De Klerk self het in Tuynhuys aan 'n versameling verteenwoordigers van Afrikaanse instellings gesê dat hy oor Afrikaans ``oorlog sal maak''. Daarvan het niks gekom nie
Vir die jonger geslag in die Afrikanervolk mag die soms snydende debat oor FW de Klerk se oorgawe aan 'n bende kommunistiese terroriste futiel voorkom. Waarom word die saak so uitgepluis, ja, so pynlik uitgepluis! mag hulle uitroep. Die jonger geslag mag byvoeg: Is daar nie 'n wyse waarop 'n skynbaar teenproduktiewe gesprek omgeskakel kan word in iets wat stig en besiel en motiveer nie.
Dis nie so 'n eenvoudige saak nie. Soveel moontlike getuienis wat uit die argiewe en die geskiedenis tot die Afrikanervolk spreek, is dikwels verborge, verborge weens nie slegs die stof en die sand van die tyd wat oor die geskiedenis waai nie, dis ook moedswillig bedek. Word moedswillig bedek deur misleiers en vyande van die Afrikanervolk.
Daarom is dit nodig om die geskiedenis weer op te soek, te krap en ook oop te krap daar waar dit pynlik is. Hierdie party probeer deur veral die hulp van hierdie webwerf daardie geskiedenis oopstel. Daardie geskiedenis weer te oorweeg.
'n Ander saak is dat die veragtelike spelers in daardie oorgawe dit so bitter moeilik maak vir die Afrikanervolk om die kop weer op te tel en hom te bevry van daardie veragtelike dade wat die Afrikanergeskiedenis vir sowat 24 jaar gevul het. Die waarnemer verstom hom eenvoudig oor die ongeërgdheid van die skuldiges. Ja, dikwels wil dit voorkom of hierdie mense die Afrikanervolk met 'n AK47-aanvalsgeweer wil dreig vir wat hy, sy of hulle as dekoreerbare dade voorhou. Van berou oor wat hulle aangevang het, is daar geen sprake nie. Dis net so nou en dan en hier en daar dat daar 'n beskroomde toon van, jong, hier het ons 'n lelike gemors aangevang, deurslaan.
En hierdie versigtige toon van berou en bekentenis word dan nie juis in banieropskrifte aangebied deur diegene wat destyds, toe De Klerk en sy medepligtiges van een vernedering na die volgende die aftog geblaas het, dit as aardskuddende “deurbrake” aangebied het nie. Een van die veragtelikse politieke misbaksels in hierdie verband is Naspers, Naspers met koerante soos Die Burger, Rapport en Volksblad as deel van 'n giftige legio van boses.
Soms bied die geskiedenis die seldsame geleentheid aan die waarnemer om bondgenote in die ope teen mekaar te sien lostrek. Dis gewoonlik kosbaar-verhelderende oomblikke, ook bevrydende oomblikke, vir die slagoffers van daardie boosdoeners om so 'n laakbare span se lede teen mekaar te sien lostrek.
Vandag word stilgestaan by so 'n oomblik. Die spelers is die bekende hoofakteur FW de Klerk en Die Burger, daardie koerant wat in sulke moeilike omstandighede maar trots ter wille van die Afrikanervolk deur dr. DF Malan in die lewe geroep is, maar later so 'n veragtelike rol teen Afrikanervryheid sou speel.
Die geleentheid is Die Burger se hoofartikel, die datum 6 Februarie 1997. Die opskrif het, raar en seldsaam, die waarheid oor De Klerk se wandade in 'n enkele woord saamgevat: Oorgawe.
DIE ARTIKEL HET SÓ GELUI:
DIE gerugmakende toespraak wat die leier van die Nasionale Party, F.W. de Klerk, pas in Londen gelewer het, is gister volledigheidshalwe in Die Burger gepubliseer. Dit is, om dit sag te stel, 'n onthutsende toespraak, sekerlik nog pynliker vir die volgelinge as vir die leier wat dit reeds so pynlik gevind het. As De Klerk daardie toespraak, waarin hy erken het dat hy die Afrikaners se reg op nasionale soewereiniteit ofte wel selfbeskikking opgeoffer het, tydens die onderhandelingsproses gelewer het, is dit te betwyfel of hy 'n mandaat sou gekry het om voort te gaan. Want hy het 'n mandaat gevra vir magsdeling, nie vir oorgawe nie.
Die toespraak werp minder lig op wat alles in die onderhandelingsproses verkeerd geloop het, nadat die politici allerlei wigte en teenwigte belowe het wat aan Suid-Afrika se vele minderhede voldoende beskerming sou bied. Aanslag teen taal. Daarvan het weinig tereg gekom, en vandag sit die land met 'n gesentraliseerde Westminster tipe van regering in 'n eenparty-dominante staat. Dit kan kwalik beskou word as 'n behoorlik gedesentraliseerde stelsel wat op die beproefde federale lees geskoei is en wat mag sterk afwentel en versprei, soos in talle sukseslande. Boonop is daar maar 'n skrale hoop dat 'n magsbehepte regering maklik deur die stembus uit die kussings gelig kan word.
Dit het gebeur juis terwyl die heersende internasionale tydsgees aan die buitengewone beveiliging van minderhede, soos aan die demokratiese kapitalisme, 'n hoë voorrang gee, dit bevorder en wetlik vaslê.
Spesifiek vir die Afrikaanssprekendes was daar allerlei beloftes oor taal- en kulturele regte. De Klerk self het in Tuynhuys aan 'n versameling verteenwoordigers van Afrikaanse instellings gesê dat hy oor Afrikaans ``oorlog sal maak''. Daarvan het niks gekom nie, en nou word selfs vertel dat die ANC tot ``toegewings'' bereid was, maar die NP het nie daarvoor gevra nie. Blykbaar was talle waarskuwings nie genoeg om ruggrate styf te maak nie.
Die uiteinde is te sien in die ANC-Kommunistiese alliansie se aanslag aan 'n verskeidenheid van fronte teen die taal, wat blykbaar bin ne 'n dekade uitgeroei moet word. Dit gebeur in die staatsdiens en die SABC, en dis ook gerig teen opvoedkundige instellings. Die gevolg is sorgwekkende vervreemding onder potensieel nuttige, welvaartskeppende landsburgers; mense wat begin voel dat hulle nie veel meer as bywoners in die land van hul geboorte geword het nie.
Vermoedelik het sake werklik verkeerd begin loop met die berugte Notule van Verstandhouding van 1992, waar die NP onbegryplike toegewings teenoor die ANC gedoen het sonder om iets van blywende waarde in ruil te kry. Dit was destyds die primêre oorsaak van die vervreemding tussen die NP en die hele aantal onderhandelingsbondgenote wat hy tot in daardie stadium gehad het. Teen daardie tyd was die kanse vir 'n algemene amnestie ook reeds daarmee heen weens die dwase ingryping van Kobie Coetsee.
Uiteindelik het dit daartoe gelei dat die veiligheidsmagte, waaronder Afrika se gedugste weermag wat 'n belangrike deel van De Klerk se magsbasis uitgemaak het, vandag dag vir dag voor die gelaaide Waarheidskommissie verneder word terwyl die sogenaamde bevrydingsbewegings se honderde terroriste, halsband-moordenaars en impimpi's straffeloos rondpronk. Heropbouproses
Hoe dankbaar die meeste Suid-Afrikaners ook al kan wees dat die transformasie in die land betreklik vreedsaam verloop het, dit kan nie verbloem nie dat daar in die onderhandelingsproses ernstige gebreke was wat aan die afwesigheid van fundamentele strategiese doelwitte gewyt moet word.
Daar is inderdaad heelwat waarvoor die onderhandelaars van die Nasionale Party wat tot hierdie situasie bygedra het, verantwoording moet doen. Sulke politici sal bra moeilik 'n betekenisvolle bydrae kan lewer tot die heropbouproses wat nou vir Afrikaanssprekendes voorlê, een wat net so veeleisend soos ná die nederlaag van die Tweede Vryheidsoorlog sal wees. Van staatskant kan in elk geval ook niks verwag word nie; die burgerlike samelewing sal die leiding met 'n nuwe reddingsdaadbond of 'n helpmekaar moet neem.
