10 MEI 2010 HET ONS GESKRYF:
Sentraal tot die AVP se afkeer is TLU SA se hartlike samewerking met die ANC-regime van die eerste dag dat hierdie regime amptelik die land regeer. Ons meen om spore van hierdie samewerking in die volgende stelling waar te neem (daar word later weer by hierdie stelling aangesluit): “TLU SA het tot dusver homself agteroor gebuig, selfs dikwels teen die uitdruklike sin van sy lede in, om sinvolle gesprek met die owerheid te voer, ten einde probleme en perspektiewe op ‘n opbouende en ondersteunende wyse oor te dra aan die regering. Telkens is daar bepaalde beloftes en ondernemings, waarvan met verloop van tyd geen vordering te bespeur is nie.”
Voor ons by TLU SA se jongste teleurstelling stilstaan is dit nodig om na ‘n ander saak te verwys. Dit gaan oor TLU SA se dienswilligheid teenoor die geheime organisasie, die Afrikanerbond (AB).
Ons kan ‘n bevestigng van hierdie samewerking so ‘n anderhalfjaar gelede gaan haal toe die VF Positief se woordvoerder oor landbou mnr. Werner Weber dit verwoord het. Maar wat sal die behoudende landbouwaarnemer doen as hy nou die naam van TLU SA se hoofbestuurder Bennie van Zyl op die AB se webwerf vind as een van die mense wat getaak is om in ‘n meeloperprojek met die kommunistiese regime saam te werk?
Ja, TLU SA en mnr. Van Zyl word daar genoem saam met Solidariteit/AfriForum as deel van ‘n herleefde Dinokeng-projek. In die eerste Dinokeng-projek is daar mos besluit op ‘n sogenaamde saamloop-opsie. (Wat is “saamloop” met die kommuniste anders as dat jy ‘n kommunistiese meeloper is, so 20 jaar gelede die grootste skande wat jy oor ‘n Afrikaner kon haal?)
Dit is teen hierdie agtergrond dan dat hierdie skrywe afgesit het oor allerhande voorbehoude oor hoop wat nie beskaam nie. Want daar het besmetting in die Afrikanerpolitiek gekom van hierdie mooi Bybelse gesegde toe dit gekontamineer geraak het met of lekkergeloof of onderkruipery of ondergrawing.
Die gemiste afspraak
Die dagsbestuur van TLU SA verklaar oor Joemat se afwesigheid gister:
“Die Dagbestuur het met groot moeite en teen groot koste vanoor die hele land na Pretoria gereis vir die afspraak, en almal was ontnugter om slegs ure voor die afspraak te moet verneem dat die ontmoeting nie meer sal plaasvind nie,” sê die president van TLU SA, mnr. Ben Marais.
“Dit was die tweede afspraak wat so gesneuwel het terwyl daar ernstige sake was wat bespreek moes word. Die feit dat die Minister eerder in die buiteland wil reis as om haar eie boere te woord te staan, begin vir ons al meer ’n aanduiding gee dat die Minister eerder die portefeulje van Buitelandse Sake behoort te beklee as landbou, want ons kry eenvoudig geen oor vir ons probleme en ook ons konstruktiewe voorstelle nie. Dit was juis oor optredes soos hierdie dat TLU SA ’n ope brief aan pres. Zuma geskryf het waarin ons gevra het vir ’n afspraak binne twee weke om dié en ander sake te kan bespreek. Die twee weke is byna verby en ons het nog nie eens ’n ontvangserkenning van die Presidensie gekry nie, en nou herhaal die geskiedenis homself.”
Die Dagbestuur het besluit om pres. Zuma die volle twee weke te gun om op die skrywe te antwoord en ’n afspraak te maak, voordat alternatiewe optrede bekend gemaak gaan word.
Aldus gister se verklaring.
DIE EIS TOT KONSTRUKTIEWE GESPREK OOR ONDERGENOEMDE KNELPUNTE
‘n Tweede belangrike onlangse verwikkeling met betrekking tot TLU SA was ‘n eis tot “konstruktiewe gesprek” oor sekere knelpunte wat die TLU SA-voorsitter Ben Marais uitgereik het in die hooglopende emosionele tyd na die sluipmoord op die AWB-leier mnr. Eugene Terre’Blanche. Dit is uit hierdie eis vir ‘n gesprek dat die aanhaling vroeër in die berig oor die TLU SA se agteroorbuigery by die kommuniste kom.
Die dokument oor die eise is so verwoord:
Inleiding:
Elke regering word gestuur deur 2 kardinale rigtingwysers:
1. Die Grondwet van ‘n land
2. Die Sosiale Kontrak wat hy met die burgers van ‘n land aangaan voor en tydens verkiesings.
In ruil daarvoor, is burgers onderhorig en onderdanig aan die regering van ‘n land, en betaal hy belastings sodat uitvoer gegee kan word aan die Grondwetlike opdragte wat ‘n regering ten laste gelê word, en om sy sosiale kontrak na te kom, naamlik om burgers in veiligheid en vrede te laat woon, hulle van infrastruktuur te voorsien en om om te sien na hulle opleidings- en mediese behoeftes.
TLU SA het tot dusver homself agteroor gebuig, selfs dikwels teen die uitdruklike sin van sy lede in , om sinvolle gesprek met die owerheid te voer, ten einde probleme en perspektiewe op ‘n opbouende en ondersteunende wyse oor te dra aan die regering. Telkens is daar bepaalde beloftes en ondernemings, waarvan met verloop van tyd geen vordering te bespeur is nie. Tans is die situasie in die land gelaai as gevolg van spanning wat veroorsaak is. Hoofsaaklik is die boer in die spervuur van hierdie toestand en word sy situasie onhoudbaar, en gaan dit outomaties voedselsekerheid vir die land en die streek in ernstige gevaar stel.
Daarom kan sekere sake eenvoudig nie meer geïgnoreer word nie, en sal daar in belang van voedselsekerheid en vreedsame naasbestaan, dringend gesprek gevoer moet word, waartydens duidelike antwoorde gekry moet word, oor die volgende aanklagte wat TLU SA teen die President van die land, sy kabinet en regerende party hierby neerlê:
- Oneerlikheid, deurdat sake verdraai word ter wille van ‘n ideologiese standpunt (Ag toggie, dié Bennie van Zyl-koeterwaals. Wat soek hy by TLU SA as hy nie van ideologiese standpunte hou nie). Soos dat die liedjie “Skiet die boere” nie werklik beteken dat boere geskiet moet word nie. Voorvalle het reeds voorgekom waar dit in ‘n plaasaanval gebruik is.
- Versuim tot optrede teen onrusstokers. Hoe lank het die ANC-staatshoof gewag voordat hy opmerkings gemaak het om opswepende liedjiesingers te betig, terwyl steeds niks daadwerkliks daaraan gedoen word nie en dit trouens nou steeds meer uitslaan, juis omdat nie opgetree word teen hulle nie?
- Ongeërgdheid van ministers deurdat afsprake wat betyds gereël en aangelê is oor belangrike kwessies, op die laaste nippertjie afgelas word. Boere het ook besige skedules waarby hulle moet aanpas, en die indruk word geskep dat die boere se standpunt eintlik nie werklik belangrik is nie. Alles is belangriker as ‘n vergadering met ‘n boer of landbou-organisasie.
- Verbreekte beloftes, oor byvoorbeeld die kommandostelsel wat afgeskaf is met die belofte van ‘n plaasvervangende struktuur. Sektorpolisiëring, waar dit wel gepoog is om ingestel te word, het klaaglik misluk, en boere word steeds aangeval, vermoor, beseer en besteel.
- Oordrewe najaag van kwotas. ‘n Ondersoek van Solidariteit het bevind dat in talle staatsdepartemente die kwotas van affirmative action alreeds oorskry is. Beteken dit dat die kwota van grondhervorming van 30% grond in swart besit teen 2014, insgelyks oorskry gaan word?
- Roekelose verklarings van ministers:
§ TLU SA eis dat elke minister wat voortaan beweer dat plaaswerkers onregmatig van plase afgesit word, dit moet staaf met bewyse van persoon, datum, tyd en plek, en saaknommer van die instansie waar die onwettigheid gerapporteer en ondersoek is, met die uitslag van die ondersoek.
§ TLU SA eis dat enige minister wat voortaan beweer dat plaaswerkers mishandel word, dit moet staaf met bewyse van persoon, datum, tyd en plek, en saaknommer van die instansie waar die onwettigheid gerapporteer en ondersoek is, met die uitslag van die ondersoek.
§ TLU SA eis dat enige minister wat voortaan beweer dat plakkerskampe ontstaan as gevolg van boere wat hulle werkers afdank, volledig statistiek moet gee van die herkoms van die plakkers, aangesien dit algemene kennis is dat plakkerskampe so vol buitelanders is as gevolg van patetiese grensbeheer, dat daar in sommige kampe nie eens Engels gepraat kan word nie, omdat die buitelanders dit nie verstaan nie.
Vermorsing van openbare fondse vir mislukte en mislukkende projekte, soos die grondhervormingsprojekte wat tans reeds ‘n beraamde mislukkingskoers van ongeveer 80% het, op koste van die belastingbetalers, en ten koste van voedselsekerheid. In die verband het TLU SA steeds geen antwoord gekry op sy eenvoudige vraag: wat is die persentasie grond wat die Regering vir grondhervorming oogmerk: 30% van die totale grond in Suid-Afrika of 30% van die landbougrond?
TLU SA is al by herhaling op rekord dat die moorde op boere, beskou word as etniese uitwissing. U stilswye word gesien as as ‘n erkenning.
- Politieke onwil om die land se infrastruktuur in stand te hou. Boere ondervind toenemend probleme om hulle produkte by markte te kry, as gevolg van die verval van die land se paaie, terwyl hulle ook voertuiglisensiegeld betaal, en hulle ook belas word deur brandstofheffings. Hulle kry daar egter niks van terug in terme van instandhouding en die mees basiese dienslewering nie.
§ Die verval van watersuiweringsaanlegte lei daartoe dat riviere en ondergrondse waterbronne sodanig besoedel word, dat dit onbruikbaar is vir landbou-gebruik. Boere lei verliese, en minder voedsel word geproduseer as gevolg van u instellings se versuim in hierdie verband.
- Die regering se versuim om aandag aan die landelike veiligheid te gee, grens aan vergrype teen die mensdom:
§ Kommando’s word onttrek, sodat boere aan hulle eie lot oorgelaat word;
§ Die bevolking, en ook die boere, word geïntimideer om hulleself te ontwapen en weerloos te laat, terwyl geharde misdadigers met onwettige wapens die land onveilig en in wese onregeerbaar maak;
§ Waar boere aansoek doen vir ‘n nuwe vuurwapenlisensie, duur dis soms selfs maande om so ‘n aansoek af te handel, wat beteken dat hy in daardie tyd weerloos bly;
§ Boere wat eie strukture met groen herkenningsligte oprig om hulleself te beskerm, word geteiken vir vervolging, terwyl hulle die wetstoepassers se bondgenote behoort te wees.
- Die Regering span saam met georganiseerde vakbonde téén die boere, deur arbeidswetgewing moeilik en in sommige gevalle onbillik te maak, en om selfs in die parlement te luister na belaglikhede soos dat boere self verantwoordelik is vir die onveiligheid op plase, en omdat boere self hulle vee steel. Is dit werklik moontlik dat sodanig verbale snert vir waarheid aanvaar kan word in die land se hoogste liggaam?
- Die regering se ongetoetste steun vir sy alliansievennoot COSATU se volgehoue en ongegronde aansprake oor die lewensomstandighede op plase.
- Die regering en COSATU se fokus op plaasbewoners eerder as plaaswerkers. Die boer as werkgewer het geen kontrak hoegenaamd met ander mense wat hetsy onder die verblyfregwetgewing of andersins op plase woon nie.
- Die feit dat die landbousektor uitgesonder word as die enigste een in die totale ekonomie waar daar van die grondeienaar verwag word om 'n 24/7 verpligting jeens sy werkers na te kom, bo en behalwe die feit dat wetgewing die grondeienaar verplig om geleidelike en groterwordende afstand van sy eiendom te doen ten einde aan verblyfregvereistes te voldoen.
Hierdie sake kan eenvoudig nie langer geïgnoreer word nie. Die boere van Suid-Afrika wil doen wat hulle kan doen en wil doen: om te boer en voedsel te produseer vir almal in die land en selfs die streek. Ja, hulle wil boer sodat ook u, meneer President, daagliks ‘n goeie maaltyd kan nuttig. Maar die hierbo genoemde sake maak dit vir die boere moeilik, selfs onmoontlik. Die boere en inwoners van die land kan net nie meer hierdie regering bekostig nie.
Hulle lojaliteit word tot die uiterste beproef, en hulle geduld ook. En wat TLU SA beleef, is afsydigheid vanaf die regering, ja, selfs vyandigheid. Daarom eis ons ‘n afspraak met u, en alle tersaaklike ministers, en verwag ons ‘n antwoord binne 14 dae vanaf datum van hierdie skrywe.
Ben Marais
President: TLU SA
Toe stamp die donkie hom weer teen dieselfde klip.
Verwag mnr. Marais, ‘n TLU SA-president wat nie alte mooi dinge oor “verregses” in ‘n Landbouweeklblad-artikel kort na sy verkiesing as president te sê gehad het nie simpatie? Of net ‘n skop op die agterent.
