’n mens nie wil stel oor iemand wat vir belastinggeld verantwoordelik is en dus bo alle verdenking moet wees nie. Hoe graag sou ’n mens in Gordhan se prysenswaardige optrede die eerste swaeltjie van ’n somer van eerlikheid wou sien! Helaas, niks is verder van die waarheid nie.

Inteendeel – en dit is die tweede berig – pres. Jacob Zuma het nagelaat om aan Suid-Afrika te vertel dat korrupsie een van die redes was waarom hy min. Dina Pule in die pad gesteek het; ondanks bewyse wat deur die media oopgevlek is. Maar wat doen hy? Hy laat sy woordvoerder sê hy hoef nie redes te gee nie. Asof die kiesers ’n klomp kinders is wat (met stemtyd) gesien maar nie gehoor mag word nie. Hiermee het hy ’n pragtige kans laat verbygaan om sy beweerde oorlog teen korrupsie in die praktyk te illustreer. Waarmee ’n mens seker sy verbintenis tot die stryd teen dié kanker kan bevraagteken.

Die derde berig was afkomstig van ons susterskoerant City Press. Daarvolgens het Zuma sy invloed gebruik om byna R900 miljoen se staatsgeld te pomp in Masimbasinane, ’n plattelandse kosverbouingsprogram, waarby ’n familielid van die president betrokke is. Dat Zuma dié familielid self aangestel het, maak dit des te meer problematies.

Toe Julius Caesar meer as 2 000 jaar gelede van sy oneerlike vrou geskei is, was sy woorde glo: “Caesar se vrou moet bo alle verdenking wees.” Dié woorde het sedertdien spreekwoordelik geword vir sake soos dié. Helaas is Caesar se vrou tans juis ónder verdenking.