Media

VERKIESING: GAAN JY STEM? LEES DAN EERS HIER!

altVerydel nie daardie Afrikanernasionalisme wat deur jou bloed bruis nie.

Die Solidariteit-webwerf Maroelamedia gooi weer die aas diep en ver in om die Afrikanerjongmense te oorreed om aan aanstaande jaar se verkiesing deel te neem, eers met 'n berig oor hoeveel jongmense nie gaan stem nie, en gister 'n nuuskommentaar waarin die Afrikanerjongmense onder die verkiesingswip ingejaag word.

 

HIER VOLG DIE NUUSKOMMENTAAR EN DAAROP VOLG 'N WEBWERFLESER SE REAKSIE:

Dit is ‘n betreklike universele verskynsel dat die ouer geslag hul bekommer oor die jonges se gebrek aan algemene kennis, wat onder meer daartoe lei dat koerante wat ‘n verjongingskuur op hul redaksies toepas ‘n verlies aan korporatiewe geheue ervaar, en opsigtelike blapse die lig laat sien. Soms lyk dit behoorlik of die drukkersduiwel amok gemaak het.

 

 

Nou dui ‘n peiling aan dat 26% van die jong mense nie beplan om volgende jaar te gaan stem nie. Byna 20% weet nog nie vir wie hulle gaan stem nie. Pondering Panda, wat in sy peilings op jong mense fokus, se akkuraatheid moet grootliks nog getoets word, maar dat daar algemene kommer is oor die apatie van jong mense oor die demokratiese stemproses is ook so. Ironies is daar onder jong mense ‘n persepsie dat die “ou mense niks weet nie.” Baie “ou mense” mag dalk die nodige kennis ontbreek oor presies wie Lady Gaga is, of nie die jongste “modes” oor dwelmgebruik onder jonges op die punt van hul vingers hê nie, en toeklap as dit om by die jongste apps, iPhones, slimfone en vele meer, en so hul name krater maak voor die jonges..

 

Voor hard oor die jongklomp geoordeel word – let maar na die wêreld waarin hulle grootword, ook in Suid-Afrika. Die minister van justisie. Jeff Radebe, sê korrupsie in die land is besig om te stabiliseer, maar Beeld bespreek in ‘n hoofartikel hoe dit lyk of daar ‘n verband is tussen erge korrupsie in die hoogste regeringskringe is en die weerstand om die geskorste misdaad-intelligensiehoof, Richard Mdluli, te vervolg. Die persoon in die hoogste amp, pres. Jacob Zuma, se naam word genoem. Nie ‘n mooi voorbeeld wat gestel word nie.

 

Jong mense, soos baie van die ouer geslag, sukkel om werk te kry. Die behuisingsagterstand raak groter omdat minder HOP-huise met meer geld gebou word, en korrupsie klaarblyklik nie net hierin ‘n rol speel nie, maar ook in opbouende agterstande met infrastruktuur en infrastruktuurinstandhouding. Met watter voorbeeld van die “ou mense” word die jong mense groot? Dis nie net in Suid-Afrika waar die “ou mense” nie altoos die beste voorbeeld stel nie. In Nederland het persepsies van die betreklike jong koalisiebewind van premier Rutte so negatief geword dat oor nuwe koalisies onderhandel word – met peilings wat toon die publiek voel die posman op die naaste hoek sal beter as premier vaar.

 

In die VSA, waar die uiters belangrike webwerf vir die implementering van Obamacare nie eens naastenby die mas opkom nie, skud die jonges die kop en wonder hoe die “ou mense” nie die gebreke kon voorsien en meer doeltreffende tegnologie ingespan het nie. Wie maak dan nog van ancient tegnologie gebruik soos om die gratis nommer wat ook beskikbaar is te bel?

 

Dié maand is die eeu-herdenking van die eerste kommersiële sigarette, en hoewel die gebruik van hierdie kankerbalkies sedert 1981 in die VSA met sowat die helfte verminder het, stook die “ou mense” wêreldwyd – veral in lande waar die dampiemakers dit nie kan bekostig nie – lustig aan iets wat na raming die kanse dat ‘n persoon koronêre probleme en beroertes sal opdoen met twee tot vier keer, longkanker by mans met 23 keer en by vroue met 13 keer verhoog. Watter voorbeeld stel die “ou mense” aan die jonges?

 

Baie van die jonger generasie sal ook vir die ouer generasie wat so bekommerd is oor die gebrekkige belangstelling in aktualiteit sê hulle moet ‘n slag bykom … die eise op jong mense om hulle vir ‘n suksesvolle loopbaan voor te berei is enorm. Die eise van die tyd vereis eenvoudig dat hulle begrip van wetenskap, wiskunde en die handel beter moet wees as om al die politieke partye in die parlement te kan opnoem en te weet wat elkeen se beleid is – wat in elk geval vir gehoor tot gehoor ander aksente kry. Hulle moet beurse kry. Hulle het nie werklik (meer) die keuse van die ouer generasie om universiteit toe te gaan om te studeer wat vir hulle interessant is nie. Hulle sien immers hoe die “ou toppies” wat jare gelede deur politici beloof is daar sal “altyd” ‘n groot vraag wees na mense met onder meer staatsleer, omtrent enige ander beroep beoefen as dit waarvoor hulle opgelei is en aan beurse moes terugbetaal.

 

Weens rasbenepe politiek moet baie jong mense sorg dat hul opleiding van hulle doeltreffende wêreldburgers maak, eerder as goed opgeleides in rigtings wat nie hier, of oorsee, ‘n gekwalifiseerde werk kan losslaan nie. In ‘n land van meerderheidsoorheersing lyk ander opsies as die stembus om dinge reg te ruk dikwels ook aantrekliker as om “stemme by die stembus te gaan vermors.” Dit is inderdaad belangrik dat ander aspekte van grondwetlike demokrasie, soos persvryheid (wat die kuberruim insluit) en burgerlike samelewingstrukture – soos om lid van AfriForum en AfriForum Jeug te wees, benut word.

 

Maar soos die ou toppies se ou toppies altoos gesê het: Moenie die een ding doen en die ander nalaat nie.

 

Gaan stem, en om te stem, gaan registreer as kieser, en probeer tog ook ‘n tydjie inruim om vas te stel watter se party se beleid strook die meeste met jou eie, en watter het darem ‘n skoon rekord ook. En onthou, met die kiesstelsel van ons land is elke stem belangrik – selfs net een ekstra stem kan ‘n reuse verskil maak. (NÊ ??....vra die AVP)

 

En dis nie ‘n bol tsjol wat die ou toppie gespin het nie. Kom net bietjie by en observe watter dinge jou future gaan laat wobbel of smoother gaan laat loop.

 

En daar is ook ‘n boodskap vir die ou toppies. Los jul geteem en stel ‘n behoorlike voorbeeld vir die jonges.

DIE LESER SE REAKSIE: Kan jy nou meer! Dieselfde foefie as met die berig van Suné van Heerden, met my kommentaar daarby, wat julle afgehaal het. Afrikaner-jongmens, moet nie jou hand besoedel deur ‘n kruis (vir watter party nogal? ANC, DA, VF Positief (wat ‘n kortbroek-comrade in die kommunistiese regering het), in daardie verkiesing te trek nie. As jy nie kans sien om saam met die Black Sash-lid Helen Zille te toi-toi nie, vir wat vir haar party gaan staan en stem! Verydel nie daardie Afrikanernasionalisme wat deur jou bloed bruis nie.

En hier is weer daardie les van nou die dag vir die voetvel van ‘n kommentaarskrywer van die Solidariteit/FW de Klerk- en ander bogte-alliansie, dis nou na aanleiding van ervaring uit ‘n vorige verkiesing:

Dit is normaal dat wanneer ‘n saak skeef geloop het, gevra word, wat nou? “Wat moet ons nóu doen om dié mislukking weer te probeer regmaak?” As die ongeluk ‘n mens getref het, staan hy anders teenoor ‘n saak as daarvóór, toe dit vol moed en met hoopvolle verwagting aangepak is. Hoe moet ons hierdie terugslag verwerk en aanvaar óf … dalk nie aanvaar nie? Dit is die vraag wat op hierdie oomblik by talle bekommerde volksgenote heers. Tog behoort dié uitslag van die verkiesing nie te verbaas nie. Wat die blankes, en des te meer die Afrikaner deel van die bevolking raak, is die oorweldigende getalle-oorwig van die swartes wat in die een-mens-een-stem bedeling op gelyke voet meegeding het. Die blanke kieserspotensiaal het hoofsaaklik dáárom, pragmaties, op ‘n ander wyse as voorheen gesoek na die voor die hand liggende beste hantering van sy maatskaplike en persoonlike belange. Dit is waarom ontleders van die verkiesingsuitslag die swaai weg van die volksgerigte partye, die VF en die AEB, verklaar dat, “wit kiesers gestem het vir ‘n geloofwaardige wit party wat hulle glo hulle voorregte sal beskerm. Witmense glo die DP sal hulle kan beskerm van wat hulle sien as ‘n totale aanslag” (BEELD, 8 Junie 1999).

Dit bevestig helaas die huidige ruggraatloosheid en beginselloosheid van die merendeel van ons Afrikanervolk. Korttermyn-oplossings en materiële belange is die prioriteit van die oomblik. Dog binne die territoriale staatseenheid van ons land kán die Afrikaner nie sy kulturele en politieke selfbeskikking en die verwesenliking van sy oortuigings en belange herwin nie, tensy deur die beleid van afsonderlike ontwikkeling, wat met die staatkundige revolusie van 1994 formeel beëindig is. Na aanleiding van die Franse Revolusie het ‘n Franse skrywer, Albert de Broglie, hom in 1860 as volg uitgelaat oor staat-kundige stelsels wat soortgelyk as die grondslag van die huidige RSA dien.

Wat as die ou régime bekendstaan, het onherroeplik ondergegaan; maar noudat die mense niks anders as gelyke individue meer is nie, wat elk op sigself magteloos is, maar oppermagtig as hulle tot ‘n eenheid verbind word, staan jy sonder verweer teenoor die grillige alvermoë van ‘n meerderheid. … As hulle my vertel dat binne ‘n volkryke nasie, oorlaai met al die goedere van ‘n nuwe beskawing, die algemene stemreg ‘n diktatuur tot stand bring, dan weet ek dat ek daarmee te staan kom teenoor ‘n gesag wat van onderaf legitimiteit ontvang,

uit die krag van eenheid, verhonderdvoudig deur die mag van getalle. Dan sidder ek en ek voel dat dit ‘n vyandelike mag is wie se toekoms deur die gewete en die menslike waardigheid betwis moet word, aldus De Broglie.

Die vrywillige deelname aan die verkiesing veronderstel die aanvaarding van ‘n stelsel waarbinne die tirannie van die getallemeerderheid heers. Ek ken geen nasie wat uit ‘n algemene stemreg gebore word nie, maar ‘n volk wat in die volkshistorie gewortel is, sê die anti-revolusionêre Nederlander,Mr G Groen van Prinsterer. Dit beteken in ons omstandighede, volksgerigte politiek. Daarby aansluitend verwys dr Abraham Kuyper na die nagevolge van die Franse Revolusie ten aansien van die Nederlandse volk, dat die wankele mure van hulle volksbestaan omvergehaal en sy stene afgekap is, slegs om dit op ‘n hoop te stapel sonder om te begin met die oprigting van ‘n nuwe gebou. Die Liberalisme is anti-sosiaal omdat dit individualisties is en in ‘n volk niks anders sien as ‘n aantal siele binne ‘n bepaalde grondgebied.

“En dit bederft en verderft heel ons volksleven. Dit loopt uit op een losrijten van alle banden, om de eenlingen die vijftig minus een zijn, door de eenlingen die vijftig plus een uitmaken, te tyranniseeren. Zoolang men daarin volhardt, komt er dan ook geen beterschap. Dán eerst als de deelen van het volkslichaam weer elk in hun eigen functie zullen kunnen werken, zal de gezondheid van dat volkslichaam weerkeren”, aldus dr Abraham Kuyper.