Media

DIE LAASTE BOODSKAP VAN PRESIDENT PAUL KRUGER

altWant wie vir hom ‘n toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie.

Villas des Pierriers, 17 Clarens (Vaud) Switserland 29 Junie 1904.

Geagte Generaal.

Dit is vir my ‘n groot voorreg om die ontvangs te kan erken van u kabelgram van die 25ste Mei en van u brief van die 29ste van dieselfde maand, waardeur aan my die groete oorgedra is van die kongres van 23 tot 25 Mei, gehou te Pretoria. 

By alle treurigheid en leed, wat my lot is, het hierdie groete my tot dankbaarheid gestem. En van ganser harte dank ek almal wat bymekaar gekom het om te beraadslaag oor die hede en die toekoms, aan hul ou Staatspresident gedink het en daardeur getoon het dat hulle die verlede nie vergeet het nie.

 

Want wie vir hom ‘n toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie.

Daarom: Soek in die verlede al die goeie en die skone wat daarin te ontdek is, vorm daarna u ideaal en probeer om daardie ideaal vir die toekoms te verwesenlik.

Dit is waar: veel van wat opgebou was, is nou vernietig, verniel en het geval. Maar met eenheid van sin en eenheid van kragte kan weer opgerig word wat nou daar plat lê.

Dit stem my eweneens tot dankbaarheid om te sien dat daar eenheid, daardie eendrag by u heers. Vergeet nooit die ernstige waarskuwing wat lê in die woorde: “verdeel en heers” nie, en sorg dat hierdie woord nooit op die Afrikanervolk van toepassing sal kan wees nie. Dan sal ons nasionaliteit en ons taal bly staan en bloei.

Wat ek self nog daarvan sal sien of belewe, lê in die hand van God. Gebore onder die Engelse vlag, wens ek nie daaronder te sterwe nie. Ek het geleer om te berus by die bittere gedagte dat ek die oë in die vreemde as ‘n balling sal sluit, byna heeltemal alleen, ver van bloedverwante en vriende wat ek waarskynlik nooit weer sal sien nie, ver van die Afrikaanse grond wat ek wellig nooit weer sal betree nie, ver van die land waaraan ek my lewe gewy het om dit oop te maak vir die beskawing en waar ek ‘n nasie sien ontwikkel het. Maar daardie bitterheid sal versag word solank ek die oortuiging mag bly koester dat die werk wat eenmaal begin is, voortgesit word. Want dan hou my staande die hoop en die verwagting dat die einde van daardie werk goed sal wees. Mag dit so wees.

Uit die diepte van my hart groet ek u en die hele volk.

S.J.P. Kruger.

Dit was 1904. Was die riglyne wat President Kruger as waardevol beskou het gevolg?

Die antwoord is onomwonde ja. Die ellende waaraan die Afrikanervolk onderwerp was onder die Engelse juk en die ongetemde aanvalle op die boere deur swartes wat deur die vingers gesien is deur die oorheersers, het die Afrikaners wat daaraan wou ontkom na die onbekende binneland laat trek. Toe hulle steeds deur die Engelse agtervolg is, hulle nuwe land geannekseer is en weer onder die Engelse juk ingedwing is, het hulle besef dat soewereine onafhanklikheid in ‘n republiek die antwoord is. Deur na die verlede te kyk met die oog op ‘n toekoms, was eenheid en eendrag vir die bereiking van die ideaal van afsonderlike ontwikkeling die riglyn. Dit is gevolg en op die goeie en die skone van die verlede is ‘n Republiek gevestig op 31 Mei 1961 met ‘n grondwet waaronder Suid Afrika op vele terreine toonaangewend geword het.

TOE KOM 1966!

Op 6 September 1966 word dr. Verwoerd vermoor in die tweede aanslag op sy lewe. Sy opvolgers stop die raad en voorbeelde, asook die waarskuwings uit die verlede in die doofpot. Wat verval het, vernietig is en platgevee deur die verskroeide aarde beleid van die Britte, weer opgebou herstel, uitgebou en gemoderniseer deur die Afrikaners wat oorgebly het, nou weer platgevee!

Ons ideaal wat verwesenlik was lê nou weer aan skerwe. Verdeeldheid heers en floreer. Ons Nasionaliteit en taal word in sy wortel aangetas en bloei in negatiewe sin. Die land waarvoor President Kruger sy lewe gewy het om dit oop te maak vir ‘n beskawing en waar hy ‘n nasie sien ontwikkel het, is deur die onbesonnenheid van de Klerk en genote, wat hulle rug op die verlede gedraai het, in die beheer van barbare geplaas! President Kruger se gekoesterde oortuiging dat die werk wat eenmaal begin is, voortgesit sal word en aanvanklik bewaarheid is, is nou ongedaan gemaak sodat sy verwagting dat die einde van daardie werk goed sal wees, nou in trurat geplaas is.alt

Die geskiedenis is besig om ‘n oordeel te vel oor die afwyking van beginsels ten gunste van die wêreldmening. Dan is daar ook nog die “donker motiewe” wat ‘n gekonkel agter die skerms en veral agter die Afrikanervolk se rug moes laat plaasvind, wat nie die lig kon verduur nie. Hoe klaaglik ontoereikend in teenstelling, is die integriteit van die leiers van die hede teenoor dié van die verlede!