Media

BEHALWE DAT DIE ONDERSKEIE KERKE DIE AFRIKANERVOLK GEFAAL HET, IS HY OOK BESIG OM DIE AFRIKANERVOLK TE VERSAAK!

altLidmate van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) kan met reg vra waarom die Veertiende Sinode van die APK, wat verlede week gehou is, nie 'n duideliker standpunt oor die Afrikanervolksmoord gestel het nie.

Die formulering, in teenstelling met die waarneming van die internasionale waarnemer Genocide Watch, wat die volksmoord op die Afrikaner as in sy voorlaaste stadiums bestempel, lui in die APK se nuusvrystelling: “Daar word met leedwese kennis geneem van die toename in geweldsmisdade, in die besonder die talle plaasaanvalle en moorde op boere in die Republiek van Suid-Afrika. Die Sinode doen ‘n beroep op die owerheid om daadwerklik op te tree in die bestryding van misdaad en die vervolging van misdadigers. Die spanning op plase wat deur arbeidsonrus veroorsaak word en toekomstige voedselsekerheid ernstig bedreig, is vir die Sinode ‘n kommerwekkend aangeleentheid. Die regering word daarop gewys dat sy grondherverdelingsprogram aanleiding gee tot onsekerhede in landbou wat voedselsekerheid ernstig kan knou en tot verdere werkloosheid kan lei.”

 

 

So 'n standpunt is nie net gebrekkig nie. Die bloedige aanslag op die voorbestaan van die Afrikanervolk verdien gewis sterker bewoording as afgesaagde mediaverwysings na sogenaamde “plaasmoorde” en “geweldsmisdaad”, woorde en verwysings wat uit die linkse Afrikaanse nuusmedia afkomstig is.

 

In die sinodebesluit word daar ook sagkens na die ANC-regime se grondroofprogram verwys as 'n “grondherverdelingsprogram”. Waarom moes die sinode hom bedien met die marxiste se dubbeltaal wanneer terreur, grondrowery en felle veldtog onder die dekmantel van haatmisdaad teen die Afrikanervolk woed?

 

Die sinode se gunstige verwysing na TLU SA se tragiese hantering van die ANC-regime se grondrowery en TLU SA sagkense hantering van die kommunistiese ANC se aanslag op die Afrikanervolk se vaderland as dat dit “onsekerhede in landbou skep wat voedselsekerheid ernstig knou en tot werkloosheid kan lei”, is hartverskeurend. Het die afgevaardigdes na die sinode enige kontak met die gewone lidmaat van die APK, nie net op die platteland nie, maar ook in die stad? As daar vollediger standpunte van die gewone afgevaardigdes na die sinode was, verneem die AVP graag daarvan sodat daar reg kan geskied aan die gevoelens wat inderdaad oor hierdie brandende sake op die sinode geheers het.

 

In die lig van al die getuienis van 'n onomkeerbaar korrupte polisiemag wat volgens amptelike reaksie van die ANC-kommissar vir die polisie self veroordeelde misdadigers in hul honderde huisves, klink die oproep van die sinode dat die regime iets “daadwerklik” aan die misdaad doen bisar. Gee 'n bietjie raad, geagte APK-sinode, wat sou hierdie daadwerklike optrede behels? As u u aan 'n mening wil waag moet u minstens raad aan die hand kan doen? Sou 'n waarheid- en werklikheidsgetrouer standpunt nie wees dat die APK-sinode kennis geneem het van die feit dat politieke geweld in die land wat ook as gewone misdaad maskereer en waaraan die ANC-regime en sy sogenaamde polisiediens 'n belangrike aandeel het, deel is van die sogenaamde Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) en dat die vernaamste dryfkrag agter die NDR die land se grondwet is en dat in die lig van hierdie benarde toestand die sinode hom in 'n ernstige bede tot die Drie-enige God rig om die Afrikanervolk van die Bose en sy bose politieke bestel te verlos nie?

 

Dink en glo die APK-sinode werklikwaar dat 'n standpunt wat die politieke toestand in die land in 'n enigsins sagter lig stel, 'n werklike weerspieëling van die toestand is.

 

Die AVP neem ook met kommer kennis van standpunte deur die nuwe voorsitter van sinode prof. JAE Adendorff in die lyfblad van die APK, Die Boodskapper, in 'n artikel onder die opskrif, Om 'n vrye lag te hê, van noue samewerking met die veelrassige vakbond Solidariteit met die oog op die oprig van naskoolse opleiding en waarin die nie-rassige Akademia van Solidariteit in die besonder genoem word. Wat is die stand van die APK met Solidariteit, formeel en informeel?

Die AVP  rig hierdie versoek in die lig van die feit dat Die Boodskapper sy voorheen waarnemende redakteur, dr. Swanepoel nou in heeltydse hoedanigheid aangestel het. Dit was in dr. Swanepoel se vorige dienstyd verontrustend om te merk hoedat Solidariteit in artikels gereeld 'n platform gebied is om die sake en standpunte van die veelrassige vakbond te bevorder binne die kerk, wat in die lig van die oorsprong van die APK, eienaardig voorkom . Dit laat ‘n vraag ontstaan oor waarheen die APK met sy lidmate op pad is.

 

Die amptelike nuusmededeling van die sinode lui:

 

Die Veertiende Sinode van die AP Kerk het op 2 September 2013 gekonstitueer. Die volgende persone is verkies op die moderamen van die Sinode:

 

Voorsitter: Prof. JAE Adendorff; Ondervoorsitter: Prof. R Maré; Skriba: Ds. A Hough; Hulpskriba: Ds. HSW Strauss; Aktuarius: Ds. JL Schutte.

 

Daar is tans 220 plaaslike AP kerke (gemeentes) met 92 voltydse leraars en 63 Emeriti in die AP Kerk. 13 Leraars is sedert 2010 oorlede.

 

Vanjaar is die 450ste bestaansjaar van die Heidelbergse Kategismus. Die Sinode spreek dankbaarheid uit dat die Konvent van Reformatoriese kerke dit herdenk het. Tydens die broederlike gesprek by die Sinode is aandag bestee aan die gereformeerde karakter van die AP Kerk in die lig van die Heidelbergse Kategismus. Daar is besluit om die volgende Sinode te laat saamval met die 500 jarige herdenking van die Hervorming in 2017. Voorts is besluit om voortaan vierjaarliks as Sinode te vergader.

 

Die Afrikaanse Protestantse Akademie bestaan 25 jaar. Die bestaansjaar is op Sondag 1 September met ʼn luisterryke musiekfees gevier. Daar is sedert die vorige Sinode (2010) 18 studente van die Afrikaanse Protestantse Akademie gelegitimeer as predikante in die AP Kerk. Die Sinode bevestig dat al die dosente van die AP Akademie, asook die AP Akademie self, as suiwere gereformeerde instelling, aan alle akademiese, kerklike en leerstellige vereistes van die AP kerkverband voldoen. Die Sinode betuig opnuut sy dank en waardering vir die werk wat die dosente by die AP Akademie doen.

 

Versoeke is ontvang om lidmate in die buiteland te bedien, met name in Kanada, Australië en Botswana. Die AP Kerk se webblad (www.apkerk.co.za) word tans uitgebrei om doeltreffender gebruik te word vir bediening. Die AP Kerk Louis Trichardt (www.lttapkerk.co.za) het alreeds pionierswerk verrig en het die Sinode hieroor ingelig.

 

Die standpunte van die AP Kerk ten opsigte van die vertaling van Messiaanse tekste in die Ou Testament, word met die oog op die komende Afrikaanse Bybelvertaling oorweeg. Die Sinode spreek sy dank uit teenoor die Bybelgenootskap van Suid-Afrika en KABA.

 

Die Sinode verseker TLU SA van sy volgehoue ondersteuning en voorbidding. Daar word met leedwese kennis geneem van die toename in geweldsmisdade, in die besonder die talle plaasaanvalle en moorde op boere in die Republiek van Suid-Afrika. Die Sinode doen ‘n beroep op die owerheid om daadwerklik op te tree in die bestryding van misdaad en die vervolging van misdadigers. Die spanning op plase wat deur arbeidsonrus veroorsaak word en toekomstige voedselsekerheid ernstig bedreig, is vir die Sinode ‘n kommerwekkend aangeleentheid. Die regering word daarop gewys dat sy grondherverdelingsprogram aanleiding gee tot onsekerhede in landbou wat voedselsekerheid ernstig kan knou en tot verdere werkloosheid kan lei.

 

Die Sinode bedank Radio Pretoria vir die diens wat hulle lewer om leraars die geleentheid te gee om die evangelie te verkondig en op ander programme op te tree.

 

Die omvang van blanke verarming is ‘n groot bron van kommer vir die AP Kerk. Die Sinode doen ‘n ernstige oproep op diakonieë om aandag te gee aan verarming van Afrikaners.

 

Die Sinode is die Here dankbaar vir die voorsiening van materiële middele om al die verpligtinge in die kerkverband na te kom. Die Sinode het besluit dat die persentasie bydrae metode gehandhaaf word as basis vir die sinodale bydraes.

 

Die Sinode neem kennis dat die Sentrale Kerkargief ingerig is om alle dokumente en ander items met geskiedkundige waarde te kan bewaar.

 

Met dank is kennis geneem van ‘n aantal suksesvolle kampe vir die jeug. Gemeentes word opgeroep om voort te gaan om kampe te reël waar die jeug in die besonder bereik word. Die bediening van die jeug bly baie belangrik in die kerkverband.

 

Die Sinode is dankbaar dat ‘n groot getal van ons kerkjeug deelneem aan die Bybelkenniseksamen. Bybelkennis is belangrik en daar word jaarliks Bybelkenniseksamen aangebied. Daar is nie net vraestelle vir die jeug beskikbaar nie, maar ook vir volwasse lidmate.

 

Die Sinode is bekommerd daaroor dat egskeiding sosiaal aanvaarbaar geword het.

 

Die Sinode het besluit om opnuut ‘n kommissie vir Sending en Evangelisasie daar te stel. Die nuwe kommissie sal plaaslike kerke (gemeentes) help om aksies te koördineer, advies te gee oor die praktiese uitlewing daarvan en verslag te doen aan die Sinode oor die stand van sendingaksie deur die AP kerkverband.

 

Uit besorgdheid oor hulle finansiële posisie het die Sinode goedgekeur dat die subsidie van die mediese fondsbydrae aan afgetrede lede verhoog na 60%.

 

Volgens die Sinode spreek die Bybel teen homoseksualisme. Die AP Kerk aanvaar die Bybelse voorskrifte waar homoseksualisme veroordeel word. Hierdie profetiese getuienis bring die Sinode onder aandag van die hele Suid-Afrika.