In gister se Nuuskommentaar op Radio Pretoria word daar groot en loflike dinge, Bybelversies en al, oor die woord vasbyt geskryf. Ja, die luisteraar wat die nuuskommentaar hoor se patriotiese hart sal sommer 'n paar bokspringe gee en die luisteraar sal baie moontlik sy pakkie biltong, en tjekboek, nader trek. Want dié patiotiese vasbytgeselsie is om Radio Pretoria se luisteraars reg te stem vir nog 'n vasbytdag vandag op Radio Pretoria.
So is daar eergister ook aan die Boere-verkenner Danie Theron in 'n nuuskommentaar gedink, sy veelbewoë offers vir volk en vaderland in die Tweede Vryheidsoorlog. Wel, as Radio Pretoria se luisteraars nie 'n geheue het nie, dan sal dié patriotiese slenters dalk werk. As Radio Pretoria se luisteraars vergeet dat die nie-rassige, a-godsdienstige en nuwe-Suid-Afrika-omarmende Solidariteit met Willie Ziswe Spies nou die elektriese kitaar, vervaardig in vir al wat ons weet Rooi China, by dié volkseie-radiostasie slaan waar jy kan luister na Emo Adams en watter ander Kaapse klong nog.
Hierdie webwerf het in die afgelope tyd moeite gedoen om aan die leser so iets meer agter die nuuskommentaar wat daagliks deur Radio Pretoria uitgesaai word te vertel. Die afleiding na elke so 'n bespreking was dat dit vir die Afrikanervolk se vryheidstryd 'n ronde nul beteken maar alles vir die Solidariteit-beweging van Flip Buys en kie om die ANC-grondwet te maak werk. Maar voor die lesers van hierdie webwerf op vandag se nuuskommentaar vergas word, iets uit die onvermelde geskiedenis van Radio Pretoria se vasbytveldtogte. Dit is reeds bekend dat Radio Pretoria se vasbyte te doene had met die delging van Radio Pretoria se regskoste ten einde wettig uit te saai. Die ander rede was die bedryfskostes, die inkomste uit advertensies is en was net nie genoeg nie. Maar wie was die eintlike gees agter vasbyt?
Hierdie stukkie geskiedenis word vertel om die eintlike inisieerder van vasbyt, toe vasbyt nog 'n eerbare term was by elke dienspligtige en patriot van destyds, se naam in ere te bring. Daardie eer kom niemand anders toe as 'n omroeper met die naam Paul van Jaarsveld nie, die arme Paul van Jaarsveld wat met die sogenaamde tweede lewe van Radio Pretoria vergeefse pogings aangewend het om terug te keer na Radio Pretoria se mikrofoon. Dit was Paul van Jaarsveld wat, toe Radio Pretoria vasgeval het met sy bedryfs- en hofonkoste, van hom eintlik 'n oorlas gemaak het en die hou van vasbyte aan die gang te kry, Van Jaarsveld wat ook vir lang ure met die eerste vasbyte agter die mikrofoon gesit het.
Nou mag u vra: Maar wat was Van Jaarsveld se doodsonde? Wat het daardie omroeper gedoen wat van hom 'n ongewenste by Radio Pretoria gemaak het? Dié verhaal daaroor handel oor 'n vergadering een aand in die huis van die eerste bestuurder van Radio Pretoria, mnr. Chris Conradie, teenwoordig tydens daardie vergadering Conradie self, maar ook die eerste redakteur van Radio Pretoria mnr. Tom Cairncross. En ook mnr. Van Jaarsveld.
Waarom die vergadering?
Dit was woeste en onplesierige dae daardie vir die “stasie te velde” met dikwels sprake dat die skamele salarisse van die werkers van Radio Pretoria nie uitbetaal sou word nie. Agter die mikrofoon op Donkerhoek was ook ware vasbyters soos Anieta Armand en Willem Ratte, die oë onverbiddelik gerig op volksvryheid. Ja, so hoog het die emosies in 'n stadium geloop dat 'n rebelle-bestuur onder aanvoering van oom Manie Maritz, seun van die beroemde Boere-generaal, gekies is, die pop van die magte agter die skerms, Mossie van den Berg, wat nie die pyp kon rook nie.
Wat wou daardie geheime vergadering in Conradie se huis in Pretoria Noord doen, sou u vra. Die vergadering is byeen geroep met die gedagte daar moet afgestig of geherstig word. Of so is voorgegee. Daar is selfs 'n uwe naam geopper: Radio Visarend, na aanleinding van Radio Pretoria se oggendroep met die opening. Maar iemand het lont geruik, gewonder of van die genooides na hierdie “vertroulike vergadering” hulle op die ou einde nie maar net hoog en droog sal bevind, allerhande “probleme” met uitsaaitoesrusting en so meer sou opduik en Radio Pretoria, nou “gesuiwer” van weerbarstiges, wat houtgerus aanhou uitsaai. Dus, as daar enige rede is waarom die gedagtes vandag en more by vasbyt draai, moenie dom wees en geld aan Radio Pretoria skenk nie. Dink liefs aan die oorspronklike vasbyt teen ANC-oorname deur ons manne in uniform. En gedenk ook manne soos Paul van Jaarsveld.
Die nuuskommentaar: Die term “Vasbyt” het deel van die volksmond geword. Dit dateer uit die jare van die grensoorlog waarin dienspligtiges mekaar aangemoedig het met die immer bekende “Vasbyt, min dae!” Die term “min dae” het destyds vir ’n jong dienspligtige verskeie betekenisse gehad. Aan die begin van militêre opleiding is dae getel na die eerste 7 of 14 dae pas of verlof, wanneer troepe vir die eerste maal na hulle strawwe basiese opleiding weer met hulle geliefdes verenig sou raak.
Namate die een of twee jaar aanvanklike diensplig einde se kant toe gestaan het, het “Vasbyt, min dae!” na daardie groot dag verwys wanneer troepe uitgeklaar het en weer die vryheid van die burgerlike lewe kon begin geniet. Die Infanterieskool op Oudshoorn en verskeie ander elite-eenhede van die destydse Suid-Afrikaanse Leer het “Vasbyt” as die naam vir hulle troepe se langafstandmars van meer as 100km in die Swartberge rondom Oudshoorn met swaar bagasie en beperkte voedsel en water bronne gebruik. Tydens hierdie epiese staptog is jong leiers in die leër finaal gekeur en niemand kon ’n korporaal, luitenant of spesiale magte operateur word as hy nie daarin kon slaag om die “Vasbyt” suksesvol af te lê nie.
Die term het sodanig posgevat dat dit saam met slegs enkele ander Afrikaanse woorde en frases in die aanlyn weergawe van die English Oxford Dictionaries opgeneem is. “Vasbyt” word soos volg in die Oxford aanlyn woordeboek beskryf: “verb [no object] South African. be stoical: I am expected to vasbyt and bite back my tears. Origin: Afrikaans, literally ‘bite hard’”. Radio Pretoria het inderdaad oor ʼn tydperk van twintig jaar presies hierdie stoïsynse ingesteldheid openbaar, deur pyn en swaarkry te verduur sonder enige teken van lyding of moedeloosheid te openbaar.
In die twintig jaar van Radio Pretoria se bestaan, moes hy sy reg om uit te saai in die Pretoriase Hooggeregshof, die Hoogste Hof van Appèl, die Grondwetlike Hof, weer in die Pretoriase Hooggeregshof en uiteindelik weer in die Hoogste Hof van Appèl gaan verdedig. Op 11 Oktober vanjaar moet ons dit weer gaan doen in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria. In ses voltooide regstryde was Radio Pretoria vier maal onsuksesvol en slegs twee maal suksesvol. Die twee suksesvolle stryde was egter die belangrikes wat aan Radio Pretoria sy reg verleen het om te kon uitsaai, soos hy vandag nog doen.
Môre vind ons gereelde Vasbyt plaas. Dit is inderdaad ’n marathon waarin ons luisteraars die geleentheid kry om by te dra tot hierdie mooi Afrikanerprojek. ’n Afrikanerprojek wat vas byt met ’n duidelike wete dat die huidige landsomstandighede in baie opsigte moeilik en vyandig is, maar dat ook dit van verbygaande aard is. Dat die dae van roekelose, korrupte en vyandige regeerders inderdaad getel is, is dikwels moeilik om te glo, veral wanneer dit moeilik gaan. Maar as gelowiges weet ons dat dit inderdaad die geval is. God gee altyd uitkoms op sy tyd. Hy bepaal die dae van konings, heersers en volke. Ook die tye van die bestaande politieke orde is reeds bepaal en vasgestel.
En ons opdrag: om saam met Radio Pretoria en ander Afrikanerinstellings vas te byt. Om selfs moeilike omstandighede te verduur, sonder om ’n teken van pyn of moedeloosheid te openbaar en wie weet, die dae na nuutgeskepte vryheid is dalk baie minder as wat ons dikwels dink.
