Media

HET REGSPLEGING IN SUID AFRIKA NOU ‘N KLUG GEWORD?

alt“Gewone litigante kan elke punt in hul guns gebruik, maar wanneer jy ’n regter is, moet jy uit beginsel litigeer.” (O ja? In die nuwe Suid Afrika??)

Die indruk wat gelaat word is nie meer die handhawing van geregtigheid nie, maar om instaat te wees om teen wil en dank jou kliënt van vervolging te vrywaar al weet jy voor jou siel dat hy skuldig is. Indien die bewyslas nie betwis kan word nie, is daar nog altyd die tegniese opsie. ‘n Opsie wat die Versekering ook deesdae aanwend om hulle verpligtinge te ontduik. Wat ‘n “wonderlike” vooruitsig vir voornemende benadeeldes wat hulle na Suid Afrikaanse howe wil wend. “Viva die Nuwe Suid Afrika, Die Misdaad Mekka van die wêreld!” Indien niks wil help nie, sal ‘n lááng en uitgerekte ondersoek met volle betaling die saak beredder! Wat ‘n nalatenskap van Roelf en FW en die NP! Lees die berig hier onder en oordeel self.

SPANNING IN ONS HOOGSTE HOF LAAI OP

 

 

2013-10-06 00:09

Spanning loop hoog in die konstitusionele hof oor die “hoogs problematiese” pogings van twee van dié hof se regters om die verhoor van John Hlophe, regter-president in die Wes-Kaap, op ’n “tegniese punt” te keer. Regters Bess Nkabinde en Chris Jafta het in 2008 beweer Hlophe het hulle onbehoorlik probeer beïnvloed om in pres. Jacob Zuma se guns te beslis. Zuma was toe nog nie president nie en die klagte het verband gehou met die multimiljardrand-wapentransaksie.

 

’n Volbank van die konstitu­sionele hof het toe ’n klag van ernstige wangedrag ingedien teen Hlophe, wat glo destyds teenoor Nkabinde daarop gesinspeel het dat hy goeie politieke konneksies het. Hlophe het ook na bewering gesê Zuma word kwaadwillig vervolg. Sedertdien het Nkabinde en Jafta hulle oënskynlik van die stappe teen Hlophe probeer distansieer en saam met Hlophe probeer keer dat ’n tribunaal van die Regterlike Dienskommissie (RDK) voortgaan met sy ondersoek na Hlophe se beweerde wandade. Sowel Hlophe as die RDK is al daarvan beskuldig dat hulle simpatiek is teenoor die ANC. Albei het dit herhaaldelik ontken.

 

Joop Labuschagne, afgetrede regter en voorsitter van die tribunaal, het Hlophe Donderdag bloedneus gegee toe hy bevind het die tribunaal sal met sy ondersoek na Hlophe voortgaan. ’n Onberispelike regsbron het aan City Press gesê Nkabinde en Jafta se optrede het “baie spanning en ongelukkigheid veroorsaak” onder regters van die konstitusionele hof en die Hlo­phe-sage is “hoogs problematies”. Dit is veral die nuwe standpunt van Nkabinde en Jafta se prokureurs wat kommer wek.

 

Advokate Selby Mbenenge en Bantubonke Tokota het ’n regstegniese punt aangevoer wat Hlophe skotvry kon laat wegstap sonder dat die meriete van die saak ooit aangehoor is. Mbenenge het gesê die tribunaal moet “oppak en gaan, almal van ons”. ’n Bron na aan die ander regters het gesê dié was ’n “algehele verrassing” en “onrusbarend”. Mbenenge en Tokota het aangevoer Hlophe se saak moes onder die regulerende raamwerk gehanteer word wat gegeld het voordat die Wysigingswet op die Regterlike Dienskommissie bekragtig is. Selfs al is die saak ingevolge die ou reëls gehanteer, is dié reëls nooit in die Staatskoerant gepubliseer nie en dus ongeldig.

 

Só gretig is Jafta en Nkabinde om nie voor die Hlophe-tribunaal te verskyn nie dat hul regspan Labuschagne se beslissing in die hof wil laat hersien. ’n Gerespekteerde senior regsbron, wat anoniem wil bly, het gesê regters kan nie litigeer asof hulle gewone burgers is nie. “Ek glo nie dit is reg vir ’n regter om op ’n tegniese punt te argumenteer nie. Hulle moet besluit of die reg van hulle vereis om nie aan te gaan (met die klagte) nie en of hulle moet doen wat nodig is ingevolge die vereistes van geregtigheid. “Gewone litigante kan elke punt in hul guns gebruik, maar wanneer jy ’n regter is, moet jy uit beginsel litigeer.” Die bron meen Nkabinde en Jafta het een van twee keuses omdat hulle “in ’n hoek geverf is”.

 

“As hulle steeds voel hy (Hlophe) het iets verkeerd gedoen, is dit hul plig om alles in hul vermoë te doen om dit (vervolging) te verseker. As hulle aan die ander kant tot die slotsom gekom het dat hulle nie moes doen wat hulle gedoen het nie – dat dit ná verloop van tyd nie so sleg was nie en hulle van plan verander het – moet hulle eerlik genoeg wees en sê hulle het van plan verander.”

 

’n Top advokaat van Johannesburg sê die bewerings teen Hlophe is “ernstig” en as Nkabinde en Jafta bewyse daarvan het, het hulle ’n “morele en etiese plig om die bewyse vir die tribunaal te gee”. ’n Ander advokaat vrees die sage kan “persepsies van regters” skaad.

Die tribunaal gaan Dinsdag weer voort.