IS DIT PEILBAAR?
Wat het fout gegaan met ons Afrikanerleiers .... en wat is vandag nog fout? Dit is die knaende vraag wat by herhaling opkom wanneer die toestand waarin ons volk verkeer, en die gebeure wat daartoe aanleiding gegee het bedink word. Die ryk en heroïese geskiedenis van ons volk, wat deur van die moeilikste omstandighede wat bedink kan word, met behoud van geloof en verantwoordelikheid en besef van God se genade, gestry, geveg, gebloei en gegroei het, maak die rasionisasie van die afwyking van geykte beginsel en beleid peilloos. Dit is net eenvoudig nie moontlik om te bedink wat verkose leiers besiel het om teen die mandaat wat hulle van hulle eie mense ontvang het, op verbloemde wyse te begin om ‘n klimaat te ontwikkel waarin ‘n 180° omkeer beplan en uitgevoer word, terwyl die gevolge daarvan aan hulle wel bekend is nie. Die uiteinde daarvan is dat daar kwistig met die begrippe van verraaier, verraad, hensopper, joiner, meeloper, saamprater ens. omgegaan word. Die terme linkses en ultra regses, liberaliste, pienkes, kommuniste en dergelike het ook nie uitgebly nie. Hiervan was die somtotaal, uiterste verdeeldheid, wantroue en openlike vyandskap wat selfs deur gesinne gesny het.
KUNSMATIGHEID
Hoewel daar in die 47 jaar wat verloop het sedert die sluipmoord op dr. H. F. Verwoerd ‘n aansienlike deel van die Afrikanervolk saamgesleep is deur omstandighede waarop omstandigheidsbesluite gebaseer was, het dit nie die kunsmatigheid en onnatuurlikheid van die uitvloeisel van sulke besluite weggeneem nie en is die kern Afrikaner nie daardeur van stryk gebring nie. Die verdeeldheid en innerlike konflik wat egter daaruit voortgevloei het, was nie net verlammend in sy uitwerking nie, maar huiwer op die rand van selfvernietiging.
Met die magsoordrag aan die Swart Kommunistiese meerderheid is daar ‘n kortstondige klimaat geskep vir diegene wat onder die indruk verkeer dat hulle behulpsaam was in die vestiging van iets goeds in teenstelling met iets euwels. Hulle reik verklarings uit, word opgehemel as helde en heldinne en besef nie dat hulle in die geskiedenis uiters negatief geteken gaan word nie. Feit is dat daar steeds ‘n beduidende klompie Afrikaners is wat deur omstandighede gedryf word om te glo dat hulle reg optree om apartheid af te wys en alles in die stryd te werp om die Nuwe Suid Afrika te maak werk. Die oë en ore is gesluit vir die ellende wat alreeds daaruit voortgespruit het terwyl die totale verval wat voorlê en voorspelbaar is uit die koers waarin Suid Afrika beweeg, lyk asof dit hulle nie aangaan nie.
WAT HET VERKEERD GEGAAN?
Wat het dan verkeerd gegaan? Wedersydse beskuldigings is die onvermydelike voortvloeisel van so ‘n toestand en bring verwydering instede van samehorigheid. Die 12 jaar lange stryd vir samehorigheid van 1936 tot 1948 wat dr. Albert Hertzog en manne soos Faas de Wet, Daan Ellis en die hervormers gestry het om die mag van die Links-liberale VP en die Beheerliggaam van die MWU (Mynwerkersunie te breek wat besig was om in belang van die geldmag, die Afrikaner mynwerker deur middel van sy eie vakvereniging tot die dood toe te onderdruk, is na die moord op dr. Verwoerd geleidelik afgetakel op feitlik dieselfde patroon wat deur die Smutsregering en die MWU onder leiding van Charles Harris in die laat dertigs en begin veertiger jare gevolg is.
ONKUNDE?
‘n Mens sou graag wou gehad het dat dit bloot uit onkunde was dat daar afgewyk is van ‘n stelsel wat ooglopend suksesvol was en waarby al die volke in Suid Afrika gebaat het, ongeag die negatiewe aantygings dat die Swart ras burgerskap ontsê is. Gerieflikheidsonthalwe word daar vergeet dat elke swart volk sy eie grondgebied gehad het en homself binne blanke gebied bevind het omdat hy in gebreke gebly het om homself binne sy eie gebied, ekonomies op te hef. Dat dit die Afrikanervolk ten laste gelê word dat ons die swart volke verontreg het terwyl dit ons was wat hulle van werk en heenkome voorsien het, teen uitwissing van mekaar beskerm het en selfs hulle grondgebied vergroot het waarbinne hulle oor hulleself kon regeer volgens hulle eie behoefte en aard, is om moedswillig te wees vir redes wat niks met die waarheid te maak het nie.
As die koersverandering bloot onkunde was, sou daar werklik grond vir sinvolle debat sonder bitterheid en venyn onder die onderskeie Afrikaner organisasies, partye en individue kon wees. Met terugskouing na die tydperk van 1930 tot 1948, is die ooreenkomste van verraderlike praktyke van toe en nou, eenvoudig verstommend. Die stigting van ‘n vakvereniging met die doel om die belange van die arm Afrikanermynwerker te behartig, kulmineer in ‘n vereniging wat na die mynbase en hulle lakeie in die MWU se belange omsien ten koste van selfs die lewens van die arm Afrikaner werker. Die onreg was so ondraaglik dat ‘n voorbeeldige jongman op die 15e Junie 1939, die MWU sekretaris, Charles Harris, voor die Trades Hall, Kerkstraat 23, inwag en hom in sy motor deur die kop skiet. Moller Hugo, seun van die baie bekende en geëerde oom Japie Hugo, ‘n beminde sakeman van Worcester, kon die onreg van sy mede Afrikanervolksgenote, nie langer verduur nie en het volgens sy oordeel, in belang van sy mense opgetree. Hy het langs die motor bly staan totdat die polisie aangekom en hom weggeneem het.
SELFDE GEVOEL
Hierdie selfde gevoel van uiterste verontregting het hom gevestig in menige Afrikanergees en het al oral in verskillende vorme uitgeslaan nadat John Vorster en P.W. Botha die politieke koers begin verander het en F.W. de Klerk en sy hele kabinet voor wêrelddruk geswig en ons politieke beheer aan die Swart, Kommunistiese meerderheid oorhandig het. ‘n Handeling wat die Afrikanervolk in die ergste benouing in sy hele geskiedenis laat beland het en dreig om ons as ‘n unieke volk, totaal uit te wis.
Wat die terugskouing besonders maak, is die uiteindelike oorwinning na 12 jaar se intense stryd, wat in 1948 behaal is en wat die Afrikaner se posisie drasties verbeter het. Nie as gevolg van Moller Hugo se optrede in ‘n onbesonne oomblik nie, maar die volgehoue stryd om die Afrikaner mynwerker sy selfrespek, sy waarde as Afrikanervolksgenoot en veral sy Nasionalisme weer te laat koester. Om die Afrikanerwerker se besef van enersyds, die vrees van ons vyande vir die gesamentlike vermoë van die Afrikaner en andersyds die werklike mag van Afrikanersamehorigheid weer onder ons volksgenote gevestig te kry, was wat daarin geslaag het om die oorwinning in 1948 moontlik gemaak het.
BEGINSELS VERDRING
Verlamming deur omstandighede moet nie daarin slaag om die beginsel te verdring nie. Soos wat daar al by geleentheid vir my gesê is: wat baat die behoud van die beginsel as later net jy en die beginsel oorbly? Dit was juis die versaking van die beginsel, wat die Afrikaner sedert 1948 tot ‘n toonaangewende moondheid gevoer het, wat die koersverandering tot gevolg gehad het.
Laat almal wat nog in dieselfde beginsel glo, eendragtig verenig en duidelike skeidslyne trek tussen ons en diegene wat die beginsel van afsonderlike ontwikkeling versaak, of selfs net tydelik opsy wil skuif en met allerhande praksasies van toegewings, samewerking en onversekerde ooreenkomste ons selfrespek ondermyn.
WAARDE VAN PROFESIE
In 1948 Slaag die Afrikaner om bo alle verwagting in, onder leiding van die geestelike leier, dr. DF Malan, politieke beheer te verkry wat sou voortduur tot soewereine onafhanklikheid in die Republiek van Suid Afrika. Die verwesenliking van ‘n lang gekoesterde ideaal. In dieselfde jaar gebeur daar in Israel die begin van die vervulling van ‘n Bybelse profetiese voorspelling, wat by gebrek aan kennis van die Bybel, by baie, indien nie die meeste nie, gelowiges verby gegaan het. ‘n Gebeurtenis wat sedertdien wêreldgebeure ingrypend geraak het tot vandag en nog aardskuddend in die toekoms wat vir ons voorlê, sal raak! Op die 14e Mei 1948, word daar ‘n deklarasie van onafhanklikheid geteken nadat Britanje sy mandaat oor Palestina opgee, die Verenigde Nasies in ‘n stemming die verdeling van die staat goedkeur om ‘n Joodse en Arabiese staat te vorm en David Ben Gurion die Staat van Israel proklameer.
Op 15 Mei 1948 val die Arabiere, wat gesamentlik meer as honderd-en-vyftig miljoen was, die Israel staat met eenmiljoen man aan. Daardie staat het toe uit 640,000 mense bestaan met ‘n weermag van 164,000man. Uiteindelik moes die Arabiere voor die Israeli’s vlug en is hulle grondgebied gaandeweg al groter uitgebrei.
Jesaja 11: 11-14.
En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië en Egipte en Patros en Kus en Elam en Sínear en Hamat en uit die kuslande van die see;
12 en Hy sal ’n banier ophef vir die nasies en bymekaar laat kom die seuns van Israel wat verdryf is, en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit die vier hoeke van die aarde.
13 Dan sal die naywer van Efraim verdwyn, en die teëstanders van Juda sal uitgeroei word; Efraim sal Juda nie beny nie, en Juda sal Efraim nie benoud maak nie.
14 Maar hulle sal die Filistyne op die skouer vlieg teen die weste en saam die kinders van die Ooste plunder; Edom en Moab is die buit van hulle hand, en die kinders van Ammon is hulle onderdanig.
Die verdeeldheid word opgehef en saamhorigheid herstel!
Luister wat se die profeet Jesaja in Jesaja 43: 1-7! “MAAR nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!
2 As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.
3 Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland; Ek het Egipte gegee as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek.
4 Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe.
5 Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; Ek sal jou geslag van die ooste af aanbring en jou versamel van die weste af.
6 Ek sal sê aan die noorde: Gee! en aan die suide: Hou nie terug nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af,.....
GELOOF DIE FOUT?...... U IS KOSBAAR IN GOD SE OË!
Is dit nie ons volksleiers se gebrek aan geloof, en daarmee saam die geloof van ons volksgenote, waar daar fout gekom het nie? Het ons leiers nie eerder geglo wat Amerika en Brittanje as toekoms scenario geskets het in teenstelling met God se belofte aan die wat Hom glo nie? Kyk saam met my na hoe God Sy belofte aan Abraham van meer as vierduisend jaar gelede, in 1948 in vervulling laat gaan. Neem dan kennis dat Hy nie klaar is nie. Kyk maar wat nou in die Midde-Ooste gebeur en laat ons geloof in God weer wees soos die van ons voorsate by Bloedrivier, Magersfontein en Amajuba. God sal ons nie begewe en ons nie verlaat soos ons kerke en geestelikes oor eeue heen tot vandag toe. Dit is ons wat Hom verlaat het, vandaar ons benouing! Afrikaner, u is kosbaar in God se oë. Laat ons nuut begin deur ons geloof te versterk uit Sy Woord, want die beginsel van wysheid, is vrees vir die HERE.
