Media

6 SEPTEMBER,DIE SWARTSTE DAG IN DIE AFRIKANERVOLK SE GESKIEDENIS

altUit die donker van die gebeurtenis van 6 September 1966, skyn die lig van Verwoerd se nalatenskap wat die pad na vryheid vir die Afrikaner helder belig. Laat ons onbevrees daarop bly wandel!

Dit was op hierdie dag 47 jaar gelede dat die positiewe vooruitgang van Blank Suid Afrika tot stilstand geruk is deur die dolksteek van Dimitri Tsafendas in die hart van dr. H F Verwoerd, wat ook die hart van die beskawing in Suid Afrika was.

Op 9 April 1960 word die eerste sluipmoordaanslag op dr. Verwoerd uitgevoer deur ‘n bekende in landboukringe, David Beresford Pratt, wat hom skiet by die Randse Paasskou in Milner Park, Johannesburg. Twee keer met 'n .22 pistool in die gesig, waarvan een koeël sy oor tref en die ander sy wang en verhemelte. Pratt wat ‘n pasiënt van die Joodse selferkende Kommunis, dr. Solly Cohen was, het aan epilepsie gely en het selfmoord gepleeg voordat hy verhoor is. Tsafendas, wat ook ‘n pasiënt van die selfde dr. Cohen was, slaag egter ses jaar later deur dr. Verwoerd in sy parlementêre bank te dood.

 

Die AVP roep hierdie dag in herinnering vir twee spesifieke redes. Die eerste is dat Afrikaners nie moet vergeet tot watter hoogtes dr. Verwoerd die Afrikanervolk gelei het langs die beleid wat geanker was in die beginsel van afsonderlike ontwikkeling nie en die tweede om die klem te lê op die feit dat dit ‘n beplande internasionale sluipmoord was met ‘n politieke motief, in teenstelling met alles wat tot die teendeel aangevoer word.

Dr. Verwoerd se politieke insig wat ondersteun is deur sy intellek, was gevorm deur die stryd van die Afrikanervolk teen magte wat in getalle, toerusting en geskiedenis, onvergelyklike voordeel bo Suid Afrika gehad het. Koersvaste, gelowige en volksgebonde leiers wat hom voorafgegaan het, het die fondasie gelê waarop hy met vrug voortgebou het en Suid Afrika tot hoë hoogtes gevoer het. Die bedenklike pogings om hom as die “Vader van apartheid” , met negatiewe konnotasie, te brandmerk, is net so veragtelik as die wyse waarop die ondersoek na die sluipmoord hanteer is.

Dr. Hendrik Frensch Verwoerd se edele en opregte motief in die toepassing van beleid teenoor alle volke in Suid Afrika, kan elders op die webblad van die AVP gelees word. Terwille van die waarheid, maar ook terwille van die waarde van sy toegepaste beleid wat nou sonder erkenning oral in die wêreld inslag begin vind, is dit belangrik dat Afrikaners hulle sal vergewis van die feite, enersyds om sy naam skoon te hou en andersyds as riglyn vir die voortsetting daarvan vir vreedsame naasbestaan van verskillende volke, elk in beheer van sy eie grondgebied waar hy volgens sy eie aard en behoefte oor homself kan regeer.

Uit die donker van die gebeurtenis van 6 September 1966, skyn die lig van Verwoerd se nalatenskap wat die pad na vryheid vir die Afrikaner helder belig. Laat ons onbevrees daarop bly wandel!