As die onderstaande twee berigte wat onlangs in Naspers se koerante verskyn het reg vertolk word, demonstreer die DA die AVP se politieke nugterheid en die geskiedenis se onverbiddelike korrektheid. Maar as jy doof en boonop polities blind is sal jy bly struikel tot by die politieke afgrond waarin jy sonder twyfel sal afstort, as voorbeeld en ten aanskoue van die wêreld.
Die DA vat sy kiesers vir ’n ‘ride’
2013-11-10 00:57
Helen Zille sê die DA het die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming in die Nasionale Vergadering per ongeluk ondersteun. Sy gebruik die voorbeeld van ’n vliegtuig wat neerstort weens “’n reeks instrumentfoute”:
Die DA-LP’s gemoeid met die wetsontwerp het nie deeglik voorberei nie; die DA-koukus het gevolglik nie behoorlik daaroor debat gevoer nie en op die dag waarop die wetsontwerp voor die koukus gedien het, het hulle binne vyf minute deur sewe wetsontwerpe gedraf.
Die DA wil hê ons moet glo dat ’n kritiek belangrike wetsontwerp oorhaastig afgehandel is sonder om behoorlik oor die gevolge te besin. Dit is dieselfde party wat verlede week in Rapport ’n hele rits besware teen die wet gelys het – en toe nogtans ten gunste daarvan gestem het.
Dit is dieselfde party wat op 24 Oktober in die parlement oor die wet gesê het: “Hierdie wet is heeltemal versoenbaar met die DA se beleid van ’n oopgeleentheidsamelewing.”
Andricus van der Westhuizen, die DA se adjunk-skaduminister van arbeid, het toe verklaar: “Natuurlik sou ons wou sien dat daar meer gesofistikeerde kriteria as ras moet wees om te bepaal wie hulp benodig om die onregte van die verlede te bowe te kom. Vir die huidige blyk ras, hoe kru hierdie klassifikasiemetode ook al is, nog steeds die beste een te wees.”
Gestel ons gee die DA die voordeel van die aansienlike twyfel en aanvaar Zille se verduideliking: Dit was ’n glips. Dit is steeds skokkende pligsversuim. Zille sê “leemtes” in die wyse waarop die DA-koukus in die parlement bestuur word, het tot die fout gelei en sy het daarvoor verantwoordelikheid aanvaar. Maar Lindiwe Mazibuko, die DA se parlementêre leier, is sekerlik ook in ’n mate aanspreeklik.
Dit is bykans onmoontlik om op die feite te aanvaar dat ’n party met so ’n trotse geskiedenis van nie-rassigheid weens bloot ’n tegniese oorsig ’n stuk wetgewing steun wat ras as ’n bepaler in die werkplek versterk. Agterdog is in orde.
Want die ander verklaring vir die DA se onsinnige, onbeholpe optrede is onsmaakliker as blote agtelosigheid: dat die party stil-stil sy nie-rassige beginsels opoffer in die hoop om ANC-kiesers af te vry.
Wees dan liewer net eerlik en verkoop dié rigtingverandering aan jou tradisionele steunbasis. En laat hulle toe om by die stembus hul oordeel te fel.
Stem weer oor muilbandwet, vra DA ná ‘fout’
Maandag 29 April 2013
Kaapstad. – Die DA sê daar moet weer gestem word oor die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting.
Watty Watson, DA-hoofsweep in die parlement, het aan Max Sisulu, speaker van die Nasionale Vergadering, geskryf en gevra vir nog ’n stemming oor die omstrede muilbandwet.
Die Nasionale Vergadering het Donderdag gestem en die wetgewing is met ’n oorgrote meerderheid ingestem.
Daar was egter omstredenheid toe dit bekend word die ANC se hoofsweep, Mathole Motshekga, het teen die wetgewing gestem.
Daar is gesê Motshekga het “per ongeluk” teen die wetsontwerp gestem. Dié “tegniese stelselfout” is later reggestel.
Die ANC voer aan die stelsel het die hoofsweep se ja-stem geregistreer as ’n nee-stem. Watson voer aan die ANC-hoofsweep se verduideliking dat die stemproses “tegniese foute” bevat, beteken nog stemme kon verkeerd geregistreer word.
“Die parlement kan nie kanse waag met omstrede wetgewing soos die muilbandwet, wat moontlik na die konstitusionele hof toe gaan nie.
“Die parlement moet seker maak die werk word reg gedoen.”
Watson het ook gesê dit is betreurenswaardig dat die hoofsweep ná die aanvanklike stemproses sy stem agter geslote deure kon verander.
“Dit skep onnodige agterdog oor die parlementêre proses, wat te alle tye deursigtig moet wees.”
Die ANC-hoofsweep se kantoor in die parlement het die DA se versoek afgeskiet. “Die DA wil die tegniese fout gebruik om aan te voer die hele stelsel is wanfunksioneel en alle stemme is verkeerd opgeneem,” het Mathole Mothapo, woordvoerder van die ANC in die parlement, gesê.
Hy het erken klein, tegniese foute glip soms in, maar daar is stelsels wat enige foute dadelik regstel ná enige stemproses.
Waldimar Pelser
Só word ons saam armer
Die debatte op hierdie blaaie oor die DA se lomp en onbesonne ondersteuning van ’n wet oor indiensnemingsgelykheid wat aaklige gevolge vir veral sakelui en minderhede inhou, gaan eintlik maar net oor hoe ons die bestaande ekonomiese koek moet deel.
Maar geen “regstellende” ekonomiese stappe, insluitend die wet wat die DA per ongeluk gesteun het, skep bykomende of “nuwe” welvaart nie. Die private sektor belê twee maal soveel soos die staat, en die geld wat die staat wel belê, kom van lenings of (private) belastinggeld.
